Jare gelede toe ek in die Rehab-hospital was na my ongeluk, het ek baie mense ontmoet. Elkeen was daar om verskillende redes. Party as gevolg van hulle self, ander as gevolg van mense saam met wie hulle was.
Elkeen se storie was anders. ‘n Motorongeluk, beroerte, virus wat jou lyf aangeval het, selfmoord, rugby besering of verdrinking.
Almal het vrese gehad. Wat gaan van my word? My normale lewe is daarmee heen. Alles sal moet verander. My huis, my leefstyl, my sport, my vervoer. Die lys kan aan gaan en aan gaan. Jou mense wat eens lief was vir jou, was besig om te onttrek. Jy het baie besluite gehad om te maak. Watter besluit sou die regte een wees?
Vandag is die hele wêreld vasgevang in vrese. Almal wag in afwagting op nuus elke dag. Nuus wat almal raak. Hierdie Covid-19 virus bring die mooi uit van sekere mense. Op “sy” manier laat “hy” mense mekaar weer waardeer en weer tyd maak vir mekaar.
Jy waardeer wat jy het naamlik gesondheid. Vir die eerste keer in jare besef jy dalk hoeveel seëninge jy het.
Seëninge soos familie, gesondheid, dak oor jou kop, ‘n bed om in te slaap en kos om te eet, om mekaar te geniet. Om op die positiewe te konsentreer. Om die lewe te vat en elke oomblik te geniet saam met al jou geliefdes. Om ten volle te lewe.
Die “lock-down” is ‘n straf vir party en ‘n “blessing” vir ander.
God ken jou binneste in en uit. Hy weet wat jy kort om weer ‘n heel mens te word.
Vir die wat dit soos ‘n straf voel, is julle dalk nog in daardie zone, waar julle besef dat julle nie net vir julle self leef nie, dat ons ‘n Sonstraal vir ander moet wees. Vir die wat dit ‘n “blessing” is, julle besef dat Jesus roep julle vir ‘n Sonstraal.
Om die bitter van die lewe te verdof met ‘n Sonstraal.
Luister na die lied van Min Shaw – Jesus roep my vir ‘n Sontraal.
Dankie vir almal wat in hierdie vreesbevange tyd ‘n Sontraal is vir sy/haar medemens – dit kan familie/onbekendes wees.
Gryp hierdie “lock-down” tyd aan deur jou Sontrale uit te straal. Leef vir elke sekonde van die dag. Deel jou liefde uit. Vat hande en bid seëninge oor almal.