Elkeen van ons beleef verskillende liefde deur die jare in ons lewe.
Elke liefde word anders gespel en word anders beskryf en beleef.
Om te weet jou hart behoort aan iemand gee ‘n mens die gevoel van hier is die plek waar ek hoort.
Dit is my “Safe Haven”.
Partykeer is liefde lafhartig, partykeer is die liefde onvergenoegd. Partykeer is die liefde seer, partykeer hou dit nie boek van die kwaad nie. Partykeer is dit verspot, partykeer is liefde wat ‘n wa deur die drif te trek. Partykeer is liefde net dit wat jy kort in die lewe om jou binnekant weer te laat voel of al die wurms uitgebroei het en die skoenlappers fladder in die rondte. Partykeer is liefde so erg dat dit soos ‘n stuk gat in jou hart voel as jy dit verloor het.
Vandag het ek weereens besef hoe kosbaar is tyd. Hoe kosbaar is dit dat dit wat jy voel vir iemand om dit nie weg te steek nie, om jou masker af te haal, dalk is dit onmoontlik, maar jy lewe net nou. Niemand beleef jou vreugde as jy dit wegsteek nie, niemand is daar as jy val nie, net jy beleef dit alles alleen diep binne jou.
Wanneer daardie liefde weg val, gaan staan jou wêreld, jy skuil agter jou donkerbril, jy voel of jy jou kan toe maak in ‘n donker kamer en net aan al die verwyte kan oor gee van wat as…
Mag die liefde van hom/haar vandag die vlerke van ‘n engele wees wat jy die hele tyd sal voel saam en om jou. Wat jy saam met jou kan dra vir al die dae vorentoe. Daardie een liefde wat jy nie vir enigiemand kan beskryf hoe dit voel nie Daardie liefde wat so kosbaar is. Wat jou staande hou.
Wat in jou geglo. Jou lief het sonder grimering, wat jou net kon toevou soos jy is.
Geen pretensies nie. Net suiwer liefde.
Liefde is ‘n kyk. Liefde is aanraking. Liefde is om net daar te wees. Liefde is vertroosting. Liefde is blind. Liefde is saligheid. Liefde is hemels. Liefde is menswees. Liefde is vergifnis. Liefde is respek. Liefde is kommunikasie. Liefde kom spontaan. Liefde is onbeskryfbaar. Dit is net daar. Of glad nie.
Mag jy ook vandag suiwer liefde ervaar waar jy is. Mag liefde vandag deur jou stroom soos ‘n rivier wat sy paadjie afloop na iewers. Mag jy liefde gee sonder om terug te verwag.