As ek jou soms kan laat huil en dikwels kan laat lag, as ek jou met ‘n stukkie humor kan laat vergeet van mense se skerp en bitter woorde, as ek ‘n vuur in jou kan laat brand na die koue van ‘n kleurlose dag, is dit genoeg vir my.
Leer om te sien wie ‘n glimlag of ‘n gawe woord nodig het en gee dit! Leer om saam met jou vriende die humor in die lewe raak te sien en te lag. Dit maak die lewe makliker, laat jou ontspan en maak die vriendskap iets besonders!
Humor is die beste, die een eienskap wat ons red. Die oomblik wat dit na vore kom, maak ons irritasies en fyngevoeligheid plek vir ‘n glimlag.
Lag help juis om die spanning van die lewe te ontlont en om troebel verhoudings te verhelder. Die mens wat oor sy eie frustasies en swakhede kan glimlag, reageer nie net volwasse daarop nie, maar berei ook die pad voor vir die oorwinning daaroor.
Goeie humor help vir ‘n gesonde liggaam en gees. Dit is die beste teenmiddel vir spanning en depressie. Dit trek vriende aan en verlig probleme. Verder is dit die beste roete tot nederigheid en tevredenheid.
Luister gerus na mekaar se lag, julle harte sal oorvloedige blydskap ken.
Dis die beste: om saam met iemand anders te lag omdat julle dieselfde dinge snaak vind. Ons kan nie iemand waarlik lief hê tensy ons nie saam met hulle kan lag nie.