ONS, EK EN JY

Is verbasend hoe party mense met so ‘n “moeggebore” uitdrukking op hulle gesigte rondloop. Die lewe is net eenvoudig te veel. Hulle kan nie meer so voortgaan nie, die lewe is een pynigende hel op aarde.

Nee, ek praat nie oor mense wat werklike traumas moes deur gaan nie, of terminaal siek is, of dierbares aan die dood moes afstaan of weens die resessie al hul besittings en drome verloor het nie.

Ek praat van mense wat sonder rede kla, sonder rede kortaf en ongemanierd is, wat mense as ‘n reël afjak, verneder en verkleineer. Wat met alles ontevrede is, wat niks moois en goeds in ander of in die lewe raaksien nie

Geen wonder hulle is sielsmoeg in die aand nie. Dit sal my ook tap van energie en positiwiteit.

Vandag, meer as ooit tevore, besef ek hoe belangrik dit is om jou te omring met die regte mense. Nie die met geld, aansien of glorie nie, maar die wat jou motiveer, inspireer en opbou. Iemand met ‘n sagte mond, ‘n sagte hand en ‘n sagte hart.

Mens hoor so gereeld van mense wat selfmoord pleeg en dan is daar altyd ‘n stemmetjie vir my of daar nie dalk iemand was wat daardie persoon so seergemaak het, afgeknou of selfs ‘n lelike woord toegesnou het nie. Was daardie woorde dalk die laaste woorde wat iemand met hom/haar gepraat het? Kon ‘n sagter woord, hand of hart nie die persoon se lewe gered het nie?

Party mense is sommer net pleinweg onbeskof. Skuil agter die “ek is maar net reguit” verskoning. Nonsens. Wie wil so leef? Om heel tyd aanmerkings en opmerkings te maak wat ander mense afsit, selfs diep seermaak. Ek glo vas dat dit mense met ‘n lae selfbeeld is, wat dit aan ander doen. Hulle voel beter as hulle mense kan aftrek in plaas van opbou.

Die mense met wie ek my dag deel kom van oral, ryk, arm, mooi, minder mooi, mans, vrouens, kinders en student. Slim mense en minder slim mense, pienk, geel en persmense. Mense met skoon verledes en mense met kolle. Oumense en jongmense, Siek mense, gesonde mense, maer mense en rondetjies soos ek.

Hulle het almal ‘n paar dinge in gemeen. Hulle leef. Hulle haal nie net asem nie. Hulle laat mense rondom hulle hulself uitleef. Hulle bou op, help op en kyk op. Hulle het hoop, visie, liefde deernis en begrip. Vir ander…maar ook vir hulleself.

Ons lewe in tye waar hoop aan die verdwyn is. Waar gemoedelikheid plek maak vir stres en mondhoeke wat afwaarts neig. Jou bure is vreemd, jou familie sien jy skaars en jou gesin is gelukkig as julle nog saam om die etenstafel verkeer. Die mure rondom jou huis en hart is so hoog dat jy jouself nie eers meer herken nie.

Ek glo vas aan die beginsel dat as jy goed doen (sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen) aan ander, dit weer terugkom na jou toe. Boonop is dit vir my die lekkerste gevoel om te weet ek het vandag ‘n sagte woord gehad vir iemand wat dit nodig gehad het. ‘n Sagte hand waar iemand seer/swaar kry. Begrip vir ander se probleme en sienings sonder om dit af te skiet.

‘n Mens hoef nie met alles in die lewe saam te stem nie. Dit is ook jou reg om te verskil. Die kuns lê daarin om dit op die regte manier te doen. Watter hartseer of kwaad steek jy weg agter die woorde waarmee jy ander kwes. Vir my is emosionele mishandeling net so erg as fisiese mishandeling. Soms erger. Wonde genees… harte nie altydso maklik nie. Sommiges nooit weer nie.

As jy vanaand jou tande borsel en jy kyk na jouself in die spiel, wat sien jy? Kan jy met ‘n opregte hart erken jy het vandag voluit geleef? Sonder om ander af te kraak, lelik te wees en mense se eergevoelens aan te tas.

Indien jy nee moet sê…ondersoek bietjie jou hart. Haal dit uit en skrop al die kwaad, angs en liefdeloosheid af. Smeer dit met olie van liefde, geloof en hoop. Geur dit met begrip, deernis en verdraagsaamheid en omgee.

Ek het groot geword met die volgende woorde: Dit is nie wat jy sê wat seer maak nie, dit is hoe jy dit sê.

Ek is dankbaar vir die sonneblom mense in my lewe. Hulle leer my om my gesig na die son te draai.

Sonskyngroete vir jou!