GELOOF, HOOP EN LIEFDE

Stories soos Klaas Vakie,  Tandemuis,  Paashase en Kabouters met paddastoelhuisies,  word so lekker vertel as kinders klein is,  en dit word geglo,  want hulle raak wakker met sand in hulle oë,  die tand is weg en ‘n geldjie is in die skoen,  tot hulle hulle kinderskoene ontgroei.

Drome word gedroom.  Verwagtings word verwag.  Word geluk van bome gepluk?

Daar word so baie gepraat oor geluk.  Dit is ‘n mens se eie keuse.  Jy kies dit.  Niks of niemand kan daardie besluit maak behalwe jy jouself nie.

Gister het iemand my gesê,  voel of als wat mens doen geen doel het nie,  of party dae geen rigting het nie.  Geen antwoorde kry nie,  als is soos dit is.  Dit klink bekend.  ‘n Mens staan elke oggend op, dis ‘n nuwe dag,  splinternuwe 24ure wat wag.  Vandag gaan ek  “rock”.   As jy ‘n 10/10 dag het, is jy op ‘n “HIGH”.  As jy ‘n 0/10 dag het,  dan DUIK jy….

Les van die lewe:  bly glo soos ‘n kind.   Sien jou 0/10 dag soos ‘n uitdaging in plaas van ‘n mislukking.  Foute is daar om gemaak te word.  Dit maak ‘n mens ryper.

Die paashaas is verby.  Die kabouters het klaar die bome se blare geverf.  Nou begin die briewe vir Kersvader.

Daar bly nog een groot oomblik oor vir die jaar.  Die rede wat ons lewens ryker maak op aarde:  Die Geboorte van ‘n Klein Seuntjie wat ons leer van Geloof en Hoop en Liefde.

DRIE goed wat ‘n mens nie sonder kan leef nie. Dis nie ‘n storie wat ontgroei word nie, dis 1 waarin jy kan groei.

MY BRIEF VIR JOU TROUDAG

Op ‘n bruid se troudag gebeur so baie dinge. Maande se voorbereiding kom tot ‘n end. Almal wag in afwagting vir daardie oomblik wanneer die bruid aan haar pa se sy die kerk binnestap.

Ek dink ons vergeet partykeer van daardie pa langs die bruid. Wat alles deur sy gedagtes gaan daardie dag. Dalk is dit die volgende woorde wat deur ‘n pa se gedagtes loop op daardie dag:

My liewe meisiekind, hier is my gebed vir jou op jou troudag:

Daardie eerste ontmoeting toe ek jou pikswart koppie en kreukel neusie sien en ek jou naelstring knip, het jy onvoorwaardelik diep in my binneste ingekruip. Ek het daardie pienke kleine fyn perfekte lyfie teen my vasgedruk. My hart het onbeheersd geklop en trane het uit my oë geloop, want ek het ‘n stukkie van my vasgehou. Jy is my grootste trots.

Soos die jare gevorder het, het ons twee die beste maats geword. Ons het soveel oomblikke gedeel. Van jou eerste tand trek, tot jou groot oomblik wat jy fiets gery het sonder die klein wieletjies. Jou eerste skooldag wat jy soos ‘n wafferse heldin alleen agter gebly het. My sakdoek wat jou trane moes afvee toe Tinkels haar laaste asem uitgeblaas het. Om jou te kon leer van ons Pappa in die Hemel. Al die lag, grappies, ernstige geselse, daar is so baie om op te noem. As ek my oë toemaak kan ek jou gesiggie sien wanneer jy jou neusie kreukel, en ek weet hier kom nou ‘n groot “talk”.

Die lewe het sy klappe uitgedeel vir jou, maar jy het net elke keer jou nekkie styf gemaak en jou koppie opgetel en weer vorentoe gebeur.

Pappa se raad vir hierdie wonderlike tydvlak wat jy binnestap is die volgende: As jy wil hê dat hierdie liefde vir ewig hou, troetel dit met spesiale sorg, beskerm dit, moenie dit verwaarloos of mishandel nie. Moenie dat dit gewoon of ordinêr word nie. As liefde sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit sprankel soos nuut. Dit groei mooier soos die jare stap. Waar liefde is, is alles magtig.

My blommekind, jy stap al jare die pad wat beplan is deur ons Hemelse Vader vir jou. Vandag is een van daardie groot dae. Geniet elke sekonde van hierdie dag waarvan jy al droom toe jy klein klein was.

Ek is bevoorreg om langs jou sy te stap na jou liefde van jou lewe. Ek sal altyd net ‘n gebed ver wees vir jou.

Lief jou met my hele hart.

Pappa

WARMTE

Vroegoggend kan jy die knyp van die winter voel. En as die sonnetjie begin sak, trek jy weer jou warm baadjie nader.
Die wind is besig buite tussen die bome en die gekleurde blare val grond toe. En dit lyk soos konfetti wat die mooiste prentjie onder die bome maak.
Die velddiertjies weet hulle moet vroeg middag hulle warm huisies opsoek, want as die donker hul oorval, loop die koue daarmee saam.

Hoe gelukkig is ek en jy om vanaand by ‘n warm huis te kom. Jou styf toe te maak met komberse en te weet moreoggend is jy reg vir nog ‘n dag in die koue. Gepantser teen die koue. Al is jy warm aangetrek kan jou binneste nogsteeds koud wees. Net so kan jou binneste ook warm wees, of deur drank/dwelms of deur daardie wonderlike gevoel van liefde en vreugde wat deur jou are vloei. Dit is soos naakte lywe teen mekaar. Mense hitte kom nie by ‘n kombers of ‘n aircon nie.

Wat wil ek eintlik sê: dat warmte/koudheid deur ‘n mens loop. En dit is wat jy deurgee na mense. ‘n Huis kan sonder ‘n kaggel wees, maar as mense se warmte nie aanvoelbaar en sigbaar is nie, sal jy baie houte moet oppak om die vertrek warm te maak. Soos ‘n glimlag of ‘n druk of ‘n oogknip. Dit alles maak dat jy goed voel en daardie hoendervleis wat jy voel as iemand hard praat of baklei, verdwyn soos mis. Daar kom ander energie deur. Voelbare energie. En nie een keer praat ek hier van warmte wat jy in jou binneste kry deur ‘n warm drankie nie. Nee, ek praat van warmte wat mense aan mense gee.

Of dit ‘n kombers of ‘n bord kos of ‘n kledingstuk is wat jy aan ‘n boemelaar of iemand wat dit benodig gee, daar is ‘n smile op haar/sy gesig en vir ‘n breuk van ‘n sekonde het hy/sy vergeet van die koue waarin hy/sy leef.
Nes ‘n dier, wanneer jy met rustigheid met een praat, waai sy stert want hy/sy kan aanvoel jy gee regtig aandag.

Groot of klein, oud of jonk, mens of dier, ons almal reageer op warmte. Enige manier van warmte. In hierdie wintertyd wat voorlê laat jou warmte uit jou vloei, dit kos jou niks. En maak die winter ‘n ander kleur as grys, wit en swart, verander die kleure na helder rooi, groen en orange kleure.
Soos die blare wat besig is om te verkleur.

KLEUR DIE LEWE IN MET WARMTE. WARMTE WAT JY UITSTRAAL NA BUITE.

VANDAG

Desember 2015

In die begin van die maand was daar ‘n tydjie wat ek op my eie was. Ek het in daardie tyd ‘n tannie ontmoet wat kanker het en wat elke drie maande hospitaal toe moet gaan vir behandeling. Sy was nog op en wakker op haar ouderdom. Hulle moes hulle plasie opgee want die oom het Parkinson’s. En hulle moes in ‘n Rusoord in trek.

Alles opgee, sy vertel my, “Hartjie, dit is moeilik op ons ouderdom. Jy vergeet van jouself in sulke tyd, en gee net aandag aan hom. En voor ek my oë kan uitvee loop die tyd by my verby.”

Dit laat my baie dink, in ons daaglikse lewe is dit ook so, daar is so baie dinge wat ons tyd inbeslag neem. Dink mooi oor wat is so belangrik wat die meeste van jou tyd in beslag neem, sonder dat ons dit agterkom het iets ons vasgegryp.

Daar waar jy nou is, waaraan dink jy? In die verlede kon ons dalk sê iemand is verslaaf aan dobbel, of perde of casino’s, of drank /dwelms / geld, maar vandag is dit baie meer… kan jy sonder jou selfoon (hom net gebruik as dit moet)? Kan jy sonder twitter of facebook of whatsup.
In ‘n gesprek vanoggend is gesê, so baie van ons gebruik die nuwe tegnologie nie net om almal se aandag te kry nie, maar ook simpatie. In die ou tyd het baie eers van alles geweet na ‘n week of tien.


Partykeer gebeur dit ook dat jy eers hier iets raak lees wat almal al van weet van jouself behalwe jy. Dit is ‘n media waar enigiemand die reg het om hulle kommentaar te gee of “nuus” aan te dra. In die laaste maand het ons berigte gelees oor so baie mense wat hulle hande uitgesteek en nog steeds uitsteek om ander te help.
Het julle gedink daar is sulke mense in die lewe. Net in nood leer ons wie is wie. Wie is bereid om terug te staan, van jouself vir ‘n slag te vergeet en uittereik na ander wat dit mee tien keer slegter gaan as jouself.


En wat is lekkerder, daardie gevoel van ek kon iemand help, iemand wat regtig in nood is. Dink daar is min mense wat nadat hulle hulle skenkings gegee het, daarvan vergeet het die oomblik toe hulle omdraai en huis toe gaan, want daardie gevoel is wat van jou ‘n mense mens maak. Wat kan uitreik na ander sonder om terug te ontvang.

Orals vandag herdenk ons ons GELOFTE wat ons jare gelede gemaak het. Jare gelede het ons Vader ons gehelp om te oorwin wat ons nie gedink moontlik was nie. As jy jou oë toe maak kan jy jou indink in daardie dag. Toe duisende met ‘n helse lawaai op jou afgestorm het, en jy gedink het dat jy nie weer die son sal sien skyn nie, Net soos nou, die vorm is net anders, maar die uiteinde is ook die dood of dit die droogte is, of alleenheid, of siekte, iewers is daar iemand wat hulp nodig het en partykeer kos dit nie ‘n sent uit jou sak nie.


Ons het so baie om voor dankbaar te wees. Veral in Desember is daar so baie mense wat die maand om wens. Wat alleen deur al hierdie tye gaan. Wat niks of niemand het om hulle hand vas te hou of om die mooi van Kersfees te deel nie. Het jy al jou kop laat sak in skaamte, as jy stil sit en dink hoeveel familie of vriende jy het en met wie jy nie regtig ‘n pad stap nie. Dit is ons wêreld wat vir ons gegee is, om te geniet en mooi te maak. Is dit nie maar ons eie skuld as alles gaan soos dit nou gaan nie.
O nee, dink party van ons, glad nie Alta, jy raak nou kens,
maar vanaand as alles stil geword het en jy in jou bed lê, dink bietjie oor vandag, of die laaste week.

Wanneer laas het jy uit jou hart vir iemand ‘n druk gegee, of ‘n dankie gesê, of iemand geseën in pleks van hom/haar uit te skel of ons Vader gedank vir wat jy het en onthou dit is maklik, jy kan dit net soos ‘n tafelgebed af rammel, ek praat van regtig gaan sit en alles voor Sy voete gelê.
Voor ek en jy nie ons gesindheid teenoor almal om ons verander nie, sal die wonderlike aarde wat vir ons gegee is, net agter uitgaan, en op die ou einde net ons eie skuld wees.

NET VIR VANDAG: glimlag vir iemand wat jy nie ken nie; Luister regtig wanneer iemand met jou praat; Laat val ‘n muntstuk waar ‘n kind dit kan optel; Vertel iemand dat jy aan hulle dink; Gee ‘n geliefde ‘n drukkie; Moenie ‘n wrok koester nie; Moenie bang wees om te sê Ek is JAMMER nie; Kyk ‘n kind in die oë en vertel hulle hoe fantasies hulle is; Maak ‘n belofte en kom dit na; Staan by jou beginsels; Kyk verby iemand se gesig na sy hart; Gebruik al jou sintuie tot hul volle potensiaal; waardeer en geniet VANDAG!
Want onthou elke dag is ‘n nuwe begin, ons Vader gee ons so baie kere om voor te begin, en die verlede agter te laat. Met ons hand in Syne kan niemand jou te na kom nie.

REDE/SEISOENE/LEEFTYD

Mense kom in jou lewe vir ‘n rede, ‘n seisoen of ‘n leeftyd.

Wanneer jy weet vir watter rede sal jy ook weet wat om te doen vir die persoon. Wanneer iemand in jou lewe kom vir ‘n REDE, is dit gewoonlik om ‘n behoefte te vervul wat jy uitgespreek het.

Hulle het gekom om jou deur ‘n moeilike tyd te dra, om jou van raad en advies te bedien en jou te ondersteun op die fisiese, geestelike of emosionele vlak. Hulle word baie keer beskou as ‘n antwoord op jou gebed, Hulle is daar vir die rede wat jy hulle nodig het.

Dan, sonder dat jy enigsins die persoon te na gekom het of op ‘n ongeleë tyd sal die persoon iets sê of doen wat die vriendskap tot ‘n einde bring. Soms het hulle afgesterf. Soms het hulle net weggestap van die vriendskap. Soms doen hulle iets wat aanstoot gee en verplig jou om standpunt in te neem. Ons moet besef dat ons behoefte vervul is, hulle werk is klaar in ons lewe. Die gebed wat jy opgestuur het is beantwoord en dit is nou tyd om aan te beweeg.

Party mense kom in ons lewe vir ‘n SEISOEN, want jou beurt het aangebreek om te deel, te groei en om te leer. Hulle bring aan jou ‘n ondervinding van vrede of laat jou lag. Hulle kan jou moontlik iets leer wat jy nog nooit gedoen het nie. Hulle verskaf gewoonlik aan jou ‘n ongelooflike ervaring van blydskap. Glo dit, dit is waar. Maar slegs vir ‘n seisoen.

LEEFTYD verhoudings leer jou leeftyd lange lesse, dinge waarop jy moet bou ten einde ‘n soliede emosionele fondament daar te plaas. Jou werk is om te leer uit die lesse, om die persoon lief te hê en om dit wat jy geleer het te gebruik in ander verhoudinge en areas in jou lewe.

Dit word gesê dat die liefde blind is maar vriendskap heldersiende.

Dankie dat jy deel is van my lewe, hetsy dit was vir ‘n rede, ‘n seisoen of ‘n leeftyd.

VRIENDSKAP

Ons almal ken vir Trompie en die Boksombende. Hulle uiterlike en innerlike het so verskil, maar tog was hulle vriende, een vir almal en almal en vir een.

Daar is baie wat gesê word oor vriendskap. Daar is baie beloftes wat gemaak word tussen vriende. Tog is daar is verskil tussen kennisse en vriende. ‘n Verskil wat geweldig groot is. Kennisse is die mense met wie jy net oppervlakkig gesels of kuier. Vriende is die mense met wie jy jou hart kan oop maak en hulle jou aanvaar nes jy is. Ek het ‘n paar weke terug ‘n oproep gehad van ‘n persoon. Ons het in jare nie met mekaar gesels nie, maar ons kon praat oor alles nes in die ou dae. Dit is een van die voordele van vriendskap. Daar hoef nie elke dag kontak te wees nie. Maar wanneer daar wel kontak is hoef jy nie voor te gee nie. Jy hoef nie te wonder oor hoekom daar ewe skielik nou weer kontak is nie.

Wanneer trauma jou tref, dan besef jy wie is regtig jou vriende. Wie gee regtig om. Wie deel dit letterlik en figuurlik met jou. Dit is die vriende wat nie net daar is om stories te versprei nie, maar om jou hand vas te hou waardeur jy ook al gaan.

Ek dink ‘n mens bêre so ‘n hegte vriendskap diep in jou binneste. Jy weet wie is “genuine”. Dus wanneer jy uit die bloute gekontak word is dit of al die drade net opgetel te word, jy hoef nie te verduidelik waar jy was al die maande nie. Elkeen van ons kort daardie spesiale vriendskappe in die lewe. Dit is my “safe haven”. Ek kan lag, ek kan baie praat, ek kan huil, ek kan hartseer wees, ek kan verspot wees, ek kan net stil sit en niks praat nie, ek kan my hart uit praat, sonder om te voel soos ‘n mislukking, ek kan my prestasies deel sonder om te voel of ek eintlik daaroor spog.

Ons elkeen kort daardie mense in ons lewens. En hulle is min gesaai in die lewe. Geniet daardie vriendskappe, hulle is kosbaar. Pas hulle op. Voed hulle. Wees ‘n vriend en nie ‘n kennis nie. Maak jou leuse oor vriendskap soos met Trompie en die Boksombende, Een vir almal en almal vir een.

REëN


Die laaste tyd val daar op party plekke in ons land baie reën of hael.  En op party plekke in ons land kort daar nog baie seëninge van Bo om die droogte te breek.

So is dit in ‘n mense se lewe ook.  Daar is tye wanneer trane uit jou oë uitloop sonder keer,  of daar net ‘n kraan oop gedraai is en daar geen stop is nie.  Wanneer die lewe jou plat geslaan het,  en al uiting wat jou liggaam kan gee is deur trane.  Dit loop en loop,  daar is geen medikasie wat dit kan stop nie. Trane kan geruisloos loop, sonder enige geluid.  Ander kere kom trane soos genesing,  dit kom van dankbaarheid,  dit kom van geluk,  dit kom van liefde,  dit kom van lekker lag.  Dink dit is een ding van ons liggaam wat presies vir ander kan wys hoe jy voel oor dinge wat met jou gebeur. 

So verskil ons elkeen van mekaar,  ons emosies word op verskillende maniere na die wêreld deurgegee. Nes die storms wat daar buite woed en verwoesting saai gebeur dit in ons lewens ook. Natuur het ‘n mooi manier om vir ons te help om daar deur te leer en dit te verwerk.  Ons is partykeer net te besig om dit raak te sien.  Kyk volgende dieper na jou geliefdes se emosies as jy agterkom die trane loop.  Woorde is partykeer onvanpas.  Net aanraking is dan genoeg. 

Wanneer die wolke begin bou, en donker en donker word,   hou ons ons asems op,  want ons weet nie wat om te verwag nie.  Net sagte reën,  of ‘n verskriklike storm.  Wanneer hael saam met die reën kom is die verwoesting erg. ‘n Mens kan die pad van verwoesting sien,  al die blare wat afgeslaan is van die bome,  al die gewasse op die lande wat plat teen die aarde lê.   Ander kere wanneer dit net saggies uit die Hemel val, is dit soos musiek in ons ore.  Jy ruik die reën,  dit was alles skoon,  en  dis of ‘n mens kan sien hoe alles groei,  As jy jou oë toe maak,  kan jy dit hoor.

Is dit nie waar dat wanneer jy regtig mooi na jou hond of kat kyk,  kan jy hulle trane ook gewaar as daar is.  Dink hulle huil sonder dat ons werklik agterkom hulle harte is seer of hulle het pyn.  Net die merkies is daar langs hulle neusies. 

Onthou,  daar is trane van storms  en daar is trane van mooi. Hanteer elke op sy eie manier!

GELUK

GELUK… wat beteken die woord?  Vrede in jou binneste?

Tonne liefde?    Gesondheid?    Seëninge? 

Vir elkeen van ons op aarde het die woord ‘n ander betekenis.

Maar daardie betekenis is deel van ons lewe. Van ons daaglikse bestaan.  Dit hou ons aan die gaan.  Dit gee ons hoop.  Dit gee ons krag om dit wat soos ‘n berg voel, aan te pak met alles binne ons.

Beskryf jou geluk,  myne is gesondheid,  familie en vriende wat my aanmekaar hou.  Wat my toegooi met hulle vrede,  wat my aanvaar nes ek is.  My werk en my huisie waarin ek bly met al my diere kinders.  Die omgewing waar ek my bevind,  wat net al die mooi van die lewe uitstraal,  wat my daagliks laat besef hoe klein is ek as mens.  Hoe groot is ons Vader dat Hy alles geskep het in net 7 dae.  Elke klein en groot wonderwerk wat hier is op aarde. 

Ons nader die maand waarin ek my tweede kans gekry het in die lewe,  jare gelede het my tyd gaan stil staan in Augustus,  Die maand het verby gegaan met my daarin maar ‘n deel van my het gaan stilstaan in daardie tyd.  Dae wat ek niks kan van onthou nie. Dae wat verby gegaan het vir my familie met al hulle bekommernisse oor my.

En dan die dae daarna wat ek nie kan beskryf hoe dit gevoel het nie.  Die magteloosheid om op ‘n bed te lê en wag dat jou liggaam weer moet herstel.  En net tyd en tyd alleen kon daardie herstel meebring. Dus weereens die woord GELUK… , vir my beteken dit ongelooflik baie.  Al die vrede binne my,  al die liefde wat ek ervaar van nuut en oud,  om te kan lag,  om ‘n druk uittedeel,  om deel van mense te wees,  om sport te kan beoefen,  om te loop en praat en te kan sien. Al die klein dingetjies in die lewe,  die roep van ‘n voëltjie in die oggend,  ‘n nuwe roosknop,  die bome wat vol blomme is maar geen blare nie,  die blydskap van jou hond as jy by die huis kom.  Om ‘n ouma te wees,  om daardie kleine lyfie te sien groot word,  om my te verstom aan haar mamma en pappa wat met so min kennis van ‘n pienkvoet daardie lyfie gevat het en haar so mooi versorg en groot maak.  Om hulle oë te skien skitter as hulle oor haar praat.  Die opgewondenheid in hulle stemme te hoor.  Dit maak my hart vol geluk. In ons wêreld daarbuite waar daar soveel dinge aan die broei is,  dink weer aan jou geluk.  Moenie toelaat dat die wreedheid van alles jou geluk kom steel nie.  Word stil,  beleef alles wat jou hart maak klop.  Wat jou laat  glimlag,  wat ‘n vonkel in jou oog gee,  en maak vandag die beste een wat daar nog was.  GELUK,  maak dit joune…

HARTE

Wanneer laas het jy na jou hart laat kyk,  gegaan vir ‘n dr’s ondersoek.  Of neem jy net aan hy klop maar reg.  Dit is hoe die ritme moet wees.  Wat sal daar nou verkeerd met hom wees?

Wanneer laas het jy jou eie hart ondersoek? Is daar vrede of vreugde en tonne liefde?   Of het haat en woede nes gemaak het in hom.  Dit kan jy weet as jy jou oë oop maak in die oggend.  Wat gaan deur jou as jy wakker word.  Is daar ‘n “smile” op jou gesig of is daar net fronse tussen jou oë.  Dan moet jy weet dat iewers binne jou,  daar waar daardie warm hart is,  dit is waar die borrels alles na buite stroom.

Van jou hart word jou are volgepomp,  met al die positiewe energie wat daar is,  of jou bloed word donker van die koudheid waar jou hart hom in bevind.  Dit is hoe mense jou ook beleef.

Is jy vol sprankel,  is jy vol lewenslus,  blink jou oë,  is daar glimlagte op jou gesig.  Jou huppel in jou stap,  jou kleredrag is dit helder en vol kleur.  Jou persoonlikheid is borrelend,  mense weet jy is ‘n bondel vreugde!  Dit is hoe jy praat met mense,  jou inspirasie vir hulle. 

Of lyk jy sommer donker as jy na mense kyk,  en jaag daardie koudheid wat jy uitstraal mense weg.

Dit is in jou stap,  dit is hoe jy na mense kyk,  dit is in jou oë,  jy lyk soos die dood.  Ongelukkig gaan jy nie mense met ‘n “smile” groet nie.  Hulle gaan jou grensloos irriteer.  Jy gaan wens die son het nie opgekom nie.  Dat jy net in jou bed kan bly.  Niemand sal weet wat die donkerte veroorsaak het in jou lewe nie. 

Almal wat vrolik is,  gaan ‘n pyn wees.  Jy gaan praat oor die mense wat vol skyn is.  Wat voorgee wat hulle nie is.

Maar my liewe vriend/in,   ons elkeen kort daardie spesiale mens of mense in ons lewe.  Die wat jou lewe so verryk dat jou hart oorloop van geluk.  As ek my oë toe maak kan ek elkeen se gesiggie sien wat my lewe verryk.  Ek kan hom/ haar hoor,  ek kan hom/haar sien.  Dit maak my lewe so vol.

Ek kan die goeie tye onthou.  Dit is of dit soos gister was,  hoe lekker is dit om te lag en te gesels,  om net laf of verspot te wees.  Om hand en hand ver ente te gaan stap,  met net die stilte om julle.

Het jy al geluister na die song… Laaste asem,  deur die groep HULLE.   Dit is so ‘n mooi song,  dit laat ‘n mens net weer besef,  ons tyd op aarde is so kort.  Hoekom moet ons aan gaan en nie ‘n kans waag as jy die geleentheid kry,   om met alles te gaan vir liefde nie.  Of vir geluk,  of vir n nuwe loopbaan.  Of om swanger te raak nie. 

Hoekom moet ons stagneer in ons lewe,  in elke dag te roetine,  dieselfde tyd op te staan elke oggend,  dieselfde roete te ry werk toe,  weet jy hoeveel mis jy.  Jy sien nie meer die mooi om jou raak nie.  Want jy is so vasgevang in dieselfde pad,  dieselfde “robot” ,  dieselfde gesigte in die hysbak.

Jy vergeet om te leef.  Jy vergeet van die mooi om jou,  jy vergeet van die mooi binne jou,  nee jy straal net koudheid uit.

So gaan ondersoek jou hart vanaand in die stilte van jou binne kamer,  Gaan luister na wat ons Vader vir jou wil sê.  Maak jou oop om die mooi te ontvang wat mense vir jou wil gee.  Moenie dit terug gooi in hulle gesigte nie.

Moenie vergeet om vir jouself lief te wees nie,  onthou jy is uniek geskape,  en daar is mense wat vrek oor jou…want daars net een jy!

Want om gelukkig te wees,  dit skuld jy jouself…….VAT DIT WAT DIE LEWE JOU WIL GEE,  EN MAAK DIE MOOISTE VAN DIT…MOENIE WAG NIE,  VAT ALLES EN MAAK DIT JOUNE.  LEWE VIR ‘N SLAG!

MAAK JOU OOP VIR GELUK.

ELKE DAG

Wat is lekkerder as om op te staan in die oggend en die dag lê en wag vir jou soos ‘n groot geskenk om oop te maak.  Die bloed bruis deur jou are. 

Nou gaan jy lag vir my,  want hoe kan ons in die tyd van nou,  met “loadshedding”  so op staan?  Raas my kop, sou jy dink?

Nee my kop raas nie,  dit is omstandighede wat veroorsaak dat jy ‘n keuse het hoe dit jou gaan beïnvloed. 

Jy het soveel om dankbaar voor te wees.  Haal bietjie daardie papier uit en maak twee kolomme.  Die voordele en nadele.  Dink met ‘n oop gemoed.  Moet nie net teen die sleg vas kyk nie.  Die ekonomie,  jou gesondheid,  werk,  huwelik,  jou kinders,  sport,  jou huis,  ens. 

Jy kan niks aan omstandighede of situasies verander nie.  Maar jy kan nog steeds voluit lewe,  jy kan nog steeds in dankbaarheid leef.  Want jy het baie meer as wat die volgende mens het.  Hoop dat as jy weer na jou voordele en nadele gekyk het,  dat besef jy hoe gelukkig jy is om te wees waar jy is.  Partykeer werk jy hard om te bereik wat jy bereik het.  Ander kere is dit seëninge wat jy ontvang en ander kere het jy gewoeker met jou talente wat vir jou gegee is.  Ons almal het een of ander talent gekry.  Ons begrawe dit onder die emmer want ons glo nie in onsself nie.  Dalk is die tyd nou reg om daardie groot kans te vat en te kyk wat jy daarmee kan maak.  Ek kan al net die glans in jou oë sien as jy dit gedoen het en dit is ‘n reuse sukses.  Die eerste keer was dit dalk nie goed genoeg nie,  maar dit is soos om fiets te leer ry, elke afval maak dit alles dit moeite werd.  Jy klim net met meer motivering op daardie fiets die volgende keer.

Elkeen van ons het soveel genade gawes,  ons vergeet partykeer van dit.  Ons het al so in roetine verval dat niks meer “wow” is nie.  Ons neem maar net aan dit moet so wees.  Wanneer besef jy wat jy verloor het,  wanneer dit te laat is? 

So is dit in alles wat ons doen.  Ons probeer, ons gee ons beste, of ons onsuksesvol is, of as ons ons nerwe af val,  moet ons maar weer opklim of dit anders benader.  Jy kan nie terug staan en voel soos ‘n mislukking nie.  O nee,  dit is net ‘n leer skool,  om jou te laat groei,  of jy 3 jaar oud is en of jy 60 jaar oud is,  ons almal kan nog elke dag iets leer van die lewe of van jouself. 

So môreoggend,  sit daardie glimlag op,  maak of dit jou verjaarsdag is, en trek die lewe ‘n streep.  Wys wat in jou steek,  dat jy in beheer is oor situasies.  En maak dit ‘n lewenstyl elke dag.

l