Oor ‘n paar minute was dit jou verjaarsdag. Ek is nie by die huis om ‘n foto te gaan soek nie. So ek het ‘n video wat moet help om weer die “memories” op te helder.
Lank lank gelede het ons ons warmste klere aangetrek. Musse op ons koppe. Handskoene aan het ons die pad gevat Spoorwegstasie toe om te gaan wag vir die lorrie om te arriveer met al die pakkies. Wat ‘n koue plek. Die wind het om die hoeke gehuil. Binne was ‘n stofie wat darem gehelp het teen die koue wat net die Vrystaat kan stories oor skryf.
Jou huisie se kombuis was altyd warm. In die oggend kon jy ruik watter pap is op die tafel as jy deur die gang gekom het kombuis toe. Die koolstoof het gepraat. Matabele pap. Slap pap. Mieliepap met suiker en lekker botter. Melk pap.
Lekker patats met bobotie. Of groenbone nog op die oudtydse manier gekook met groot aartappels in saam met die lekkerste gebraaide hoender in die oond. Sy velletjie het so geknars onder jou tande. Groot baklei oor die magies en lewertjies.
Somertye het die vrugte trosse gehang aan al die bome. Perskes. Vye. Druiwe. Dit was soos die paradys. Praat ek nie eers van die lekker klontjie lekkers in die kardoes sakkies nie. Die diaken pilletjie wat ons Sondae gekry het in die kerk.
Ek was bevoorreg om my eerste dag van my skool uit jou huisie te kon gaan. Dit is iets wat ek nie onthou nie. Wens ek kan daardie oomblikke herroep wat onherroepbaar is.
Ek kan jou al beleef met jou hand in myne om die hoek na die grootte skool met my 5 vingertjies vol as juffrou vra hoe oud Aletta. Hoe gelukkig om jou eerste kleinkind te kon gewees het.
Baie jare later is jou eerste agter kleinkind gebore. Op hierdie video kan ‘n mens net Ouma se liefde sien en voel. Jy kon daardie lyfie stukkend druk. Dit is hoekom ek weet jare gelede toe ek ook net ‘n baksteen hoog was het jy my net so opgetel en stukkend gedruk en gesoen.
Geen kwaad woord het ooit oor jou lippe gekom nie. Jou hart was net altyd vol liefde.
Dankie dat ek so ryklik geseënd was om Ouma my Ouma te kon genoem het. Waar Ouma vanaand sit en my boodskap saam met my lees en lees soos ek tik en uitvee en weer voor begin weet dat jy het vir my so baie beteken. Jy het my so baie geleer. Vir elke druk teen jou lyf. Vir elke sagtheid waarmee jy altyd na my gekyk het. Dit word diep diep in my hart gekoester.
Liefste Ouma geniet jou mooi video saam met jou agter kleinseun wat nou al ‘n groot man is. Jou hart sou oor loop van trots oor hom. Dankie vir Ouma se kosbare liefde wat altyd daar was vir my.
Mis jou baie.
Liefde van hier onder op aarde.
Jou kleindogter en naamgenoot
Aletta