GELUK… wat beteken die woord? Vrede in jou binneste?
Tonne liefde? Gesondheid? Seëninge?
Vir elkeen van ons op aarde het die woord ‘n ander betekenis.
Maar daardie betekenis is deel van ons lewe. Van ons daaglikse bestaan. Dit hou ons aan die gaan. Dit gee ons hoop. Dit gee ons krag om dit wat soos ‘n berg voel, aan te pak met alles binne ons.
Beskryf jou geluk, myne is gesondheid, familie en vriende wat my aanmekaar hou. Wat my toegooi met hulle vrede, wat my aanvaar nes ek is. My werk en my huisie waarin ek bly met al my diere kinders. Die omgewing waar ek my bevind, wat net al die mooi van die lewe uitstraal, wat my daagliks laat besef hoe klein is ek as mens. Hoe groot is ons Vader dat Hy alles geskep het in net 7 dae. Elke klein en groot wonderwerk wat hier is op aarde.
Ons nader die maand waarin ek my tweede kans gekry het in die lewe, jare gelede het my tyd gaan stil staan in Augustus, Die maand het verby gegaan met my daarin maar ‘n deel van my het gaan stilstaan in daardie tyd. Dae wat ek niks kan van onthou nie. Dae wat verby gegaan het vir my familie met al hulle bekommernisse oor my.
En dan die dae daarna wat ek nie kan beskryf hoe dit gevoel het nie. Die magteloosheid om op ‘n bed te lê en wag dat jou liggaam weer moet herstel. En net tyd en tyd alleen kon daardie herstel meebring. Dus weereens die woord GELUK… , vir my beteken dit ongelooflik baie. Al die vrede binne my, al die liefde wat ek ervaar van nuut en oud, om te kan lag, om ‘n druk uittedeel, om deel van mense te wees, om sport te kan beoefen, om te loop en praat en te kan sien. Al die klein dingetjies in die lewe, die roep van ‘n voëltjie in die oggend, ‘n nuwe roosknop, die bome wat vol blomme is maar geen blare nie, die blydskap van jou hond as jy by die huis kom. Om ‘n ouma te wees, om daardie kleine lyfie te sien groot word, om my te verstom aan haar mamma en pappa wat met so min kennis van ‘n pienkvoet daardie lyfie gevat het en haar so mooi versorg en groot maak. Om hulle oë te skien skitter as hulle oor haar praat. Die opgewondenheid in hulle stemme te hoor. Dit maak my hart vol geluk. In ons wêreld daarbuite waar daar soveel dinge aan die broei is, dink weer aan jou geluk. Moenie toelaat dat die wreedheid van alles jou geluk kom steel nie. Word stil, beleef alles wat jou hart maak klop. Wat jou laat glimlag, wat ‘n vonkel in jou oog gee, en maak vandag die beste een wat daar nog was. GELUK, maak dit joune…
Om jou Blog te lees is soos om vir asem op te kom as die lewensrivier jou meesleur, jy het n manier om raak te praat….om mee te sleur. Ek geniet elke onderwerp wat jy aanraak …jy saai met woorde….mooi loop Wapadkind….
LikeLiked by 1 person
dankie Liewe Dok xxx
LikeLike