FEETJIE

Van kleuterjare word stories vertel van feetjies.  In my geestesoog sien ek die skoonheid van een. Sy het die mooiste rok aan. Soos die son haar vang verander die kleure van die rok. Dit is amper of dit deurskynend is. Haar hare is koperrooi met die groenste pare oë. Met net ‘n kuiltjie in haar linker wang.

Die sagtheid wat deur haar oë straal, dring jou binnekant binne. Haar treetjies is amper of haar voetjies net-net die grond raak.

Haar hande is uitgestrek langs haar lyfie. Daar waar sy aan die plante en bome raak lyk dit kompleet of hulle lewe kry. Hulle blare blink in die lig. Al die plante se blommetjies lyk so vars en hulle koppies draai in haar rigting.

Agter haar is daar troepe van bytjies en vlinders wat haar volg. Al wat jy hoor is die gefladder van hulle vlerkies. Almal volg haar want waar sy tot stilstand kom, gaan sy sit op ‘n groot boomstomp met sy mos kombers tussen die varings om haar storie te vertel. ‘n Storie wat almal op die punte van hulle padda stoeltjies laat sit en met ogies wat blink luister hulle na haar storie.

Met alles in haar vertel sy haar storie. Haar groen oë lewe saam met haar lyfie soos sy al die stemme naboots met haar vertelling daarvan. Net soos in storieboeke eindig haar stories elke keer met die mooiste einde.

Daarna gaan almal huis toe met ‘n opgewondenheid wat borrel binne hulle. Hulle kan nie wag om by hulle huisies te kom om die storie oor te vertel nie, net soos sy dit gedoen het.

So is dit in ‘n mens se lewe ook.  Wanneer jy iets belewe wat jou sonder woorde los, kan jy nie wag om dit oor te vertel nie.

Met groot oë vertel jy die storie oor! Jou lyftaal praat saam met jou.

Die storie moes ‘n groot indruk op jou gemaak het. Of dit ‘n boek, of ‘n fliek of ‘n ware gebeurtenis gewees het, jou hele wese skree daarna om uiting te gee oor dit.

Net soos die feetjie se skare gesiggies, sit jou mede-luisternaars ook reg vir hulle storie.

Almal se oë is op jou gerig,  almal word meegesleur soos jy vertel,  geen vrae nie, almal luister net.

Dit is so ‘n lekker gevoel om jou storie oor te vertel.  In die ou ou jare was dit al waarna mense geluister het. Stories wat vertel is van een persoon na die volgende persoon. Ja daar is nou wel stertjies by gelas maar, op die ou einde het die storie die hele wye wêreld ingegaan.

Daar was geen storieboeke,  geen selfone wat boodskappe kon stuur nie,  geen televisie om stories te kon oor dra tot in jou binne huis nie. Nee almal het om ‘n tafel of voor ‘n kaggel gesit en stories is uitgeruil. 

Wat ek wil sê met hierdie stuk wat ek skryf, ons het klein en groot meer tyd gemaak vir mekaar. Want daar was niks anders wat ons aandag vasgehou in die dag of nag nie. Ons kon nie wag vir daardie storietyd in die aande nie. Dit was so deel van ons. Nou kry niemand meer tyd om eers ‘n slaap storie vir hulle kinders te lees as hulle gaan slaap nie,  eerder met hul selfoon in die hand word kinders aan die slaap.

Wat is lekkerder om na ‘n lekker storie te luister of dit gelees word uit ‘n boek, of die vertel word met jou mond en lyftaal. Is dit nie ons werk om weer tyd te maak soos in donkie jare gelede om meer stories te vertel as om meer tyd te spandeer op ons selfone of rekenaars nie.

Dink jy dit is hoekom ons verleer het om te lag, dat die wêreld om ons kan vergaan,  ons sal dit nie eers opmerk as ons more oggend opstaan nie. Ons neuse is in ons tenologie vasgebind.

Gaan haal uit daardie storieboeke wat so diep in jou kas gebêre is, vat vanaand tyd en gaan sit langs jou kind of daardie spesiale mens en lees hard op uit die boek. Geniet die stuk wat gelees word, more aand sal jy sien, daardie spesiale tyd het ‘n fees geword.

Laat die feetjie in jou uitkom.  Gebruik jou lyftaal, jou oë, jou stem, vertel daardie storie met baie passie.