MY BRIEF VIR JOU TROUDAG

Op ‘n bruid se troudag gebeur so baie dinge. Maande se voorbereiding kom tot ‘n end. Almal wag in afwagting vir daardie oomblik wanneer die bruid aan haar pa se sy die kerk binnestap.

Ek dink ons vergeet partykeer van daardie pa langs die bruid. Wat alles deur sy gedagtes gaan daardie dag. Dalk is dit die volgende woorde wat deur ‘n pa se gedagtes loop op daardie dag:

My liewe meisiekind, hier is my gebed vir jou op jou troudag:

Daardie eerste ontmoeting toe ek jou pikswart koppie en kreukel neusie sien en ek jou naelstring knip, het jy onvoorwaardelik diep in my binneste ingekruip. Ek het daardie pienke kleine fyn perfekte lyfie teen my vasgedruk. My hart het onbeheersd geklop en trane het uit my oë geloop, want ek het ‘n stukkie van my vasgehou. Jy is my grootste trots.

Soos die jare gevorder het, het ons twee die beste maats geword. Ons het soveel oomblikke gedeel. Van jou eerste tand trek, tot jou groot oomblik wat jy fiets gery het sonder die klein wieletjies. Jou eerste skooldag wat jy soos ‘n wafferse heldin alleen agter gebly het. My sakdoek wat jou trane moes afvee toe Tinkels haar laaste asem uitgeblaas het. Om jou te kon leer van ons Pappa in die Hemel. Al die lag, grappies, ernstige geselse, daar is so baie om op te noem. As ek my oë toemaak kan ek jou gesiggie sien wanneer jy jou neusie kreukel, en ek weet hier kom nou ‘n groot “talk”.

Die lewe het sy klappe uitgedeel vir jou, maar jy het net elke keer jou nekkie styf gemaak en jou koppie opgetel en weer vorentoe gebeur.

Pappa se raad vir hierdie wonderlike tydvlak wat jy binnestap is die volgende: As jy wil hê dat hierdie liefde vir ewig hou, troetel dit met spesiale sorg, beskerm dit, moenie dit verwaarloos of mishandel nie. Moenie dat dit gewoon of ordinêr word nie. As liefde sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit sprankel soos nuut. Dit groei mooier soos die jare stap. Waar liefde is, is alles magtig.

My blommekind, jy stap al jare die pad wat beplan is deur ons Hemelse Vader vir jou. Vandag is een van daardie groot dae. Geniet elke sekonde van hierdie dag waarvan jy al droom toe jy klein klein was.

Ek is bevoorreg om langs jou sy te stap na jou liefde van jou lewe. Ek sal altyd net ‘n gebed ver wees vir jou.

Lief jou met my hele hart.

Pappa

WARMTE

Vroegoggend kan jy die knyp van die winter voel. En as die sonnetjie begin sak, trek jy weer jou warm baadjie nader.
Die wind is besig buite tussen die bome en die gekleurde blare val grond toe. En dit lyk soos konfetti wat die mooiste prentjie onder die bome maak.
Die velddiertjies weet hulle moet vroeg middag hulle warm huisies opsoek, want as die donker hul oorval, loop die koue daarmee saam.

Hoe gelukkig is ek en jy om vanaand by ‘n warm huis te kom. Jou styf toe te maak met komberse en te weet moreoggend is jy reg vir nog ‘n dag in die koue. Gepantser teen die koue. Al is jy warm aangetrek kan jou binneste nogsteeds koud wees. Net so kan jou binneste ook warm wees, of deur drank/dwelms of deur daardie wonderlike gevoel van liefde en vreugde wat deur jou are vloei. Dit is soos naakte lywe teen mekaar. Mense hitte kom nie by ‘n kombers of ‘n aircon nie.

Wat wil ek eintlik sê: dat warmte/koudheid deur ‘n mens loop. En dit is wat jy deurgee na mense. ‘n Huis kan sonder ‘n kaggel wees, maar as mense se warmte nie aanvoelbaar en sigbaar is nie, sal jy baie houte moet oppak om die vertrek warm te maak. Soos ‘n glimlag of ‘n druk of ‘n oogknip. Dit alles maak dat jy goed voel en daardie hoendervleis wat jy voel as iemand hard praat of baklei, verdwyn soos mis. Daar kom ander energie deur. Voelbare energie. En nie een keer praat ek hier van warmte wat jy in jou binneste kry deur ‘n warm drankie nie. Nee, ek praat van warmte wat mense aan mense gee.

Of dit ‘n kombers of ‘n bord kos of ‘n kledingstuk is wat jy aan ‘n boemelaar of iemand wat dit benodig gee, daar is ‘n smile op haar/sy gesig en vir ‘n breuk van ‘n sekonde het hy/sy vergeet van die koue waarin hy/sy leef.
Nes ‘n dier, wanneer jy met rustigheid met een praat, waai sy stert want hy/sy kan aanvoel jy gee regtig aandag.

Groot of klein, oud of jonk, mens of dier, ons almal reageer op warmte. Enige manier van warmte. In hierdie wintertyd wat voorlê laat jou warmte uit jou vloei, dit kos jou niks. En maak die winter ‘n ander kleur as grys, wit en swart, verander die kleure na helder rooi, groen en orange kleure.
Soos die blare wat besig is om te verkleur.

KLEUR DIE LEWE IN MET WARMTE. WARMTE WAT JY UITSTRAAL NA BUITE.

VRIENDSKAP

Ons almal ken vir Trompie en die Boksombende. Hulle uiterlike en innerlike het so verskil, maar tog was hulle vriende, een vir almal en almal en vir een.

Daar is baie wat gesê word oor vriendskap. Daar is baie beloftes wat gemaak word tussen vriende. Tog is daar is verskil tussen kennisse en vriende. ‘n Verskil wat geweldig groot is. Kennisse is die mense met wie jy net oppervlakkig gesels of kuier. Vriende is die mense met wie jy jou hart kan oop maak en hulle jou aanvaar nes jy is. Ek het ‘n paar weke terug ‘n oproep gehad van ‘n persoon. Ons het in jare nie met mekaar gesels nie, maar ons kon praat oor alles nes in die ou dae. Dit is een van die voordele van vriendskap. Daar hoef nie elke dag kontak te wees nie. Maar wanneer daar wel kontak is hoef jy nie voor te gee nie. Jy hoef nie te wonder oor hoekom daar ewe skielik nou weer kontak is nie.

Wanneer trauma jou tref, dan besef jy wie is regtig jou vriende. Wie gee regtig om. Wie deel dit letterlik en figuurlik met jou. Dit is die vriende wat nie net daar is om stories te versprei nie, maar om jou hand vas te hou waardeur jy ook al gaan.

Ek dink ‘n mens bêre so ‘n hegte vriendskap diep in jou binneste. Jy weet wie is “genuine”. Dus wanneer jy uit die bloute gekontak word is dit of al die drade net opgetel te word, jy hoef nie te verduidelik waar jy was al die maande nie. Elkeen van ons kort daardie spesiale vriendskappe in die lewe. Dit is my “safe haven”. Ek kan lag, ek kan baie praat, ek kan huil, ek kan hartseer wees, ek kan verspot wees, ek kan net stil sit en niks praat nie, ek kan my hart uit praat, sonder om te voel soos ‘n mislukking, ek kan my prestasies deel sonder om te voel of ek eintlik daaroor spog.

Ons elkeen kort daardie mense in ons lewens. En hulle is min gesaai in die lewe. Geniet daardie vriendskappe, hulle is kosbaar. Pas hulle op. Voed hulle. Wees ‘n vriend en nie ‘n kennis nie. Maak jou leuse oor vriendskap soos met Trompie en die Boksombende, Een vir almal en almal vir een.

GELUK

GELUK… wat beteken die woord?  Vrede in jou binneste?

Tonne liefde?    Gesondheid?    Seëninge? 

Vir elkeen van ons op aarde het die woord ‘n ander betekenis.

Maar daardie betekenis is deel van ons lewe. Van ons daaglikse bestaan.  Dit hou ons aan die gaan.  Dit gee ons hoop.  Dit gee ons krag om dit wat soos ‘n berg voel, aan te pak met alles binne ons.

Beskryf jou geluk,  myne is gesondheid,  familie en vriende wat my aanmekaar hou.  Wat my toegooi met hulle vrede,  wat my aanvaar nes ek is.  My werk en my huisie waarin ek bly met al my diere kinders.  Die omgewing waar ek my bevind,  wat net al die mooi van die lewe uitstraal,  wat my daagliks laat besef hoe klein is ek as mens.  Hoe groot is ons Vader dat Hy alles geskep het in net 7 dae.  Elke klein en groot wonderwerk wat hier is op aarde. 

Ons nader die maand waarin ek my tweede kans gekry het in die lewe,  jare gelede het my tyd gaan stil staan in Augustus,  Die maand het verby gegaan met my daarin maar ‘n deel van my het gaan stilstaan in daardie tyd.  Dae wat ek niks kan van onthou nie. Dae wat verby gegaan het vir my familie met al hulle bekommernisse oor my.

En dan die dae daarna wat ek nie kan beskryf hoe dit gevoel het nie.  Die magteloosheid om op ‘n bed te lê en wag dat jou liggaam weer moet herstel.  En net tyd en tyd alleen kon daardie herstel meebring. Dus weereens die woord GELUK… , vir my beteken dit ongelooflik baie.  Al die vrede binne my,  al die liefde wat ek ervaar van nuut en oud,  om te kan lag,  om ‘n druk uittedeel,  om deel van mense te wees,  om sport te kan beoefen,  om te loop en praat en te kan sien. Al die klein dingetjies in die lewe,  die roep van ‘n voëltjie in die oggend,  ‘n nuwe roosknop,  die bome wat vol blomme is maar geen blare nie,  die blydskap van jou hond as jy by die huis kom.  Om ‘n ouma te wees,  om daardie kleine lyfie te sien groot word,  om my te verstom aan haar mamma en pappa wat met so min kennis van ‘n pienkvoet daardie lyfie gevat het en haar so mooi versorg en groot maak.  Om hulle oë te skien skitter as hulle oor haar praat.  Die opgewondenheid in hulle stemme te hoor.  Dit maak my hart vol geluk. In ons wêreld daarbuite waar daar soveel dinge aan die broei is,  dink weer aan jou geluk.  Moenie toelaat dat die wreedheid van alles jou geluk kom steel nie.  Word stil,  beleef alles wat jou hart maak klop.  Wat jou laat  glimlag,  wat ‘n vonkel in jou oog gee,  en maak vandag die beste een wat daar nog was.  GELUK,  maak dit joune…