Ek het Karen Kingsbury se boek, Onder Engele-vleuels, gelees.
Dit is ‘n diep, diep boek. Dit vat aan ‘n mens en weereens het ek besef ons elkeen is hier op aarde vir ‘n rede. Jy is nie net maar gemaak deur Hom nie. Nee, Hy het groot planne vir jou.
Al volg jy jou eie weë, het Hy ‘n manier om nogsteeds Syne tot uitvoer te bring. Met al die hulp van Sy engele. Wat my die meeste getref het van die boek, is dat engele lyk soos ek en jy. Hulle het name, hulle pas ons soos goud op. Hulle staan saam teen die donker wat ons wil oorval.
Die heel laaste bladsy skryf sy ‘n baie waar stuk. “In Hebreërs 13:2 staan daar geskryf: “ Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!”
“ Vir my beteken dit dat eendag iewers het iemand vir my ‘n bemoedigende woord gegee, of gehelp in ‘n krises of vir my gebid – en net dalk was daardie persoon in werklikheid ‘n engel. Julle het die boek toegemaak en werklik besef hoe lief God julle het. Hoe Hy engele om ‘n verskeidenheid redes sal stuur om na jou om te sien. Maar hoofsaaklik omdat Hy jou liefhet. Natuurlik is die engele in hierdie storie fiktief. Maar engele is ‘n werklikheid. Het jy al ooit met ‘n engel omgegaan? Nie een van ons sal vir seker weet nie, maar dalk het die lees van hierdie reeks jou gehelp om anders na jou eie lewe te kyk. Dit is dikwels makliker om die Here in ons lewe te sien werk as ons spesifiek na Sy vingerafdrukke daarin soek. En daardeur word ons geloof ook verdiep.” – Karen Kingsbury
As ek dink aan alles wat op my pad was, moes hulle daar gewees het vir my en is hulle nogsteeds aan my sy. Watter “wow” gevoel om te weet ek is so kosbaar dat Hy en hulle 24/7 daar is. Dat ten spyte van al my foute, my nie een kant toegooi het nie, maar net stywer intrek. Nes die storie sê, “ ‘n Verhaal van hoe liefde, verlossing, die mens se doel en geloof herstel word in ‘n wêreld vol gebrokenheid en seer.”
Die boek is al lank in my kas, maar ek dink, nes dit in die storie ook staan, jy bêre iets, en môre lê dit weer daar. Dit was die regte tyd in my lewe om ONDER ENGELE-VLEUELS te lees. My te laat besef dat my tweede kans in die lewe belangrik was, dat geluk, liefde, vrede en vreugde nog lank deel van my lewe gaan wees. Ek moet stil staan en dit indrink want ek kyk teen dit vas. Ek moet die venster oop maak dat ek deel van dit kan word. Ek moet leef soos Hy dit uitlê, ek moet weet dat elke persoon wat my pad kruis, met ‘n rede daar is of was, ek moet nie twyfel oor more nie. Nee, my geloof moet so sterk wees dat daardie venster nie weer sal toegaan nie.
So doen jouself ‘n guns, lees haar boek. Ons moet verstaan dat ware liefde is, ware liefde, daar is God. Hy gee ons ‘n raamwerk van mense wat altyd daar is om ons hand vas te hou op aarde. Hy het hulle vir ‘n rede in jou lewe gebring. Gaan op jou knieë en dra elkeen van hulle op aan Hom. Noem hulle elkeen op hulle naam. As jy moet, spreek dié vry wat daardie venster in jou lewe toe hou. Vergifnis kos jou niks. Nee, dit maak jou vry!Gebede word verhoor, dit bring wonderwerke in jou lewe!
Wonderwerke soos mense, gebeurtenisse, mylpale, drome, werk, finansies, gesondheid, verhoudings, sukses, liefde. Maak daardie venster oop. Teug elke stukkie vars lug in, maak jou longe vol met dit. Dat dit deur jou are kan loop, en alles binne jou vernuwe.