Gisteraand gaan tel ek gou my hoendertjies in die hok, want toe dit donker word was ek nie daar om hulle te bêre nie. Donkerte het klaar gekom so ek gaan nie een kry as daar kort nie, want hy het gaan wegkruip. Ek gaan die hok binne, my groottes sit almal op die stokke mooi langs mekaar.
My kuikens sit warm onder mekaar se vlerke ingekruip. My moeder hen wat vier babas het sit op die grond, met al vier haar kroos diep binne haar vlerke, snoesig warm en beskermend. Moederliefde in hoofletters.
Dit is moederliefde in ons diere lewe. Daardie mamma se trots om haar kroos veilig te hou en te beskerm is baie sterk. Sy sal haar lewe opoffer vir haar kinders.
Moederliefde is ‘n woord met baie betekenisse. Dit is ‘n rol wat God ons gekies het om te speel.
Kinders is ‘n gawe van God, hulle is ons geskenke van Hom.
Ek as moeder moet hulle versorg, omgee, ek moet hulle help in hulle behoeftes, elke dag van elke maand en jaar. Ek moet betrokke by hulle wees. Ek moet help met hulle onderrig, hulle opleiding, ek as mamma moet kan dissipline toe pas. Ek moet hulle aanvaar en onvoorwaardelik lief hê. Ek moet vir hulle deur my gedrag wys hoe om te lewe. Soos kinders groter word verander hulle, maar ek as moeder, se liefde en omgee moet altyd dieselfde bly.
Of daardie lyfies klein is en of hulle al begin plooie kry het, hulle is myne en myne alleen. Daar moet altyd ‘n plek op my skoot wees vir hulle. Ek moet hul “safe haven” wees. Vrees, angs of bangheid moet nie tussen ons staan nie.
Ek as mamma is daar om hulle op te help. Hulle by te staan met die lewenslesse van die lewe.
Dink om jou moeder te verloor as jy jonk is, is erg, want jou steunpilaar, jou mentor, jou liefde is een oomblik nog daar en dan is sy weg. Ook om nie ‘n moeder te kon hê nie, moet jou as mens ‘n ander siening gee oor moederskap. Om misbruik en gebruik te word deur ‘n moeder verander ook jou siening. Of om ‘n moeder te hê maar sy is afwesig.
Daar buite is baie moeders wie se kinders hulle in ouetehuise gesit het. Daar buite is baie kinders wie se ouers hulle afgeskryf het. Beide kante toe is daar seer, vreugdeloosheid, alleenheid, jou hart wat voel of hy uit mekaar geruk word van pyn, woorde wat geslinger was toe elkeen seer gekry het. Baie keer is trots ‘n lelike ding wat rondloop, wat keer dat ‘n mens oor die verlede praat en alles uit sorteer. ‘n Mens dink daar is nog ‘n more om dit reg te maak tot daar nie meer daardie oggend is nie. Wanneer nie eers ‘n blom dit kan reg maak op die kis nie.
Dalk is dit die “memory” van ‘n vorige keer se seer wat keer dat jy vashou om nie te woord te uiter wat binne jou afspeel as jy daaraan dink nie. Wat keer dat woorde soos jammer oor die verlede, kan ons dit vergewe en vergeet en aangaan met hierdie kosbare geleende tyd wat vir ons gegee is. Liefde tussen ‘n moeder en haar kind is kosbaar. Ek as moeder is so feilbaar, elke dag van my lewe. Die feit dat ek ouer is maak my nie slimmer nie. Ek bly ‘n mamma wat ook liefde benodig, wat ook drukke kort, wat ook wil voel sjoe ek beteken iets vir my nageslag.
So die woord moederliefde beteken baie dinge. Iewers tussen hierdie sinne het jy jou dalk raak gelees. Of jou moeder afwesig was in jou jare en of sy te aanwesig was, dat jy voel jy kon in ‘n gat klim as jy net haar stem hoor. ‘n Moeder is ‘n moeder. ‘n Mens kan hul nie verander nie. Hulle is gebore met eienskappe wat hulle maak wie hulle is.
Maak vandag ‘n tyd om jou moeder ‘n boodskap te stuur of as jy kan ‘n koppie koffie saam met haar te gaan drink. Stuur ‘n foto, leer haar om te “video-call”. Maak tyd vir iemand wat eintlik naby hou hart lê.
Gee liefde al word jy verstoot, moenie ophou probeer nie.
Liefde gaan nie ongesiens verby nie.