“Vreugde is soos konfyt: jy kan dit nie versprei sonder om ‘n bietjie op jouself te kry nie.”
Barbara Johnson
Is hierdie sin nie waar nie. Die brood wat uitgehaal uit die oond. Dit is warm, die geure trek die hele huis deur. Die broodmes word uitgehaal en die snye word gesny. Lekker dik, die botter word opgesmeer. Dit trek so vinnig en diep in die brood. In die spens staan jy rond en bekyk al die konfyte van groot bottels na die kleintjies. Al die soorte. Vye, perske, aarbei, druiwe en appelkoos. Op die ou einde word die sny brood in dele gesny met ‘n lepeltjie van elkeen op. Want in werklikheid weet jy nie watter een is die lekkerste nie. Met hierdie proses loop jy die risiko dat iewers van die konfyt op jou vingers sou beland het. Lekker taai, maar so lekker om dit af te lek. Koningskos.
Terwyl jy sit en die lekkerte op jou tong laat rol, is daar ‘n glimlag op jou gesig. In jou gedagtes sien jy al die harde werk wat hiermee gepaard gaan. Vrugte word gepluk in die boord, al die potte word nader geskuif, resepteboeke word gelees, dan begin die skil van die vrugte, suiker, water, sout en al die bestanddele word gemeng. Mengsel word oornag laat staan met die groot kokery die volgende dag.
Die dag van groot dinge breek aan, al wat ‘n potjie is word nader getrek. Na baie ure en harde werk staan jy agteruit en bewonder jou daad van die dag. Diep binne jou weet jy dat die winkel se konfyt nie naby jou konfyt kom nie. Dit is so ‘n lekker gevoel om te weet dat daar waar elke botteltjie oop gemaak gaan word, ‘n stukkie van jou sal daar wees. Hoe anders kan ‘n mens se hart nie as om warm te klop nie.
Ek het nog nooit konfyt geëet wat daar nie ‘n lekseltjie op my hand agter gebly het nie. Taai is nie die woord nie, maar die lekkerte wat jy proe as jy dit aflek is wonders. Dit is presies dieselfde met ‘n mens. As jou binneste uit sy nate bars van liefde en vreugde sal almal om jou deel wees van dit. Dit versprei saam met die wind na almal om jou. Die geure wat die konfyt gee maak ander mense honger daarna. Jy kan die hunkering in hulle oë sien. Hulle oë is leeg, geen glimlagte om hulle monde nie, net die harde lyne van plooie. Dan besef ‘n mens ‘n lewe sonder vreugde maak sy afdruk op jou gestel en jou liggaam. Daar is geen lewe nie, die persoon haal net asem.
Waar jy vandag dalk sit en konfyt op ‘n broodjie smeer, dink aan hoe maklik konfyt aan jou vinger kan kom en met daardie selfde gedagte sal jy weet hoe om jou vreugde met ander te deel.
Konfyt is taai, so jou vreugde wat jy gaan uitdeel sal klou soos konfyt, dalk nie ‘n mooi prentjie nie, maar beslis iets om te onthou.