ANDERS

Wanneer ‘n mens dalk iewers by ‘n restaurant sit of langs die sportvelde,  is daar horde mense om jou,  voor jou.  Almal lyk anders.  Die tale is partykeer vreemd,  maar op hulle gesigte kan jy sien of is hulle gelukkig of hartseer of ongeduldig.  Hulle liggaamstale spreek boekdele.

Dit is vir my altyd lekker om so na mense te sit en kyk.  Almal het ‘n lewe van hulle eie.  Elkeen is op haar/sy eie  “mission”.

Party sit alleen.  Party is in ‘n  “crowd”.  Partykeer wil ek ook eerder net so alleen wees tussen baie mense,  ander kere soek ek geselskap.  Natuurlik hang dit af hoe jy binne jou voel.

Weet jy waarvan ek praat?  Terwyl jy daar sit,  speel so baie goed af in jou kop.  Is jou eie lewe deurmekaar of voel jy nie welkom nie,  wat is die rede vir daardie alleen gevoel tussen mense?

Dit is dan wanneer ‘n mens ‘n sagte hand,  ‘n sagte woord dalk kort.  Om te voel jy is tog iets werd.  Dat jou plekkie helder in die sonlig is. 

So het Hy vir elkeen ‘n maat gemaak.  Daardie een mens wat een is met jou al staan jy tussen honderde mense.  Om sonder woorde jou hartklop te kan voel en te weet dat jou binnekant juig of benoud is.  Daardie stil tye is party keer wanneer jy weet jou maat ken jou deur en deur.

Elkeen van ons is anders.  Ons reageer anders in situasies.  So maak daardie spesiale mens in jou lewe spesiaal deur net jy te wees.  Min goed tel in die lewe as om net  “genuine”  te wees

Engele

Ek het Karen Kingsbury se boek,   Onder Engele-vleuels,  gelees.

Dit is ‘n diep, diep boek.  Dit vat aan ‘n mens en weereens het ek besef ons elkeen is hier op aarde vir ‘n rede.  Jy is nie net maar gemaak deur Hom nie.  Nee, Hy het groot planne vir jou.

Al volg jy jou eie weë, het Hy ‘n manier om nogsteeds Syne tot uitvoer te bring.  Met al die hulp van Sy engele.  Wat my die meeste getref het van die boek,  is dat engele lyk soos ek en jy.  Hulle het name,  hulle pas ons soos goud op.  Hulle staan saam teen die donker wat ons wil oorval.

Die heel laaste bladsy skryf sy ‘n baie waar stuk.  “In Hebreërs 13:2 staan daar geskryf:  “ Moenie nalaat om gasvry te wees nie.  Deur gasvry te wees het party mense,  sonder dat hulle dit besef,  selfs engele tuis ontvang!”

“ Vir my beteken dit dat eendag iewers het iemand vir my ‘n bemoedigende woord gegee,  of gehelp in ‘n krises of vir my gebid – en net dalk was daardie persoon in werklikheid ‘n engel.  Julle het die boek toegemaak en werklik besef hoe lief God julle het.  Hoe Hy engele om ‘n verskeidenheid redes sal stuur om na jou om te sien.  Maar hoofsaaklik omdat Hy jou liefhet.  Natuurlik is die engele in hierdie storie fiktief.  Maar engele is ‘n werklikheid.  Het jy al ooit met ‘n engel omgegaan?  Nie een van ons sal vir seker weet nie,  maar dalk het die lees van hierdie reeks jou gehelp om anders na jou eie lewe te kyk.  Dit is dikwels makliker om die Here in ons lewe te sien werk as ons spesifiek na Sy vingerafdrukke daarin soek.  En daardeur word ons geloof ook verdiep.” – Karen Kingsbury

As ek dink aan alles wat op my pad was,  moes hulle daar gewees het vir my en is hulle nogsteeds aan my sy.  Watter “wow” gevoel om te weet ek is so kosbaar dat Hy en hulle 24/7 daar is.  Dat ten spyte van al my foute,  my nie een kant toegooi het nie,  maar net stywer intrek.  Nes die storie sê,  “ ‘n Verhaal van hoe liefde,  verlossing,  die mens se doel en geloof herstel word in ‘n wêreld vol gebrokenheid en seer.”

Die boek is al lank in my kas,  maar ek dink,   nes dit in die storie ook staan,  jy bêre iets,  en môre lê dit weer daar.  Dit was die regte tyd in my lewe om ONDER ENGELE-VLEUELS te lees.   My te laat besef dat my tweede kans in die lewe belangrik was,  dat geluk,  liefde,  vrede en vreugde nog lank deel van my lewe gaan wees.  Ek moet stil staan en dit indrink want ek kyk teen dit vas. Ek moet die venster oop maak dat ek deel van dit kan word.  Ek moet leef soos Hy dit uitlê, ek moet weet dat elke persoon wat my pad kruis,  met ‘n rede daar is of was,  ek moet nie twyfel oor more nie.  Nee,  my geloof moet so sterk wees dat daardie venster nie weer sal toegaan nie. 

So doen jouself ‘n guns,  lees haar boek.  Ons moet verstaan dat ware liefde is,  ware liefde,  daar is God.  Hy gee ons ‘n raamwerk van mense wat altyd daar is om ons hand vas te hou op aarde.  Hy het hulle vir ‘n rede in jou lewe gebring.  Gaan op jou knieë en dra elkeen van hulle op aan Hom.  Noem hulle elkeen op hulle naam.  As jy moet,  spreek dié vry wat daardie venster in jou lewe toe hou.  Vergifnis kos jou niks.  Nee,  dit maak jou vry!Gebede word verhoor, dit bring wonderwerke in jou lewe!

Wonderwerke soos mense,  gebeurtenisse,  mylpale,  drome,  werk,  finansies,  gesondheid,  verhoudings,  sukses,  liefde. Maak daardie venster oop.  Teug elke stukkie vars lug in,  maak jou longe vol met dit.  Dat dit deur jou are kan loop,  en alles binne jou vernuwe. 

SPESIAAL…

Die meeste tye in die lewe is net spesiaal as ons hulle so maak.  Die gemiddelde dag is net gemiddeld omdat ons nie iets besonders daarvan maak nie.  Die beste manier om ‘n ervaring besonders te maak, is om ons bes daarmee te doen.  Dit maak dit spesiaal.  ‘n Gewone gesprek word iets beters as jy met groot aandag luister.  ‘n Gewone verhouding verander heeltemal as jy buitengewone moeite daarmee doen.  ‘n Alledaagse gebeurtenis word spesiaal as jy dit kreatief benader. Jy kan enigiets meer belangrik maak deur jou bes daarmee te doen.

HUMOR TUSSEN VRIENDE

As ek jou soms kan laat huil en dikwels kan laat lag, as ek jou met ‘n stukkie humor kan laat vergeet van mense se skerp en bitter woorde, as ek ‘n vuur in jou kan laat brand na die koue van ‘n kleurlose dag, is dit genoeg vir my.

Leer om te sien wie ‘n glimlag of ‘n gawe woord nodig het en gee dit! Leer om saam met jou vriende die humor in die lewe raak te sien en te lag. Dit maak die lewe makliker, laat jou ontspan en maak die vriendskap iets besonders!

Humor is die beste, die een eienskap wat ons red. Die oomblik wat dit na vore kom, maak ons irritasies en fyngevoeligheid plek vir ‘n glimlag.

Lag help juis om die spanning van die lewe te ontlont en om troebel verhoudings te verhelder. Die mens wat oor sy eie frustasies en swakhede kan glimlag, reageer nie net volwasse daarop nie, maar berei ook die pad voor vir die oorwinning daaroor.

Goeie humor help vir ‘n gesonde liggaam en gees. Dit is die beste teenmiddel vir spanning en depressie. Dit trek vriende aan en verlig probleme. Verder is dit die beste roete tot nederigheid en tevredenheid.

Luister gerus na mekaar se lag, julle harte sal oorvloedige blydskap ken.

Dis die beste: om saam met iemand anders te lag omdat julle dieselfde dinge snaak vind. Ons kan nie iemand waarlik lief hê tensy ons nie saam met hulle kan lag nie.

ALLEEN

Daar is baie boeke op die rakke, in die winkels, in jou ouerhuis, in jou eie of vriende se huise oor elke “topic in the world”.

Jy kan lees en lees, oor en oor, maar die raad wat daarin staan of die kuur ooit werk, kan ‘n mens net weet as jy dit probeur.

Of dit boeke is en of dit berading is deur ‘n professionele mens, hang dit als af van hoe jy dit hanteer. Partykeer is dit eers na baie jare wat antwoorde kom. Intussen moet jy sterk staan teen al die aanslae van die lewe.

Sonder ons Vader om die pad saam met jou te loop, sal elke treë in donkerte wees. Geen sonstraaltjie sal deur die donkerte kom nie. Dink terug aan Sy dae… toe Hy toegesluit was en Hy Sy kruis moes optel en dit homself dra. By mense verby wat Hom uitgekryt het. Hoe alleen was HY… niemand wat bereid was om Hom te ondersteun of te help nie. Maak jou oë toe, wat hoor jy? Hier by my, is dit die voëltjies getjirp, die beeste en kalwers wat roep, dan besef ‘n mens net weer…alles lewe.

Elkeen het ‘n hartklop wat klop. Elkeen is spesiaal gemaak. Al voel dit of die hele mensdom teen jou gekant is, onthou net, die Here is baie meer as die mensdom. Daar is mense na aan my, wat so alleen voel op die oomblik. Elkeen van hulle gaan deur hulle eie seer, elkeen sin verskil van die ander, daardie soort wat jy in geen boek raad kry nie. Want niks wat jy lees maak nou sin nie.

Ek druk julle teen my hart vas.

Daar is tye wat jy een oggend net gaan opstaan en al die mis en donkerte het verdwyn. En jy kan vêr sien soos op ‘n oop dag by die see – dit is of die horizon net aanhou en aanhou.

MAAR tot dan is daar baie emosies om deur te werk…

NATUUR SE LEWENSLESSE

Het jy al gesit en vinkies dopgehou? Hier voor my venster waar ek sit en werk, is hulle baie besig met hulle voëltjie-lewe. Die mannetjie kom pluk die blare vir hulle nessie… maar as vroutjie nie tevrede is nie, dan moet die huisie weer van voor gebou word. Met soveel geduld pluk hy weer ‘n blaartjie, vlieg hy weg en kom weer terug. Pluk hy weer ‘n blaartjie, en kom bou weer aan sy nessie. Net om sy vroutjie tevrede te stel.

Hoeveel van ons is so, om met soveel passie aan te hou en aan te hou, om ons maat tevrede te stel? Wat beteken dit om te weet as ek aanhou probeer is die eind resultaat so GREAT… of is dit makliker om op te gee, of die skuld voor iemand anders se deur te lê. As jy om jou kyk is die natuur so ‘n leerskool vir elkeen van ons wat dink dis alles dié moeite werd.

Met moeite word die nessie gebou, eiertjies gelê, net dat die wind en weer die nessie uit die boom kan laat val, of die eiertjies word opgevreet en die hele proses word weer van voor af begin. Hulle hou aan en uit en saam met dit hoor jy hoe vrolik is hulle getjirp. Dan kan ek net my kop in skaamte laat sak, want my getjirp wil nie elke dag tot volle potensiaal kom nie. Té maklik gee ek in.

Dankie vir die natuur daar buite wat ‘n mens die ander kant van die lewe wys.

Dankie Here, vir die wonderlike tekens wat U geskep het om ons altyd twee keer te laat dink.