KERSVADER/HEMELSE VADER

Nog amper net 40 dae en Kersvader moet weer sy sakke kom aflaai vol bestellings.

Al die aardse bestellings, van klein na groot. Almal begin nou al in opwinding die lyste maak of om dit te begin uitvoer.

Ons raak al so besig met die aardse goed,  dat ons vergeet van ons Koning, Wie se geboortedag amper hier is.

‘n Babatjie, gebore in ‘n stal. Om weer te sterf in my plek.

Met hoeveel dankbaarheid lewe ek? Sien ek al die dinge raak waaroor ek moet jubel en juig? Of kyk ek vas teen die sukkel bestaan van die lewe, teen verraad,  teen haat, teen moord, teen ‘n liefdelose lewe, ek kan aanhou, daar is nog baie.

Al hoe ek deur die trauma van die lewensdae kan gaan,  is om op my knieë te bly.

Om elke dag wakker te word met ‘n lied in my hart. Die mooi van die dag raak te sien en te weet HY is in beheer.

Dat niks wat deur die dag moeilik sal wees nie, want HY is daar om my hand vas te hou of om my te dra, wanneer my voete vassteek. Wanneer my geloof in myself verdwyn.

Om vanaand in die bed aan die slaap te raak met ‘n glimlag op my gesig, want ek het in die dag my fokus verplaas van negatief na positief.  Met ‘n rustigheid om te weet HY was daar, al kan ek HOM nie sien nie. HY is deel van my lewe.

En geen aardse bestelling vir Kersvader kan by HOM kom nie!!

Aardse goed vergaan mettertyd,  maar my KONING bly leef.

LEEF DIE SEISOENE

Lente, lente, lente,  ek dink ons het ‘n seisoen gemis.

Want ewe skielik is dit somer.

Die swaeltjies is hier…..hulle is besig om weer hul huisies reg te begin maak.

Hulle gaan weg, en kom weer terug as die tyd reg is.

Kan ons dit van onsself ook sê?  Elkeen van ons het een of ander al in ons lewens ‘n besluit gemaak om te verander of van werk of van huis of (dalk)  moet ek dit nie noem nie, maar van familie ook.

Jy het genoeg van jou man/vrou gehad en ander weivelde gaan soek of jou maat verloor aan die dood.

As jy die verandering gedoen het, keer jy nie terug na die ou pad nie. 

Nee jy bly net op die nuwe een, of jy sukkel in die begin en eers na ‘n lang ruk dink jy het jouself in die voet geskiet met jou besluit, maar tog hou jy nog steeds aan met stap vorentoe.

Baie keer nadat ‘n mens in ‘n situasie was, dink jy eers daarna, moes jy dit nie anders hanteer het nie.

Mense wat ek voor respek het, en ‘n plek in my lewe het, sal my verskoning dan aanhoor, of hulle dit aanvaar of nie, dit is hulle besluit. Tog loop ons nie dieselfde pad as die swaeltjies nie.  Hulle lyk so opgewonde om weer alles wat bekend is, weer om hulle te voel en te ervaar.

Ons kyk eerder ander pad, en ons harte het op ‘n manier daardie huppel verloor. 

Iemand het Vrydag oor die radio gepraat oor kommunikasie, ons weet nie wat in ‘n ander persoon se kop aan gaan nie.

Ons moet ons ophou verbeel wat hulle dink. Sonder ‘n gesprek weet ek nie hoekom tree jy op soos jy optree nie. Doen jy dit uit wanhoop, of woede, of bitterheid, of alleenheid, of verwerping, of voel jy net jy hoef dit met niemand te bespreek nie of het jy net besluit ek is nie meer lus om te wees wie almal dink ek is nie. Dit is jou besigheid en geen mens het ‘n antwoord daarop nie, want hy/sy loop nie in jou spore nie.

Maar as gevolg van jou onttrekking en jou stilte, voel die mense na aan jou dat hulle jou seer gemaak het, want hoekom bespreek jy dit nie. 

Hierdie jaar het mense op my pad gekom, sonder dat ek eers gedink het hulle sou uitreik na my.

Hulle het elkeen op hulle manier verstaan waardeur ek gaan. Ek hoef nie eers my hart uit te gepraat het nie. Dit was of hulle dwarsdeur my kop en hart kon kyk, en net met ‘n druk of oogkontak of ‘n glimlag woorde kon wissel.

Partykeer kan ‘n mens in stilte ook daar wees, en partykeer is dit baie meer werd as woorde.

Ek dink dit is hoekom ‘n persoon se empatie wat blind of doof is anders is.

Want net met gebare of gevoel kan jy jou uitdruk. 

Dieselfde kan ek sê van iemand se  “body language”. Dit is iets wat jou laat vou soos nou.

Geen woord kan gespreek word nie, maar net die houding kan jou laat uitmekaar val. Jou minderwaardig laat voel en jou selfbeeld ‘n knou gee.

Soos watter een van almal hierbo is jy, om jouself te onttrek, of laat jy toe dat jou “body language” mense vou of laat jou besluite en keuse die mens word wie jy is.  Daarmee mis ons elkeen ook vir lente, ons gaan sommer dadelik na somer toe.

Want die antwoord is: om oop te maak en jou binneste te deel met iemand wat jou binneste ken of met ons Vader wat jou geskep het.  By elkeen van bogenoemde gaan jy ‘n ander antwoord kry of jy gaan moet wag om op Sy tyd jou antwoord te kry.

Ek weet hoe dit voel om jare te wag vir ‘n antwoord. Dit dryf jou teen die dak uit. Die mense wat weet gee soveel antwoorde maar al die blokkies van die legkaart sukkel om in te pas. Die hoekies bly uit pas, krom en skewe kante wil nie pas nie. Die wat weet swyg soos die graf. Dit vat aan my hart.

Dan wens ek ek is soos ‘n swaeltjie. Jy bly hier vir ‘n ruk, pak nie eers jou goed op een oggend nie. Nee, jy vat jou vlerke en vlieg net weg. Al wat jy agter laat is grond op iemand se voorstoep met jou leë nes as bewys dat jy wel daar was die somer. Hoe verder jy vlieg hoe ligter word jou gemoed.

Volgende jaar kom jy weer terug na jou ou bestemming waar daar mense is wat bly is om jou weer te sien of ander wat jou nes stukkend geslaan het in jou afwesigheid. Ten minste weet jy waar jy staan met hulle. 

Partykeer sluit jy jouself so erg toe dat jy nie eers die somer sien nie, jy leef dwarsdeur die ander seisoene, voor jy jou kon kry is dit weer lente. Antwoorde is nog steeds ‘n blanko lyn. Daar staan net vraagtekens met hartseer gesiggies.

Die slim mense sê deel met dit,  sit die agter jou en gaan aan. Immigreer bietjie na ‘n ander land toe.

Daar is ook water en kos en ‘n plek om ‘n tuiste weer te vind. Maar die hoofsaak van alles is, jou verlede stap ‘n pad saam met jou. Daardie legkaart wat se stukke nie wil pas nie, se antwoord is nie omdat jy dom is nie, of daar stukkies kort nie,  dit is net nog nie die regte tyd dat die legkaart inmekaar moet skuif nie.

Geniet jou rit as ‘n swaeltjie, vlieg, sien die wye wêreld, deur jou oë en deur ander se oë. Behou die goeie, gooi die sleg weg. Maklik gesê nè. Na ‘n ruk sal jy weer oppad terug wees na alles wat bekend vir jou is.  Tyd heel alles. Leef Lente, Leef Somer, Leef Herfs en Leef Winter, Leef die volle jy uit elke minuut van die dag. Sprei jou vlerke swaeltjiekind.

DROOM MAN

Ek was ook lank gelede ‘n klein dogtertjie, en elke klein dogtertjie droom oor haar droom man of Ridder op ‘n wit perd. Daardie een persoon wat niemand sien kom het nie. Soos die jare verby gaan en ek groter geword  het – bly daardie droom by my. Ek kon hom so mooi beskryf in my dagboek.

Punt vir punt. Net daar in my dagboek kry hy lewe. Word hy volwaardig mens, maar in die werklike lewe bly hy op die horison. Ek kon myle loop en hy kom nie nader nie.

Einde laaste het ek my hart gegee aan die een waarvan almal gehou het. Almal om jou, het al voor die kansel gestaan of was op pad daar heen. So het baie jare verby gegaan en my binnekant kon nie meer saam met my buite kant lag nie. My dagboek is al wat die hele tyd ‘n hegte pad gestap het saam met my. Dit is al waarin my ridder nog voort geleef.

Na die skeiding, het ek meer tyd gemaak om alles in my lewe en van my hart op die bladsye van my dagboek vas te gevang het. Daar het intussen baie ander karakters ook hul plek in my dagboek gevind. Rooikappie en die wolf, Scar van Lion KIng, Die dapper muis, Aaklige heks van Sneeuwitjie, die Goeie Feë, maar my dagboek het nie vorm gekry nie. Dan net soos Aspoestertjie die skoen moes aan pas saam met 100de vrouens, kry ek op ‘n onbeplande dag ‘n skoen wat ek moet aan pas, en hy pas of dit spesiaal vir my gemaak was. Staan daardie Ridder op sy wit perd voor my. Is al die ink in my pen opgeskryf want die storie gaan nou geskryf word in die regtig lewe.

Ons het elkeen ons eie beskrywing van ‘n droom man. Soos die jare gestap het van ‘n klein dogtertjie tot nou het my opinie oor ‘n droom man baie verander.

‘n Droom man het verander in my sielsgenoot. Daardie een persoon wat jare gelede al op my pad gesit is, die ink in my pen moes net opgedroog het, voor ek hom kon ontmoet het.

Jy is daardie een mens wat net deur na my te kyk, te weet ek is aan die stry met iets binne my of ek bars uit my nate van geluk. Wat met jou oogkontak alles kan sê wat nie in woorde nie hoef nie. Wie my hand vat en oor die moeilike klippe help. Wie saam met my lag. Wie my kan verras met ‘n bos blomme uit die tuin/veld. Jy beleef my met al my nonsens. Jy luister as ek my drome met jou deel, jy dink nie ek is deur die weer om te dink soos ek dink nie. Jy word een met my. Jy maak van my ‘n beter mens. Jy maak my toe in jou arms elke nag, daar waar ek veilig voel en soos ‘n klip kan slaap.

Saam word jy en ek ‘n ONS. Jy het laat in my lewe gekom, ek kan nie belowe dat ek daar sal wees vir die res van jou lewe nie. Maar ek sal jou lief hê tot aan die einde van my lewe.

Saam sal ONS alles aanpak. Saam sal ons ons liefde gee soos ‘n kraan wat oop is aan ieder en elk wat dit benodig. Diep diep uit ons binneste. Want saam is ons ‘n wenner.

Ek, as ‘n ouma kan my kleindogters leer dat Ridder’s op wit perde nie altyd is soos hulle lyk nie. 

Dit is eerder Sielsgenote, waarna julle moet soek.  Met net ’n oogkontak kan jou hart gallop.

My liefste kind soek daardie hart klop. Daar waar ‘n ONS is, sal jy hom vind.

Liefde Ouma

SPROKIE

So kom die dag … daardie een vir wat jy so lank gewag het, maar nie tyd of datum van geken het nie!

Jy staan voor die deur en hy gaan van self oop, sonder geweld, sonder ‘n sleutel. Amper soos die sprokies sin. Of die feë dit met haar towerstaf oop tik.  Voor jou gaan ‘n splinternuwe wêreld oop. Een van soveel skoonheid, asof dit nog nooit oopgemaak gewees het vir die “real world”.  Lyk of alles lewe, of alles juig van blydskap so ver jy loop. Of alles jou verwelkom met soveel liefde, vreugde en vrede. Jy voel op so ‘n “high”.  Met ongeloof loop jy al verder, want dis ‘n wêreld wat jy nie ken.

Dis of Aspoestertjie se verhaal voor jou afspeel.  Altyd tevrede gewees om almal te “please”. Om hard te werk en stelselmatig van jouself te vergeet. Dan jouself te sien in ‘n beeld soos ‘n spieël. Hoe al die seer en sleg van jou afval en vervang word met die mooi. Dat vrede en liefde die plek in neem en vir die eerste keer in ‘n lang tyd sien jy jouself soos ander jou sien wat baie naby saam met jou lewe. Die beeld wat ingekleur is nou, wat warmte en geluk uitstraal.

Agter jou is die GROOT – ongelooflike GROOT deur besig om toe te gaan.

Jy weet met ‘n lied in jou hart dat jou sprokie ‘n werklikheid geword het.

My Storie

In die Finesse-tydskrif het Linda Krause-Wiid, gevra vir vrouens om stories in te stuur oor hulle lewens, sy gaan ‘n storieboek publiseer, ek het hierdie stuk geskryf vir daardie hoofstuk in haar boek, maar daar was nie genoeg stories om ‘n boek te publiseer die keer nie.

Op 8 April 2006 het ek ‘n splinternuwe tyd vlak binne gestap. Ek was weer lus vir die lewe na ‘n egskeiding en ‘n rowwe pad.  Ek het ‘n nuwe werk aanvaar wat ek moes leer soos die Gr 1’tjies.  Om elke dag te kon opstaan en positief voel oor die lewe was elke dag ‘n BONUS.

15 Augustus 2006, is my mat onder my voete uitgeruk. Ek was vol lewensvreugde elke dag tot daardie dag.  ‘n Groot motorongeluk het my vir 6 maande op ‘n hospitaalbed vas gekluister.  Dit was my bed, my toilet, my gym , my bad en etenstafel.  Al was my bed tot op hoogste opgelig, kon ek net die Vodacom Toring by Bloemfontein se Waterfront sien. 

Terwyl ek vas gespalk was op my bed, moes ek alles waarneem en beleef.  In elke saal het mense gelê soos ek en jy.  Elkeen was om ‘n ander rede daar.  Almal se storie het my hart geraak.

Ek het besef dat pyn en seer, het nie ‘n “label” nie.  Dit tref ons almal. Oud, jonk, pienk en pers, ryk of arm. Dit laat ‘n letsel op elkeen van ons.

Baie keer het ek gewonder oor hoekom moes ek daar beland. My sig het verander.  My lyf was vergruis. My pelvis, bekken en heup was daarmee heen.  Dr se woorde van hy weet nie of ek ooit weer sal kan loop nie, het my geruk.  Sy woorde het alles in my laat vries.  Laat ophou asem haal.  Jy dink, maar registreer nie. Baie dinge het deur my gespoel. Hoe gaan ek weer ‘n Alta wees.  Normaal aangaan met my lewe. Al die hoekom ’s en waarom ’s het deur my gehardloop. My been was daarmee heen.  Ek moes dink oor hoe my lewe gaan verander.  Baie dinge moes ek opgee.  Nagte deur gehuil. Eensaamheid het in my binnekant begin nes maak.

Daar in die Rehab in Bloemfontein het ons Vader my mooi geleer oor die lewe. Dit is nie altyd wat jy het wat saak maak nie.  Dit is nie wie jy is nie.  Nee, dit is dinge wat gebeur wat jou beproef. Gaan jy staande bly in jou geloof of gaan jy die Satan najaag om jou lewe te herstel.

Daar het die Here my hand gevat en so op die bed my stadig maar seker na herstel gelei. Ek was vasgevang met die pyn, seer en verwerping wat mense om my gevoel het. Vanaf my bed het ek probeer om te luister, om mense te laat lag, om net daar te wees.

Wonderwerke het voor my afgespeel. Dit was soos om ‘n storieboek te lees.

Ek dink as die Here my nie gehelp het deur al my dae wat ek nie wou aangaan nie, sou ek vandag ‘n ander mens gewees het.

Deur ander se pyn en seer het Hy my geleer wat geduld en empatie is. Om elke dag ten volle te leef, want more is dit dalk te laat.

Om te kan huil as ander gehuil het. Om daardie opgewondenheid te beleef as iemand ‘n goeie dag met die fisio gehad het. Om saam te kon bid. Geen mens kan voel soos jy voel op daardie oomblik nie. Geen mens kan jou keuse maak vir jou nie. Alles kon net jy, jouself doen.

Hier waar ek vandag is, is net genade van Hom. Hy het my deur ‘n leerskool gesit waar ek van myself moes vergeet en almal om my die reënboog  wys na hul woeste storms.

Party keer moet ‘n mens weer klein word. Jy moet weer glo soos ‘n kind.

As die lewe jou gooi, 1 maand in Hoë Sorg Eenheid, 5 maande in Rehab, weet jy dat jou tweede kans in die lewe van Bo gekom het. Dat Hy nog baie planne met my lewe het.

Met geloof in Hom en geloof in myself het ek weer aangegaan met my lewe.

Net anders as gevolg van my beserings, al die uitdagings positief aanvaar en lag sal ek aanhou lag. Die beproewing was alles die moeite werd.

My dankbaarheid loop oor soos water oor ‘n dam se wal.

Dankie Heer vir 2de kanse,  my tweede kans.

ONS, EK EN JY

Is verbasend hoe party mense met so ‘n “moeggebore” uitdrukking op hulle gesigte rondloop. Die lewe is net eenvoudig te veel. Hulle kan nie meer so voortgaan nie, die lewe is een pynigende hel op aarde.

Nee, ek praat nie oor mense wat werklike traumas moes deur gaan nie, of terminaal siek is, of dierbares aan die dood moes afstaan of weens die resessie al hul besittings en drome verloor het nie.

Ek praat van mense wat sonder rede kla, sonder rede kortaf en ongemanierd is, wat mense as ‘n reël afjak, verneder en verkleineer. Wat met alles ontevrede is, wat niks moois en goeds in ander of in die lewe raaksien nie

Geen wonder hulle is sielsmoeg in die aand nie. Dit sal my ook tap van energie en positiwiteit.

Vandag, meer as ooit tevore, besef ek hoe belangrik dit is om jou te omring met die regte mense. Nie die met geld, aansien of glorie nie, maar die wat jou motiveer, inspireer en opbou. Iemand met ‘n sagte mond, ‘n sagte hand en ‘n sagte hart.

Mens hoor so gereeld van mense wat selfmoord pleeg en dan is daar altyd ‘n stemmetjie vir my of daar nie dalk iemand was wat daardie persoon so seergemaak het, afgeknou of selfs ‘n lelike woord toegesnou het nie. Was daardie woorde dalk die laaste woorde wat iemand met hom/haar gepraat het? Kon ‘n sagter woord, hand of hart nie die persoon se lewe gered het nie?

Party mense is sommer net pleinweg onbeskof. Skuil agter die “ek is maar net reguit” verskoning. Nonsens. Wie wil so leef? Om heel tyd aanmerkings en opmerkings te maak wat ander mense afsit, selfs diep seermaak. Ek glo vas dat dit mense met ‘n lae selfbeeld is, wat dit aan ander doen. Hulle voel beter as hulle mense kan aftrek in plaas van opbou.

Die mense met wie ek my dag deel kom van oral, ryk, arm, mooi, minder mooi, mans, vrouens, kinders en student. Slim mense en minder slim mense, pienk, geel en persmense. Mense met skoon verledes en mense met kolle. Oumense en jongmense, Siek mense, gesonde mense, maer mense en rondetjies soos ek.

Hulle het almal ‘n paar dinge in gemeen. Hulle leef. Hulle haal nie net asem nie. Hulle laat mense rondom hulle hulself uitleef. Hulle bou op, help op en kyk op. Hulle het hoop, visie, liefde deernis en begrip. Vir ander…maar ook vir hulleself.

Ons lewe in tye waar hoop aan die verdwyn is. Waar gemoedelikheid plek maak vir stres en mondhoeke wat afwaarts neig. Jou bure is vreemd, jou familie sien jy skaars en jou gesin is gelukkig as julle nog saam om die etenstafel verkeer. Die mure rondom jou huis en hart is so hoog dat jy jouself nie eers meer herken nie.

Ek glo vas aan die beginsel dat as jy goed doen (sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen) aan ander, dit weer terugkom na jou toe. Boonop is dit vir my die lekkerste gevoel om te weet ek het vandag ‘n sagte woord gehad vir iemand wat dit nodig gehad het. ‘n Sagte hand waar iemand seer/swaar kry. Begrip vir ander se probleme en sienings sonder om dit af te skiet.

‘n Mens hoef nie met alles in die lewe saam te stem nie. Dit is ook jou reg om te verskil. Die kuns lê daarin om dit op die regte manier te doen. Watter hartseer of kwaad steek jy weg agter die woorde waarmee jy ander kwes. Vir my is emosionele mishandeling net so erg as fisiese mishandeling. Soms erger. Wonde genees… harte nie altydso maklik nie. Sommiges nooit weer nie.

As jy vanaand jou tande borsel en jy kyk na jouself in die spiel, wat sien jy? Kan jy met ‘n opregte hart erken jy het vandag voluit geleef? Sonder om ander af te kraak, lelik te wees en mense se eergevoelens aan te tas.

Indien jy nee moet sê…ondersoek bietjie jou hart. Haal dit uit en skrop al die kwaad, angs en liefdeloosheid af. Smeer dit met olie van liefde, geloof en hoop. Geur dit met begrip, deernis en verdraagsaamheid en omgee.

Ek het groot geword met die volgende woorde: Dit is nie wat jy sê wat seer maak nie, dit is hoe jy dit sê.

Ek is dankbaar vir die sonneblom mense in my lewe. Hulle leer my om my gesig na die son te draai.

Sonskyngroete vir jou!

‘n SONSTRAAL

Jare gelede toe ek in die Rehab-hospital was na my ongeluk, het ek baie mense ontmoet. Elkeen was daar om verskillende redes. Party as gevolg van hulle self, ander as gevolg van mense saam met wie hulle was.

Elkeen se storie was anders. ‘n Motorongeluk, beroerte, virus wat jou lyf aangeval het, selfmoord, rugby besering of verdrinking.

Almal het vrese gehad. Wat gaan van my word? My normale lewe is daarmee heen. Alles sal moet verander. My huis, my leefstyl, my sport, my vervoer. Die lys kan aan gaan en aan gaan. Jou mense wat eens lief was vir jou, was besig om te onttrek. Jy het baie besluite gehad om te maak. Watter besluit sou die regte een wees?

Vandag is die hele wêreld vasgevang in vrese. Almal wag in afwagting op nuus elke dag. Nuus wat almal raak. Hierdie Covid-19 virus bring die mooi uit van sekere mense. Op “sy” manier laat “hy” mense mekaar weer waardeer en weer tyd maak vir mekaar.

Jy waardeer wat jy het naamlik gesondheid. Vir die eerste keer in jare besef jy dalk hoeveel seëninge jy het.

Seëninge soos familie, gesondheid, dak oor jou kop, ‘n bed om in te slaap en kos om te eet, om mekaar te geniet. Om op die positiewe te konsentreer. Om die lewe te vat en elke oomblik te geniet saam met al jou geliefdes. Om ten volle te lewe.

Die “lock-down” is ‘n straf vir party en ‘n “blessing” vir ander.

God ken jou binneste in en uit. Hy weet wat jy kort om weer ‘n heel mens te word.

Vir die wat dit soos ‘n straf voel, is julle dalk nog in daardie zone, waar julle besef dat julle nie net vir julle self leef nie, dat ons ‘n Sonstraal vir ander moet wees. Vir die wat dit ‘n “blessing” is, julle besef dat Jesus roep julle vir ‘n Sonstraal.

Om die bitter van die lewe te verdof met ‘n Sonstraal.

Luister na die lied van Min Shaw – Jesus roep my vir ‘n Sontraal.

Dankie vir almal wat in hierdie vreesbevange tyd ‘n Sontraal is vir sy/haar medemens – dit kan familie/onbekendes wees.

Gryp hierdie “lock-down” tyd aan deur jou Sontrale uit te straal. Leef vir elke sekonde van die dag. Deel jou liefde uit. Vat hande en bid seëninge oor almal.

ONBEKENDE V BEKENDE

Die seisoen het gedraai. Herfs is hier. Almal begin hul reg maak vir winter.

In die diere-wêreld is dit kos bymekaar maak tyd. In ons mense-wêreld dink ek is almal se gedagtes en lewens besig met die Covid 19 virus.

Dit wys ‘n mens net weer: ‘n virus onbekend, stap sy pad oor die hele aardbol. Dit is nie net beperk op een kontinent nie. Niemand het beheer daaroor nie. Dit jaag net vrese op by mense. Deur dit alles is daar nogsteeds haat/konflik/betogings en moord. Hande vat tussen families om vrede te herstel bly nogsteeds op die agtergrond. Party dink seker daar sal nog tyd wees, of die virus sal beheerbaar raak dan is versoening nie meer nodig nie.

Hierdie trauma wat mense deurgaan is ‘n pad wat elkeen self stap. Weereens was niemand gerat vir die uitbreek van so ‘n virus nie.

Almal het hulle beplanning al tot diep in die jaar 2020 beplan. Hulle het datums gehad waarop sekere dinge moes gebeur.

Soos 29 Februarie, net elke vier jaar het ons 29 dae in die maand. Hoekom moet jy wag tot op daardie dag, eenkeer in 4 jaar om iemand te vra om te trou. Wat maak daardie een dag ‘n verskil in liefde. Elke dag is ‘n dag gebou op liefde, of behoort te wees. Glo jy dalk net aan die miete dat op daardie dag MAG ‘n vrou dit doen.

Dan hoop ek dat die tye vorentoe gesaai sal wees met tonne liefde.

As ek hoor van iemand wat 102 jaar oud is wonder ek wat het hy/sy deurgemaak deur al die era’s. Hoeveel kere se mode’s het hy/sy beleef wat dieselfde was. Tegnologie het so baie verander. Hospitale en skole het nuwe baadjies aangetrek. Maar daar is net een ding wat presies dieselfde gebly het, naamlik die BYBEL. As jy een lees van 1902 of 2020, gaan die drukkery se datum verskil, maar die woorde binne bly presies woord vir woord dieselfde. Die Here se Woord wat jou vertel van daardie dag wat Hy terug kom aarde toe. Dit is een ding wat almal op aarde voor reg moet wees. Dit ken jy al jou lewensjare. Of jy ‘n kleuter of tiener of volwasse of pensioenaris is.

Dit is die onbekende soos die Covid-19 virus wat die planeet onderste bo gooi, wat al die mense op die hele aardbol raak, daar is geen handleiding hoe jy dit kan beveg nie.

Geloof is dus al waaraan jy kan vashou!

Dit kom met ‘n HANDLEIDING.

BUITELEWE

Buite loop ‘n mamma hen met haar splinternuwe kleinspan. Sy is so beskermend. Sy is so trots op daar die klein geel bondeltjies. Hulle moet skuil onder haar warm lyfie want die reën stort neer uit die Hemel. Mamma sit deur wind en weer en trotseer dit alles net om haar kroos veilig te hou.

Plante is oorgeplant en met ‘n hart vol vertroue, weet ek dit is die regte medisyne vir hulle. “Pula” uit die hemel gee hulle woema. My tuintjie is uitgelê, hule moet nou net hul kant bring.

Die houtkappers is besig buite. Sy klop, teen die boom kan jy ver hoor. Sy snaweltjie hou net aan en aan. Die mooiste geluid. Kap-Kap/ Tok-Tok.

Wat meer kan ‘n mens voor vra. In my kantoor se deur staan Mnr Hoenderhaan en roep om te sê ons is honger. Asseblief kom gee ons kos. Wanneer ek vir hulle kos gee, kom al die geel vinkies ook hulle stukkie soek. Almal wat vlieg en vlerke het deel met mekaar. Groot en klein.

Die wolke word al donkerder. Op party plekke val dit lekker. Weereens besef ek dat hoeveel mens en dier en voëls afhanklik is van water. In die voëlbak kom die bye en maak hulle magies vol. Die voëltjies kom drink ook water, maar dit is ‘n groot bad dag vir hulle as hulle al die stof van hulle lyfies af was.

Ek skryf vandag oor die buitelewe. Ek is bevoorreg om dit te sien elke dag.

Daar is so baie persone wat opstaan in die oggend en nie eers ‘n bytjie of voëltjie gewaar nie. Hulle wêreld bestaan uit koue geboue. Hulle huise het nie eers ‘n behoorlike tuin nie.

Dan klop my hart warm want vir my is dit WOW. Om elke dag deel van dit te wees maak my dae spesiaal. Dit vat partykeer die seer van my binnekant weg. Om gefokus te wees op die mooi, maak die sleg dag dof.

So, wat wil ek sê, wanneer die wêreld jou druk, soek na die klein dingetjies in die lewe. Gaan raak stil in ‘n mooi park as jy nie ‘n tuin het nie. Sit jou selfoon af vir daardie tydjie en neem net alles in.

Elkeen van ons skuld onsself so ‘n stilte tyd iewers in jou dag of week.

Om weer die aarde te beleef en te ruik. Beleef die buitelewe.

JOUSELF TE WEES

Wanneer ‘n mens dalk iewers by ‘n restaurant sit of langs die sportvelde,  is daar horde mense om jou,  voor jou.  Almal lyk anders.  Die tale is partykeer vreemd,  maar op hulle gesigte kan jy sien of is hulle gelukkig, hartseer of ongeduldig.  Hulle liggaamstale spreek boekdele.

Dit is vir my altyd lekker om so na mense te sit en kyk.  Almal het ‘n lewe van hulle eie.  Elkeen is op haar/sy eie  “mission”.

Party sit alleen.  Party is in ‘n  “crowd”.  Partykeer wil ek ook eerder net so alleen wees tussen baie mense,  ander kere soek ek geselskap.  Natuurlik hang dit af hoe jy binne jou voel.

Weet jy waarvan ek praat?  Terwyl jy daar sit,  speel so baie goed af in jou kop.  Is jou eie lewe deurmekaar of voel jy nie welkom nie,  wat is die rede vir daardie alleen gevoel tussen mense?

Dit is dan wanneer ‘n mens ‘n sagte hand,  ‘n sagte woord dalk kort.  Om te voel jy is tog iets werd.  Dat jou plekkie helder in die sonlig is. 

So het Hy vir elkeen ‘n maat gemaak.  Daardie een mens wat een is met jou al staan jy tussen honderde mense.  Om sonder woorde jou hartklop te kan voel en te weet dat jou binnekant juig of benoud is.  Daardie stil tye is party keer wanneer jy weet jou maat ken jou deur en deur.

Elkeen van ons is anders.  Ons reageer anders in situasies.  So maak daardie spesiale mens in jou lewe spesiaal deur net jy te wees.  Min goed tel in die lewe as om net  “genuine”  te wees.