My Storie

In die Finesse-tydskrif het Linda Krause-Wiid, gevra vir vrouens om stories in te stuur oor hulle lewens, sy gaan ‘n storieboek publiseer, ek het hierdie stuk geskryf vir daardie hoofstuk in haar boek, maar daar was nie genoeg stories om ‘n boek te publiseer die keer nie.

Op 8 April 2006 het ek ‘n splinternuwe tyd vlak binne gestap. Ek was weer lus vir die lewe na ‘n egskeiding en ‘n rowwe pad.  Ek het ‘n nuwe werk aanvaar wat ek moes leer soos die Gr 1’tjies.  Om elke dag te kon opstaan en positief voel oor die lewe was elke dag ‘n BONUS.

15 Augustus 2006, is my mat onder my voete uitgeruk. Ek was vol lewensvreugde elke dag tot daardie dag.  ‘n Groot motorongeluk het my vir 6 maande op ‘n hospitaalbed vas gekluister.  Dit was my bed, my toilet, my gym , my bad en etenstafel.  Al was my bed tot op hoogste opgelig, kon ek net die Vodacom Toring by Bloemfontein se Waterfront sien. 

Terwyl ek vas gespalk was op my bed, moes ek alles waarneem en beleef.  In elke saal het mense gelê soos ek en jy.  Elkeen was om ‘n ander rede daar.  Almal se storie het my hart geraak.

Ek het besef dat pyn en seer, het nie ‘n “label” nie.  Dit tref ons almal. Oud, jonk, pienk en pers, ryk of arm. Dit laat ‘n letsel op elkeen van ons.

Baie keer het ek gewonder oor hoekom moes ek daar beland. My sig het verander.  My lyf was vergruis. My pelvis, bekken en heup was daarmee heen.  Dr se woorde van hy weet nie of ek ooit weer sal kan loop nie, het my geruk.  Sy woorde het alles in my laat vries.  Laat ophou asem haal.  Jy dink, maar registreer nie. Baie dinge het deur my gespoel. Hoe gaan ek weer ‘n Alta wees.  Normaal aangaan met my lewe. Al die hoekom ’s en waarom ’s het deur my gehardloop. My been was daarmee heen.  Ek moes dink oor hoe my lewe gaan verander.  Baie dinge moes ek opgee.  Nagte deur gehuil. Eensaamheid het in my binnekant begin nes maak.

Daar in die Rehab in Bloemfontein het ons Vader my mooi geleer oor die lewe. Dit is nie altyd wat jy het wat saak maak nie.  Dit is nie wie jy is nie.  Nee, dit is dinge wat gebeur wat jou beproef. Gaan jy staande bly in jou geloof of gaan jy die Satan najaag om jou lewe te herstel.

Daar het die Here my hand gevat en so op die bed my stadig maar seker na herstel gelei. Ek was vasgevang met die pyn, seer en verwerping wat mense om my gevoel het. Vanaf my bed het ek probeer om te luister, om mense te laat lag, om net daar te wees.

Wonderwerke het voor my afgespeel. Dit was soos om ‘n storieboek te lees.

Ek dink as die Here my nie gehelp het deur al my dae wat ek nie wou aangaan nie, sou ek vandag ‘n ander mens gewees het.

Deur ander se pyn en seer het Hy my geleer wat geduld en empatie is. Om elke dag ten volle te leef, want more is dit dalk te laat.

Om te kan huil as ander gehuil het. Om daardie opgewondenheid te beleef as iemand ‘n goeie dag met die fisio gehad het. Om saam te kon bid. Geen mens kan voel soos jy voel op daardie oomblik nie. Geen mens kan jou keuse maak vir jou nie. Alles kon net jy, jouself doen.

Hier waar ek vandag is, is net genade van Hom. Hy het my deur ‘n leerskool gesit waar ek van myself moes vergeet en almal om my die reënboog  wys na hul woeste storms.

Party keer moet ‘n mens weer klein word. Jy moet weer glo soos ‘n kind.

As die lewe jou gooi, 1 maand in Hoë Sorg Eenheid, 5 maande in Rehab, weet jy dat jou tweede kans in die lewe van Bo gekom het. Dat Hy nog baie planne met my lewe het.

Met geloof in Hom en geloof in myself het ek weer aangegaan met my lewe.

Net anders as gevolg van my beserings, al die uitdagings positief aanvaar en lag sal ek aanhou lag. Die beproewing was alles die moeite werd.

My dankbaarheid loop oor soos water oor ‘n dam se wal.

Dankie Heer vir 2de kanse,  my tweede kans.