TYD

Wat is lekkerder om wakker te word. Jou lyf te rek en strek na ‘n goeie nagrus. Jou maat goeie more te sê en te weet daar wag ‘n splinternuwe dag vir julle. Saam ontbyt te geniet en elkeen sy koers te kry vir die dag.

Het jy dalk ooit daaraan gedink dat dit dalk die laaste keer kon wees wat julle mekaar gesien het. Niemand weet wat die dag inhou nie. Het jy dalk gesê geniet jou dag ek is lief vir jou. Of is julle uitmekaar met ‘n wrok wat nog nie opgeklaar is nie.

Weer kom ek terug na daardie woordjie tyd. Maak tyd vir mekaar. Gejaagdheid bring hom/haar nie terug nie. Dit is al wie jy het. Jou maat. Die pa of ma van jou kinders. Woede en konflik maak dat mense uitmekaar dryf. Trots bou daarop voort.

Maak seker voordat julle uit mekaar gaan in die oggende dat die ander een jou liefde hoor. Ons kinders leer dit aan. Net een sinnetjie. Ek is lief vir jou.

As jy dit nog nie gedoen het vanoggend nie en julle is al uitmekaar. Stuur daardie boodskap of maak daardie oproep.

Gee jou liefde. Dat dit borrel uit jou lyf.

Vanaand kry jy alles weet terug.

Baie” tending loving care”.

Alle verhoudings is veronderstel om te wees.

Geniet jou dag.

Geniet jou liefde

Lewe vol uit.

LIEFDE

Elkeen van ons beleef verskillende liefde deur die jare in ons lewe.

Elke liefde word anders gespel en word anders beskryf en beleef.

Om te weet jou hart behoort aan iemand gee ‘n mens die gevoel van hier is die plek waar ek hoort.

Dit is my “Safe Haven”.

Partykeer is liefde lafhartig, partykeer is die liefde onvergenoegd.  Partykeer is die liefde seer, partykeer hou dit nie boek van die kwaad nie.  Partykeer is dit verspot, partykeer is liefde wat ‘n wa deur die drif te trek.  Partykeer is liefde net dit wat jy kort in die lewe om jou binnekant weer te laat voel of al die wurms uitgebroei het en die skoenlappers fladder in die rondte. Partykeer is liefde so erg dat dit soos ‘n stuk gat in jou hart voel as jy dit verloor het.

Vandag het ek weereens besef hoe kosbaar is tyd.  Hoe kosbaar is dit dat dit wat jy voel vir iemand om dit nie weg te steek nie, om jou masker af te haal, dalk is dit onmoontlik, maar jy lewe net nou.  Niemand beleef jou vreugde as jy dit wegsteek nie,  niemand is daar as jy val nie, net jy beleef dit alles alleen diep binne jou. 

Wanneer daardie liefde weg val, gaan staan jou wêreld, jy skuil agter jou donkerbril, jy voel of jy jou kan toe maak in ‘n donker kamer en net aan al die verwyte kan oor gee van wat as…

Mag die liefde van hom/haar vandag die vlerke van ‘n engele wees wat jy die hele tyd sal voel saam en om jou. Wat jy saam met jou kan dra vir al die dae vorentoe. Daardie een liefde wat jy nie vir enigiemand kan beskryf hoe dit voel nie  Daardie liefde wat so kosbaar is. Wat jou staande hou.

Wat in jou geglo. Jou lief het sonder grimering, wat jou net kon toevou soos jy is. 

Geen pretensies nie.  Net suiwer liefde. 

Liefde is ‘n kyk.  Liefde is aanraking. Liefde is om net daar te wees. Liefde is vertroosting. Liefde is blind. Liefde is saligheid. Liefde is hemels. Liefde is menswees. Liefde is vergifnis. Liefde is respek. Liefde is kommunikasie. Liefde kom spontaan. Liefde is onbeskryfbaar. Dit is net daar. Of glad nie.

Mag jy ook vandag suiwer liefde ervaar waar jy is.  Mag liefde vandag deur jou stroom soos ‘n rivier wat sy paadjie afloop na iewers.  Mag jy liefde gee sonder om terug te verwag. 

WARMTE

WARMTE

Daar is so baie soorte warmtes wat ‘n mens beleef in jou lewe.

Om langs ‘n vuur te sit en kuier is romanties.
Die vuur tonge wat met jou praat. Die hout wat rooi warm is en van soorte rooi verander soos dit brand. Dit maak jou rustig.

Die warmte van jou dier wat styf teen jou lê. Sy asemhaling wat jy hoor en sy lyfie sien op en af gaan. Daar is niks soos daardie onvoorwaardelike liefde van hulle nie.

Warmte wat boemelaars kry van koerantpapier waaronder hulle slaap in die aande wat hul beskerm teen die koue.

Warmte wat ‘n maat vir jou gee as jy vanaand styf in sy arms kruip. Daardie warmte wat jou beskerm teen die koue van die wreedheid van die wêreld.

Daardie warmte wat jou hart binne vloei as jy na jou boerdery kyk en die skape met hul mooiste lammers op die groei weiding sien wei. Jou hart wat swel van trots.

Daardie warmte wat jy binne jou voel vir 9 maande en dan jou hele lewe vol maak wanneer daardie bondeltjie die wêreld binnekom.

Die warmte wat wys van jou nek boontoe wanneer jy bloos. Dit bly een van die onbeskryflike mooiheid. Dit is altyd vir my ‘n teken van wat binne ‘n mens aangaan op daardie oomblik. Om te bloos beteken jy is ‘n “fake” nie.

Dan natuurlik daardie diep warmte wat liefde in jou bring. Jou are wat klop vol warm rooi bloed.

Die woord warmte beteken baie meer as wat ek en jy net kan dink.

Waar jy ook al is vandag.
Deel jou warmte uit wat van binne jou kom.
Dat almal jou hart kan voel en sien.
Baie se warmte kom deur hul oë.
Daar kom warmte deur aanraking. Daar kom warmte deur net daar te wees.
Of net te luister.

Ons almal is mense, ons hunker na warmte elke dag van ons lewe. Maak nie saak waar jy bly nie. Op die ewenaar, in die suidpool.

Daar waar jy is, en jy ontvang vandag warmte is jy een gelukkige mensie.

Dit is een van die kosbaarste gevoelings wat jy kan beleef.

My liefste ouma Lettietjie

Oor ‘n paar minute was dit jou verjaarsdag.  Ek is nie by die huis om ‘n foto te gaan soek nie. So ek het ‘n video wat moet help om weer die “memories” op te helder.

Lank lank gelede het ons ons warmste klere aangetrek. Musse op ons koppe. Handskoene aan het ons die pad gevat Spoorwegstasie toe om te gaan wag vir die lorrie om te arriveer met al die pakkies. Wat ‘n koue plek. Die wind het om die hoeke gehuil. Binne was ‘n stofie wat darem gehelp het teen die koue wat net die Vrystaat kan stories oor skryf.

Jou huisie se kombuis was altyd warm. In die oggend kon jy ruik watter pap is op die tafel as jy deur die gang gekom het kombuis toe. Die koolstoof het gepraat. Matabele pap. Slap pap. Mieliepap met suiker en lekker botter. Melk pap.

Lekker patats met bobotie. Of groenbone nog op die oudtydse manier gekook met groot aartappels in saam met die lekkerste gebraaide hoender in die oond. Sy velletjie het so geknars onder jou tande. Groot baklei oor die magies en lewertjies.

Somertye het die vrugte trosse gehang aan al die bome. Perskes. Vye. Druiwe. Dit was soos die paradys. Praat ek nie eers van die lekker klontjie lekkers in die kardoes sakkies nie. Die diaken pilletjie wat ons Sondae gekry het in die kerk.

Ek was bevoorreg om my eerste dag van my skool uit jou huisie te kon gaan. Dit is iets wat ek nie onthou nie. Wens ek kan daardie oomblikke herroep wat onherroepbaar is.

Ek kan jou al beleef met jou hand in myne om die hoek na die grootte skool met my 5 vingertjies vol as juffrou vra hoe oud Aletta. Hoe gelukkig om jou eerste kleinkind te kon gewees het.

Baie jare later is jou eerste agter kleinkind gebore. Op hierdie video kan ‘n mens net Ouma se liefde sien en voel. Jy kon daardie lyfie stukkend druk. Dit is hoekom ek weet jare gelede toe ek ook net ‘n baksteen hoog was het jy my net so opgetel en stukkend gedruk en gesoen.

Geen kwaad woord het ooit oor jou lippe gekom nie. Jou hart was net altyd vol liefde.

Dankie dat ek so ryklik geseënd was om Ouma my Ouma te kon genoem het. Waar Ouma vanaand sit en my boodskap saam met my lees en lees soos ek tik en uitvee en weer voor begin weet dat jy het vir my so baie beteken. Jy het my so baie geleer. Vir elke druk teen jou lyf. Vir elke sagtheid waarmee jy altyd na my gekyk het.  Dit word diep diep in my hart gekoester.

Liefste Ouma geniet jou mooi video saam met jou agter kleinseun wat nou al ‘n groot man is. Jou hart sou oor loop van trots oor hom. Dankie vir Ouma se kosbare liefde wat altyd daar was vir my.

Mis jou baie.

Liefde van hier onder op aarde.

Jou kleindogter en naamgenoot

Aletta

MOEDERLIEFDE

Gisteraand gaan tel ek gou my hoendertjies in die hok, want toe dit donker word was ek nie daar om hulle te bêre nie. Donkerte het klaar gekom so ek gaan nie een kry as daar kort nie, want hy het gaan wegkruip. Ek gaan die hok binne, my groottes sit almal op die stokke mooi langs mekaar.

My kuikens sit warm onder mekaar se vlerke ingekruip. My moeder hen wat vier babas het sit op die grond, met al vier haar kroos diep binne haar vlerke, snoesig warm en beskermend.  Moederliefde in hoofletters.

Dit is moederliefde in ons diere lewe. Daardie mamma se trots om haar kroos veilig te hou en te beskerm is baie sterk. Sy sal haar lewe opoffer vir haar kinders.

Moederliefde is ‘n woord met baie betekenisse. Dit is ‘n rol wat God ons gekies het om te speel.

Kinders is ‘n gawe van God, hulle is ons geskenke van Hom.

Ek as moeder moet hulle versorg, omgee, ek moet hulle help in hulle behoeftes, elke dag van elke maand en jaar. Ek moet betrokke by hulle wees. Ek moet help met hulle onderrig, hulle opleiding, ek as mamma moet kan dissipline toe pas. Ek moet hulle aanvaar en onvoorwaardelik lief hê. Ek moet vir hulle deur my gedrag wys hoe om te lewe. Soos kinders groter word verander hulle, maar ek as moeder, se liefde en omgee moet altyd dieselfde bly.

Of daardie lyfies klein is en of hulle al begin plooie kry het, hulle is myne en myne alleen. Daar moet altyd ‘n plek op my skoot wees vir hulle. Ek moet hul “safe haven” wees. Vrees, angs of bangheid moet nie tussen ons staan nie.

Ek as mamma is daar om hulle op te help. Hulle by te staan met die lewenslesse van die lewe.

Dink om jou moeder te verloor as jy jonk is, is erg, want jou steunpilaar, jou mentor, jou liefde is een oomblik nog daar en dan is sy weg. Ook om nie ‘n moeder te kon hê nie, moet jou as mens ‘n ander siening gee oor moederskap. Om misbruik en gebruik te word deur ‘n moeder verander ook jou siening. Of om ‘n moeder te hê maar sy is afwesig.

Daar buite is baie moeders wie se kinders hulle in ouetehuise gesit het. Daar buite is baie kinders wie se ouers hulle afgeskryf het. Beide kante toe is daar seer, vreugdeloosheid, alleenheid, jou hart wat voel of hy uit mekaar geruk word van pyn, woorde wat geslinger was toe elkeen seer gekry het. Baie keer is trots ‘n lelike ding wat rondloop, wat keer dat ‘n mens oor die verlede praat en alles uit sorteer. ‘n Mens dink daar is nog ‘n more om dit reg te maak tot daar nie meer daardie oggend is nie. Wanneer nie eers ‘n blom dit kan reg maak op die kis nie.

Dalk is dit die “memory” van ‘n vorige keer se seer wat keer dat jy vashou om nie te woord te uiter wat binne jou afspeel as jy daaraan dink nie. Wat keer dat woorde soos jammer oor die verlede, kan ons dit vergewe en vergeet en aangaan met hierdie kosbare geleende tyd wat vir ons gegee is. Liefde tussen ‘n moeder en haar kind is kosbaar. Ek as moeder is so feilbaar, elke dag van my lewe. Die feit dat ek ouer is maak my nie slimmer nie. Ek bly ‘n mamma wat ook liefde benodig, wat ook drukke kort, wat ook wil voel sjoe ek beteken iets vir my nageslag.

So die woord moederliefde beteken baie dinge. Iewers tussen hierdie sinne het jy jou dalk raak gelees. Of jou moeder afwesig was in jou jare en of sy te aanwesig was, dat jy voel jy kon in ‘n gat klim as jy net haar stem hoor. ‘n Moeder is ‘n moeder. ‘n Mens kan hul nie verander nie. Hulle is gebore met eienskappe wat hulle maak wie hulle is.

Maak vandag ‘n tyd om jou moeder ‘n boodskap te stuur of as jy kan ‘n koppie koffie saam met haar te gaan drink. Stuur ‘n foto, leer haar om te “video-call”. Maak tyd vir iemand wat eintlik naby hou hart lê.

Gee liefde al word jy verstoot, moenie ophou probeer nie.

Liefde gaan nie ongesiens verby nie.

SOORTE MENSE

Ons is almal uniek geskape deur Hom.  Geen mens op aarde het die reg om af te kyk op iemand anders nie.  Dan praat ek nie eers van hoe jy met mense praat of hoe jy hulle hanteer nie.

Daar word gesê dat vormings jare begin as jou kind klein is.  Soos hulle ouer word,  word dit minder. Tot daar nie meer ‘n verandering in jou kind se persoonlikheid of gedrag kan plaas vind nie, tensy ons almal die hulp van ‘n sielkundige inroep nie.  Jy is die mamma of die pappa,  leiding kom van jou af.

Soos die jare van jou lewe aanstap en jy al ouer word en jy in baie sirkels beweeg, vra jouself af,  is jy daardie persoon oor wie mense mal is oor,  hulle is dankbaar jy is deel van hulle kring, of jy is daardie persoon van wie mense eerder wegdeins. 

Daar is so baie verskillende soorte mense  op aarde. Die beskermer, die dronkaard, die narsis, die versorger, die begaafde, die sportster, die professioneel, die bouer en die bakleier, die bakker, die skelm, die gevangene van jou eie lewe, die weldoener en die geliefde. Die lys kan nog aangaan.

Iewers tussen die mense is jy. Iewers beskryf die naam jou. As jy die woord oplees, wat sal jy kry. Kom ons vat die onbekende soos ‘n narsis.

As ek die woord narsis moet beskryf, sou ek sê dit klink vir my na ‘n vetplantjie. Dalk het die blare dorings, die kleur van die blommetjie sou geel wees. Die beskrywing van ‘n narsis op die webtuiste het my hoendervleis gegee.

My eerste gedagte was wie het hierdie woord geskep.  Wat het gebeur dat dit so beskryf word. Watter impak het dit op ‘n persoon gehad.

‘n Narsis ‘n persoon wat ‘n obsessie met homself het.  Wat geen empatie kan betoon nie en ander se lewe hel maak.  Die emosionele, verbale en fisiese mishandeling wat hulle uitdeel  aan ander raak net meer. Die eie ek floreer, met ‘n groot behoefte aan erkenning en bewondering.  Om ander af te kraak en te verkleineer laat hulle beter oor hulself voel.

Ek wonder of hulle ander mense kan liefhê, want waar die eie ek tel, is dit onmoontlik. Jy is te lief vir jouself. Gewone mense word gemanipuleer en misbruik om hulle doelwitte te bereik. Daardie groot groot magsbeheptheid. Narsiste is altyd reg, hulle woede bars uit hulle nate en hulle toon min of geen berou daarna. So word baie mense om die bos gelei want hulle voel goed, iemand sien hulle raak, maar min besef hulle hulle word net gebruik totdat die taak voldoen is wat hulle moes verrig.

Om so verslaan te word op ‘n daaglikse manier is uitmergelend.

Bly jy stil is dit verkeerd.  Staan jy jou man is jy verkeerd.

Wanneer is ver, ver genoeg?

Wanneer trek jy die streep?

Wanneer verlos jy jouself van so ‘n persoon?

Soos ek hier sit en skryf dink ek aan al die soorte mense wat ek al raak geloop het in my lewe. Hoeveel van hulle my geleer het van ja en nee. Moets en moenies. Hoe ek mense moet hanteer, hoe ek met hulle moet praat, hoe ek hulle oor hulle self moet laat voel.

By almal was daar ‘n les om te leer. ‘n Ware lewensles. Iets wat niemand kan steel by jou nie.

Baie aande as ek in my bed klim en ek die Here dank vir my dag en my genadegawes wonder ek hoe ‘n narsis dit reg kry om met dankbaarheid aan die slaap te raak, want alles en almal is in hulle oë niks werd nie.  Hulle gaan slaap stoksielalleen en staan op stoksielalleen met ‘n koue hart.  Dit voel vir my of dit altyd winter om hulle is. Die mure van hulle harte aanmekaar gegom is van valsheid.

Dan vra ek die Here, hoe kan ‘n mens so liefdeloos en koud leef. Hoekom jaag hulle die eie ek so na. Dink die meeste wat so ‘n persoon aan sy medemens kan gee op ‘n dag is om afwesig te wees. Die stilte word dan waardeer.

Waar jy ook al sit en dit lees wat ek skryf, gaan my hart uit na jou as jy die een is wat deur so ‘n marteling moet gaan en met ‘n narsis moet saam lewe.

Met watter soort mens jy ook al te doen het in jou lewe, iemand wat jy nie verstaan of wat jou menswees ruk, gaan op jou knieë en dra hulle op aan die Here.

Pille vir genesing is daar nie hier op aarde vir mense wat vreugde steel by ander nie.

Net gebed bly oor.

KERSVADER/HEMELSE VADER

Nog amper net 40 dae en Kersvader moet weer sy sakke kom aflaai vol bestellings.

Al die aardse bestellings, van klein na groot. Almal begin nou al in opwinding die lyste maak of om dit te begin uitvoer.

Ons raak al so besig met die aardse goed,  dat ons vergeet van ons Koning, Wie se geboortedag amper hier is.

‘n Babatjie, gebore in ‘n stal. Om weer te sterf in my plek.

Met hoeveel dankbaarheid lewe ek? Sien ek al die dinge raak waaroor ek moet jubel en juig? Of kyk ek vas teen die sukkel bestaan van die lewe, teen verraad,  teen haat, teen moord, teen ‘n liefdelose lewe, ek kan aanhou, daar is nog baie.

Al hoe ek deur die trauma van die lewensdae kan gaan,  is om op my knieë te bly.

Om elke dag wakker te word met ‘n lied in my hart. Die mooi van die dag raak te sien en te weet HY is in beheer.

Dat niks wat deur die dag moeilik sal wees nie, want HY is daar om my hand vas te hou of om my te dra, wanneer my voete vassteek. Wanneer my geloof in myself verdwyn.

Om vanaand in die bed aan die slaap te raak met ‘n glimlag op my gesig, want ek het in die dag my fokus verplaas van negatief na positief.  Met ‘n rustigheid om te weet HY was daar, al kan ek HOM nie sien nie. HY is deel van my lewe.

En geen aardse bestelling vir Kersvader kan by HOM kom nie!!

Aardse goed vergaan mettertyd,  maar my KONING bly leef.

LEEF DIE SEISOENE

Lente, lente, lente,  ek dink ons het ‘n seisoen gemis.

Want ewe skielik is dit somer.

Die swaeltjies is hier…..hulle is besig om weer hul huisies reg te begin maak.

Hulle gaan weg, en kom weer terug as die tyd reg is.

Kan ons dit van onsself ook sê?  Elkeen van ons het een of ander al in ons lewens ‘n besluit gemaak om te verander of van werk of van huis of (dalk)  moet ek dit nie noem nie, maar van familie ook.

Jy het genoeg van jou man/vrou gehad en ander weivelde gaan soek of jou maat verloor aan die dood.

As jy die verandering gedoen het, keer jy nie terug na die ou pad nie. 

Nee jy bly net op die nuwe een, of jy sukkel in die begin en eers na ‘n lang ruk dink jy het jouself in die voet geskiet met jou besluit, maar tog hou jy nog steeds aan met stap vorentoe.

Baie keer nadat ‘n mens in ‘n situasie was, dink jy eers daarna, moes jy dit nie anders hanteer het nie.

Mense wat ek voor respek het, en ‘n plek in my lewe het, sal my verskoning dan aanhoor, of hulle dit aanvaar of nie, dit is hulle besluit. Tog loop ons nie dieselfde pad as die swaeltjies nie.  Hulle lyk so opgewonde om weer alles wat bekend is, weer om hulle te voel en te ervaar.

Ons kyk eerder ander pad, en ons harte het op ‘n manier daardie huppel verloor. 

Iemand het Vrydag oor die radio gepraat oor kommunikasie, ons weet nie wat in ‘n ander persoon se kop aan gaan nie.

Ons moet ons ophou verbeel wat hulle dink. Sonder ‘n gesprek weet ek nie hoekom tree jy op soos jy optree nie. Doen jy dit uit wanhoop, of woede, of bitterheid, of alleenheid, of verwerping, of voel jy net jy hoef dit met niemand te bespreek nie of het jy net besluit ek is nie meer lus om te wees wie almal dink ek is nie. Dit is jou besigheid en geen mens het ‘n antwoord daarop nie, want hy/sy loop nie in jou spore nie.

Maar as gevolg van jou onttrekking en jou stilte, voel die mense na aan jou dat hulle jou seer gemaak het, want hoekom bespreek jy dit nie. 

Hierdie jaar het mense op my pad gekom, sonder dat ek eers gedink het hulle sou uitreik na my.

Hulle het elkeen op hulle manier verstaan waardeur ek gaan. Ek hoef nie eers my hart uit te gepraat het nie. Dit was of hulle dwarsdeur my kop en hart kon kyk, en net met ‘n druk of oogkontak of ‘n glimlag woorde kon wissel.

Partykeer kan ‘n mens in stilte ook daar wees, en partykeer is dit baie meer werd as woorde.

Ek dink dit is hoekom ‘n persoon se empatie wat blind of doof is anders is.

Want net met gebare of gevoel kan jy jou uitdruk. 

Dieselfde kan ek sê van iemand se  “body language”. Dit is iets wat jou laat vou soos nou.

Geen woord kan gespreek word nie, maar net die houding kan jou laat uitmekaar val. Jou minderwaardig laat voel en jou selfbeeld ‘n knou gee.

Soos watter een van almal hierbo is jy, om jouself te onttrek, of laat jy toe dat jou “body language” mense vou of laat jou besluite en keuse die mens word wie jy is.  Daarmee mis ons elkeen ook vir lente, ons gaan sommer dadelik na somer toe.

Want die antwoord is: om oop te maak en jou binneste te deel met iemand wat jou binneste ken of met ons Vader wat jou geskep het.  By elkeen van bogenoemde gaan jy ‘n ander antwoord kry of jy gaan moet wag om op Sy tyd jou antwoord te kry.

Ek weet hoe dit voel om jare te wag vir ‘n antwoord. Dit dryf jou teen die dak uit. Die mense wat weet gee soveel antwoorde maar al die blokkies van die legkaart sukkel om in te pas. Die hoekies bly uit pas, krom en skewe kante wil nie pas nie. Die wat weet swyg soos die graf. Dit vat aan my hart.

Dan wens ek ek is soos ‘n swaeltjie. Jy bly hier vir ‘n ruk, pak nie eers jou goed op een oggend nie. Nee, jy vat jou vlerke en vlieg net weg. Al wat jy agter laat is grond op iemand se voorstoep met jou leë nes as bewys dat jy wel daar was die somer. Hoe verder jy vlieg hoe ligter word jou gemoed.

Volgende jaar kom jy weer terug na jou ou bestemming waar daar mense is wat bly is om jou weer te sien of ander wat jou nes stukkend geslaan het in jou afwesigheid. Ten minste weet jy waar jy staan met hulle. 

Partykeer sluit jy jouself so erg toe dat jy nie eers die somer sien nie, jy leef dwarsdeur die ander seisoene, voor jy jou kon kry is dit weer lente. Antwoorde is nog steeds ‘n blanko lyn. Daar staan net vraagtekens met hartseer gesiggies.

Die slim mense sê deel met dit,  sit die agter jou en gaan aan. Immigreer bietjie na ‘n ander land toe.

Daar is ook water en kos en ‘n plek om ‘n tuiste weer te vind. Maar die hoofsaak van alles is, jou verlede stap ‘n pad saam met jou. Daardie legkaart wat se stukke nie wil pas nie, se antwoord is nie omdat jy dom is nie, of daar stukkies kort nie,  dit is net nog nie die regte tyd dat die legkaart inmekaar moet skuif nie.

Geniet jou rit as ‘n swaeltjie, vlieg, sien die wye wêreld, deur jou oë en deur ander se oë. Behou die goeie, gooi die sleg weg. Maklik gesê nè. Na ‘n ruk sal jy weer oppad terug wees na alles wat bekend vir jou is.  Tyd heel alles. Leef Lente, Leef Somer, Leef Herfs en Leef Winter, Leef die volle jy uit elke minuut van die dag. Sprei jou vlerke swaeltjiekind.

DROOM MAN

Ek was ook lank gelede ‘n klein dogtertjie, en elke klein dogtertjie droom oor haar droom man of Ridder op ‘n wit perd. Daardie een persoon wat niemand sien kom het nie. Soos die jare verby gaan en ek groter geword  het – bly daardie droom by my. Ek kon hom so mooi beskryf in my dagboek.

Punt vir punt. Net daar in my dagboek kry hy lewe. Word hy volwaardig mens, maar in die werklike lewe bly hy op die horison. Ek kon myle loop en hy kom nie nader nie.

Einde laaste het ek my hart gegee aan die een waarvan almal gehou het. Almal om jou, het al voor die kansel gestaan of was op pad daar heen. So het baie jare verby gegaan en my binnekant kon nie meer saam met my buite kant lag nie. My dagboek is al wat die hele tyd ‘n hegte pad gestap het saam met my. Dit is al waarin my ridder nog voort geleef.

Na die skeiding, het ek meer tyd gemaak om alles in my lewe en van my hart op die bladsye van my dagboek vas te gevang het. Daar het intussen baie ander karakters ook hul plek in my dagboek gevind. Rooikappie en die wolf, Scar van Lion KIng, Die dapper muis, Aaklige heks van Sneeuwitjie, die Goeie Feë, maar my dagboek het nie vorm gekry nie. Dan net soos Aspoestertjie die skoen moes aan pas saam met 100de vrouens, kry ek op ‘n onbeplande dag ‘n skoen wat ek moet aan pas, en hy pas of dit spesiaal vir my gemaak was. Staan daardie Ridder op sy wit perd voor my. Is al die ink in my pen opgeskryf want die storie gaan nou geskryf word in die regtig lewe.

Ons het elkeen ons eie beskrywing van ‘n droom man. Soos die jare gestap het van ‘n klein dogtertjie tot nou het my opinie oor ‘n droom man baie verander.

‘n Droom man het verander in my sielsgenoot. Daardie een persoon wat jare gelede al op my pad gesit is, die ink in my pen moes net opgedroog het, voor ek hom kon ontmoet het.

Jy is daardie een mens wat net deur na my te kyk, te weet ek is aan die stry met iets binne my of ek bars uit my nate van geluk. Wat met jou oogkontak alles kan sê wat nie in woorde nie hoef nie. Wie my hand vat en oor die moeilike klippe help. Wie saam met my lag. Wie my kan verras met ‘n bos blomme uit die tuin/veld. Jy beleef my met al my nonsens. Jy luister as ek my drome met jou deel, jy dink nie ek is deur die weer om te dink soos ek dink nie. Jy word een met my. Jy maak van my ‘n beter mens. Jy maak my toe in jou arms elke nag, daar waar ek veilig voel en soos ‘n klip kan slaap.

Saam word jy en ek ‘n ONS. Jy het laat in my lewe gekom, ek kan nie belowe dat ek daar sal wees vir die res van jou lewe nie. Maar ek sal jou lief hê tot aan die einde van my lewe.

Saam sal ONS alles aanpak. Saam sal ons ons liefde gee soos ‘n kraan wat oop is aan ieder en elk wat dit benodig. Diep diep uit ons binneste. Want saam is ons ‘n wenner.

Ek, as ‘n ouma kan my kleindogters leer dat Ridder’s op wit perde nie altyd is soos hulle lyk nie. 

Dit is eerder Sielsgenote, waarna julle moet soek.  Met net ’n oogkontak kan jou hart gallop.

My liefste kind soek daardie hart klop. Daar waar ‘n ONS is, sal jy hom vind.

Liefde Ouma

SPROKIE

So kom die dag … daardie een vir wat jy so lank gewag het, maar nie tyd of datum van geken het nie!

Jy staan voor die deur en hy gaan van self oop, sonder geweld, sonder ‘n sleutel. Amper soos die sprokies sin. Of die feë dit met haar towerstaf oop tik.  Voor jou gaan ‘n splinternuwe wêreld oop. Een van soveel skoonheid, asof dit nog nooit oopgemaak gewees het vir die “real world”.  Lyk of alles lewe, of alles juig van blydskap so ver jy loop. Of alles jou verwelkom met soveel liefde, vreugde en vrede. Jy voel op so ‘n “high”.  Met ongeloof loop jy al verder, want dis ‘n wêreld wat jy nie ken.

Dis of Aspoestertjie se verhaal voor jou afspeel.  Altyd tevrede gewees om almal te “please”. Om hard te werk en stelselmatig van jouself te vergeet. Dan jouself te sien in ‘n beeld soos ‘n spieël. Hoe al die seer en sleg van jou afval en vervang word met die mooi. Dat vrede en liefde die plek in neem en vir die eerste keer in ‘n lang tyd sien jy jouself soos ander jou sien wat baie naby saam met jou lewe. Die beeld wat ingekleur is nou, wat warmte en geluk uitstraal.

Agter jou is die GROOT – ongelooflike GROOT deur besig om toe te gaan.

Jy weet met ‘n lied in jou hart dat jou sprokie ‘n werklikheid geword het.