LEEF DIE SEISOENE

Lente, lente, lente,  ek dink ons het ‘n seisoen gemis.

Want ewe skielik is dit somer.

Die swaeltjies is hier…..hulle is besig om weer hul huisies reg te begin maak.

Hulle gaan weg, en kom weer terug as die tyd reg is.

Kan ons dit van onsself ook sê?  Elkeen van ons het een of ander al in ons lewens ‘n besluit gemaak om te verander of van werk of van huis of (dalk)  moet ek dit nie noem nie, maar van familie ook.

Jy het genoeg van jou man/vrou gehad en ander weivelde gaan soek of jou maat verloor aan die dood.

As jy die verandering gedoen het, keer jy nie terug na die ou pad nie. 

Nee jy bly net op die nuwe een, of jy sukkel in die begin en eers na ‘n lang ruk dink jy het jouself in die voet geskiet met jou besluit, maar tog hou jy nog steeds aan met stap vorentoe.

Baie keer nadat ‘n mens in ‘n situasie was, dink jy eers daarna, moes jy dit nie anders hanteer het nie.

Mense wat ek voor respek het, en ‘n plek in my lewe het, sal my verskoning dan aanhoor, of hulle dit aanvaar of nie, dit is hulle besluit. Tog loop ons nie dieselfde pad as die swaeltjies nie.  Hulle lyk so opgewonde om weer alles wat bekend is, weer om hulle te voel en te ervaar.

Ons kyk eerder ander pad, en ons harte het op ‘n manier daardie huppel verloor. 

Iemand het Vrydag oor die radio gepraat oor kommunikasie, ons weet nie wat in ‘n ander persoon se kop aan gaan nie.

Ons moet ons ophou verbeel wat hulle dink. Sonder ‘n gesprek weet ek nie hoekom tree jy op soos jy optree nie. Doen jy dit uit wanhoop, of woede, of bitterheid, of alleenheid, of verwerping, of voel jy net jy hoef dit met niemand te bespreek nie of het jy net besluit ek is nie meer lus om te wees wie almal dink ek is nie. Dit is jou besigheid en geen mens het ‘n antwoord daarop nie, want hy/sy loop nie in jou spore nie.

Maar as gevolg van jou onttrekking en jou stilte, voel die mense na aan jou dat hulle jou seer gemaak het, want hoekom bespreek jy dit nie. 

Hierdie jaar het mense op my pad gekom, sonder dat ek eers gedink het hulle sou uitreik na my.

Hulle het elkeen op hulle manier verstaan waardeur ek gaan. Ek hoef nie eers my hart uit te gepraat het nie. Dit was of hulle dwarsdeur my kop en hart kon kyk, en net met ‘n druk of oogkontak of ‘n glimlag woorde kon wissel.

Partykeer kan ‘n mens in stilte ook daar wees, en partykeer is dit baie meer werd as woorde.

Ek dink dit is hoekom ‘n persoon se empatie wat blind of doof is anders is.

Want net met gebare of gevoel kan jy jou uitdruk. 

Dieselfde kan ek sê van iemand se  “body language”. Dit is iets wat jou laat vou soos nou.

Geen woord kan gespreek word nie, maar net die houding kan jou laat uitmekaar val. Jou minderwaardig laat voel en jou selfbeeld ‘n knou gee.

Soos watter een van almal hierbo is jy, om jouself te onttrek, of laat jy toe dat jou “body language” mense vou of laat jou besluite en keuse die mens word wie jy is.  Daarmee mis ons elkeen ook vir lente, ons gaan sommer dadelik na somer toe.

Want die antwoord is: om oop te maak en jou binneste te deel met iemand wat jou binneste ken of met ons Vader wat jou geskep het.  By elkeen van bogenoemde gaan jy ‘n ander antwoord kry of jy gaan moet wag om op Sy tyd jou antwoord te kry.

Ek weet hoe dit voel om jare te wag vir ‘n antwoord. Dit dryf jou teen die dak uit. Die mense wat weet gee soveel antwoorde maar al die blokkies van die legkaart sukkel om in te pas. Die hoekies bly uit pas, krom en skewe kante wil nie pas nie. Die wat weet swyg soos die graf. Dit vat aan my hart.

Dan wens ek ek is soos ‘n swaeltjie. Jy bly hier vir ‘n ruk, pak nie eers jou goed op een oggend nie. Nee, jy vat jou vlerke en vlieg net weg. Al wat jy agter laat is grond op iemand se voorstoep met jou leë nes as bewys dat jy wel daar was die somer. Hoe verder jy vlieg hoe ligter word jou gemoed.

Volgende jaar kom jy weer terug na jou ou bestemming waar daar mense is wat bly is om jou weer te sien of ander wat jou nes stukkend geslaan het in jou afwesigheid. Ten minste weet jy waar jy staan met hulle. 

Partykeer sluit jy jouself so erg toe dat jy nie eers die somer sien nie, jy leef dwarsdeur die ander seisoene, voor jy jou kon kry is dit weer lente. Antwoorde is nog steeds ‘n blanko lyn. Daar staan net vraagtekens met hartseer gesiggies.

Die slim mense sê deel met dit,  sit die agter jou en gaan aan. Immigreer bietjie na ‘n ander land toe.

Daar is ook water en kos en ‘n plek om ‘n tuiste weer te vind. Maar die hoofsaak van alles is, jou verlede stap ‘n pad saam met jou. Daardie legkaart wat se stukke nie wil pas nie, se antwoord is nie omdat jy dom is nie, of daar stukkies kort nie,  dit is net nog nie die regte tyd dat die legkaart inmekaar moet skuif nie.

Geniet jou rit as ‘n swaeltjie, vlieg, sien die wye wêreld, deur jou oë en deur ander se oë. Behou die goeie, gooi die sleg weg. Maklik gesê nè. Na ‘n ruk sal jy weer oppad terug wees na alles wat bekend vir jou is.  Tyd heel alles. Leef Lente, Leef Somer, Leef Herfs en Leef Winter, Leef die volle jy uit elke minuut van die dag. Sprei jou vlerke swaeltjiekind.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s