SPROKIE

So kom die dag … daardie een vir wat jy so lank gewag het, maar nie tyd of datum van geken het nie!

Jy staan voor die deur en hy gaan van self oop, sonder geweld, sonder ‘n sleutel. Amper soos die sprokies sin. Of die feë dit met haar towerstaf oop tik.  Voor jou gaan ‘n splinternuwe wêreld oop. Een van soveel skoonheid, asof dit nog nooit oopgemaak gewees het vir die “real world”.  Lyk of alles lewe, of alles juig van blydskap so ver jy loop. Of alles jou verwelkom met soveel liefde, vreugde en vrede. Jy voel op so ‘n “high”.  Met ongeloof loop jy al verder, want dis ‘n wêreld wat jy nie ken.

Dis of Aspoestertjie se verhaal voor jou afspeel.  Altyd tevrede gewees om almal te “please”. Om hard te werk en stelselmatig van jouself te vergeet. Dan jouself te sien in ‘n beeld soos ‘n spieël. Hoe al die seer en sleg van jou afval en vervang word met die mooi. Dat vrede en liefde die plek in neem en vir die eerste keer in ‘n lang tyd sien jy jouself soos ander jou sien wat baie naby saam met jou lewe. Die beeld wat ingekleur is nou, wat warmte en geluk uitstraal.

Agter jou is die GROOT – ongelooflike GROOT deur besig om toe te gaan.

Jy weet met ‘n lied in jou hart dat jou sprokie ‘n werklikheid geword het.

My Storie

In die Finesse-tydskrif het Linda Krause-Wiid, gevra vir vrouens om stories in te stuur oor hulle lewens, sy gaan ‘n storieboek publiseer, ek het hierdie stuk geskryf vir daardie hoofstuk in haar boek, maar daar was nie genoeg stories om ‘n boek te publiseer die keer nie.

Op 8 April 2006 het ek ‘n splinternuwe tyd vlak binne gestap. Ek was weer lus vir die lewe na ‘n egskeiding en ‘n rowwe pad.  Ek het ‘n nuwe werk aanvaar wat ek moes leer soos die Gr 1’tjies.  Om elke dag te kon opstaan en positief voel oor die lewe was elke dag ‘n BONUS.

15 Augustus 2006, is my mat onder my voete uitgeruk. Ek was vol lewensvreugde elke dag tot daardie dag.  ‘n Groot motorongeluk het my vir 6 maande op ‘n hospitaalbed vas gekluister.  Dit was my bed, my toilet, my gym , my bad en etenstafel.  Al was my bed tot op hoogste opgelig, kon ek net die Vodacom Toring by Bloemfontein se Waterfront sien. 

Terwyl ek vas gespalk was op my bed, moes ek alles waarneem en beleef.  In elke saal het mense gelê soos ek en jy.  Elkeen was om ‘n ander rede daar.  Almal se storie het my hart geraak.

Ek het besef dat pyn en seer, het nie ‘n “label” nie.  Dit tref ons almal. Oud, jonk, pienk en pers, ryk of arm. Dit laat ‘n letsel op elkeen van ons.

Baie keer het ek gewonder oor hoekom moes ek daar beland. My sig het verander.  My lyf was vergruis. My pelvis, bekken en heup was daarmee heen.  Dr se woorde van hy weet nie of ek ooit weer sal kan loop nie, het my geruk.  Sy woorde het alles in my laat vries.  Laat ophou asem haal.  Jy dink, maar registreer nie. Baie dinge het deur my gespoel. Hoe gaan ek weer ‘n Alta wees.  Normaal aangaan met my lewe. Al die hoekom ’s en waarom ’s het deur my gehardloop. My been was daarmee heen.  Ek moes dink oor hoe my lewe gaan verander.  Baie dinge moes ek opgee.  Nagte deur gehuil. Eensaamheid het in my binnekant begin nes maak.

Daar in die Rehab in Bloemfontein het ons Vader my mooi geleer oor die lewe. Dit is nie altyd wat jy het wat saak maak nie.  Dit is nie wie jy is nie.  Nee, dit is dinge wat gebeur wat jou beproef. Gaan jy staande bly in jou geloof of gaan jy die Satan najaag om jou lewe te herstel.

Daar het die Here my hand gevat en so op die bed my stadig maar seker na herstel gelei. Ek was vasgevang met die pyn, seer en verwerping wat mense om my gevoel het. Vanaf my bed het ek probeer om te luister, om mense te laat lag, om net daar te wees.

Wonderwerke het voor my afgespeel. Dit was soos om ‘n storieboek te lees.

Ek dink as die Here my nie gehelp het deur al my dae wat ek nie wou aangaan nie, sou ek vandag ‘n ander mens gewees het.

Deur ander se pyn en seer het Hy my geleer wat geduld en empatie is. Om elke dag ten volle te leef, want more is dit dalk te laat.

Om te kan huil as ander gehuil het. Om daardie opgewondenheid te beleef as iemand ‘n goeie dag met die fisio gehad het. Om saam te kon bid. Geen mens kan voel soos jy voel op daardie oomblik nie. Geen mens kan jou keuse maak vir jou nie. Alles kon net jy, jouself doen.

Hier waar ek vandag is, is net genade van Hom. Hy het my deur ‘n leerskool gesit waar ek van myself moes vergeet en almal om my die reënboog  wys na hul woeste storms.

Party keer moet ‘n mens weer klein word. Jy moet weer glo soos ‘n kind.

As die lewe jou gooi, 1 maand in Hoë Sorg Eenheid, 5 maande in Rehab, weet jy dat jou tweede kans in die lewe van Bo gekom het. Dat Hy nog baie planne met my lewe het.

Met geloof in Hom en geloof in myself het ek weer aangegaan met my lewe.

Net anders as gevolg van my beserings, al die uitdagings positief aanvaar en lag sal ek aanhou lag. Die beproewing was alles die moeite werd.

My dankbaarheid loop oor soos water oor ‘n dam se wal.

Dankie Heer vir 2de kanse,  my tweede kans.

ONS, EK EN JY

Is verbasend hoe party mense met so ‘n “moeggebore” uitdrukking op hulle gesigte rondloop. Die lewe is net eenvoudig te veel. Hulle kan nie meer so voortgaan nie, die lewe is een pynigende hel op aarde.

Nee, ek praat nie oor mense wat werklike traumas moes deur gaan nie, of terminaal siek is, of dierbares aan die dood moes afstaan of weens die resessie al hul besittings en drome verloor het nie.

Ek praat van mense wat sonder rede kla, sonder rede kortaf en ongemanierd is, wat mense as ‘n reël afjak, verneder en verkleineer. Wat met alles ontevrede is, wat niks moois en goeds in ander of in die lewe raaksien nie

Geen wonder hulle is sielsmoeg in die aand nie. Dit sal my ook tap van energie en positiwiteit.

Vandag, meer as ooit tevore, besef ek hoe belangrik dit is om jou te omring met die regte mense. Nie die met geld, aansien of glorie nie, maar die wat jou motiveer, inspireer en opbou. Iemand met ‘n sagte mond, ‘n sagte hand en ‘n sagte hart.

Mens hoor so gereeld van mense wat selfmoord pleeg en dan is daar altyd ‘n stemmetjie vir my of daar nie dalk iemand was wat daardie persoon so seergemaak het, afgeknou of selfs ‘n lelike woord toegesnou het nie. Was daardie woorde dalk die laaste woorde wat iemand met hom/haar gepraat het? Kon ‘n sagter woord, hand of hart nie die persoon se lewe gered het nie?

Party mense is sommer net pleinweg onbeskof. Skuil agter die “ek is maar net reguit” verskoning. Nonsens. Wie wil so leef? Om heel tyd aanmerkings en opmerkings te maak wat ander mense afsit, selfs diep seermaak. Ek glo vas dat dit mense met ‘n lae selfbeeld is, wat dit aan ander doen. Hulle voel beter as hulle mense kan aftrek in plaas van opbou.

Die mense met wie ek my dag deel kom van oral, ryk, arm, mooi, minder mooi, mans, vrouens, kinders en student. Slim mense en minder slim mense, pienk, geel en persmense. Mense met skoon verledes en mense met kolle. Oumense en jongmense, Siek mense, gesonde mense, maer mense en rondetjies soos ek.

Hulle het almal ‘n paar dinge in gemeen. Hulle leef. Hulle haal nie net asem nie. Hulle laat mense rondom hulle hulself uitleef. Hulle bou op, help op en kyk op. Hulle het hoop, visie, liefde deernis en begrip. Vir ander…maar ook vir hulleself.

Ons lewe in tye waar hoop aan die verdwyn is. Waar gemoedelikheid plek maak vir stres en mondhoeke wat afwaarts neig. Jou bure is vreemd, jou familie sien jy skaars en jou gesin is gelukkig as julle nog saam om die etenstafel verkeer. Die mure rondom jou huis en hart is so hoog dat jy jouself nie eers meer herken nie.

Ek glo vas aan die beginsel dat as jy goed doen (sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen) aan ander, dit weer terugkom na jou toe. Boonop is dit vir my die lekkerste gevoel om te weet ek het vandag ‘n sagte woord gehad vir iemand wat dit nodig gehad het. ‘n Sagte hand waar iemand seer/swaar kry. Begrip vir ander se probleme en sienings sonder om dit af te skiet.

‘n Mens hoef nie met alles in die lewe saam te stem nie. Dit is ook jou reg om te verskil. Die kuns lê daarin om dit op die regte manier te doen. Watter hartseer of kwaad steek jy weg agter die woorde waarmee jy ander kwes. Vir my is emosionele mishandeling net so erg as fisiese mishandeling. Soms erger. Wonde genees… harte nie altydso maklik nie. Sommiges nooit weer nie.

As jy vanaand jou tande borsel en jy kyk na jouself in die spiel, wat sien jy? Kan jy met ‘n opregte hart erken jy het vandag voluit geleef? Sonder om ander af te kraak, lelik te wees en mense se eergevoelens aan te tas.

Indien jy nee moet sê…ondersoek bietjie jou hart. Haal dit uit en skrop al die kwaad, angs en liefdeloosheid af. Smeer dit met olie van liefde, geloof en hoop. Geur dit met begrip, deernis en verdraagsaamheid en omgee.

Ek het groot geword met die volgende woorde: Dit is nie wat jy sê wat seer maak nie, dit is hoe jy dit sê.

Ek is dankbaar vir die sonneblom mense in my lewe. Hulle leer my om my gesig na die son te draai.

Sonskyngroete vir jou!

ONBEKENDE V BEKENDE

Die seisoen het gedraai. Herfs is hier. Almal begin hul reg maak vir winter.

In die diere-wêreld is dit kos bymekaar maak tyd. In ons mense-wêreld dink ek is almal se gedagtes en lewens besig met die Covid 19 virus.

Dit wys ‘n mens net weer: ‘n virus onbekend, stap sy pad oor die hele aardbol. Dit is nie net beperk op een kontinent nie. Niemand het beheer daaroor nie. Dit jaag net vrese op by mense. Deur dit alles is daar nogsteeds haat/konflik/betogings en moord. Hande vat tussen families om vrede te herstel bly nogsteeds op die agtergrond. Party dink seker daar sal nog tyd wees, of die virus sal beheerbaar raak dan is versoening nie meer nodig nie.

Hierdie trauma wat mense deurgaan is ‘n pad wat elkeen self stap. Weereens was niemand gerat vir die uitbreek van so ‘n virus nie.

Almal het hulle beplanning al tot diep in die jaar 2020 beplan. Hulle het datums gehad waarop sekere dinge moes gebeur.

Soos 29 Februarie, net elke vier jaar het ons 29 dae in die maand. Hoekom moet jy wag tot op daardie dag, eenkeer in 4 jaar om iemand te vra om te trou. Wat maak daardie een dag ‘n verskil in liefde. Elke dag is ‘n dag gebou op liefde, of behoort te wees. Glo jy dalk net aan die miete dat op daardie dag MAG ‘n vrou dit doen.

Dan hoop ek dat die tye vorentoe gesaai sal wees met tonne liefde.

As ek hoor van iemand wat 102 jaar oud is wonder ek wat het hy/sy deurgemaak deur al die era’s. Hoeveel kere se mode’s het hy/sy beleef wat dieselfde was. Tegnologie het so baie verander. Hospitale en skole het nuwe baadjies aangetrek. Maar daar is net een ding wat presies dieselfde gebly het, naamlik die BYBEL. As jy een lees van 1902 of 2020, gaan die drukkery se datum verskil, maar die woorde binne bly presies woord vir woord dieselfde. Die Here se Woord wat jou vertel van daardie dag wat Hy terug kom aarde toe. Dit is een ding wat almal op aarde voor reg moet wees. Dit ken jy al jou lewensjare. Of jy ‘n kleuter of tiener of volwasse of pensioenaris is.

Dit is die onbekende soos die Covid-19 virus wat die planeet onderste bo gooi, wat al die mense op die hele aardbol raak, daar is geen handleiding hoe jy dit kan beveg nie.

Geloof is dus al waaraan jy kan vashou!

Dit kom met ‘n HANDLEIDING.

JOUSELF TE WEES

Wanneer ‘n mens dalk iewers by ‘n restaurant sit of langs die sportvelde,  is daar horde mense om jou,  voor jou.  Almal lyk anders.  Die tale is partykeer vreemd,  maar op hulle gesigte kan jy sien of is hulle gelukkig, hartseer of ongeduldig.  Hulle liggaamstale spreek boekdele.

Dit is vir my altyd lekker om so na mense te sit en kyk.  Almal het ‘n lewe van hulle eie.  Elkeen is op haar/sy eie  “mission”.

Party sit alleen.  Party is in ‘n  “crowd”.  Partykeer wil ek ook eerder net so alleen wees tussen baie mense,  ander kere soek ek geselskap.  Natuurlik hang dit af hoe jy binne jou voel.

Weet jy waarvan ek praat?  Terwyl jy daar sit,  speel so baie goed af in jou kop.  Is jou eie lewe deurmekaar of voel jy nie welkom nie,  wat is die rede vir daardie alleen gevoel tussen mense?

Dit is dan wanneer ‘n mens ‘n sagte hand,  ‘n sagte woord dalk kort.  Om te voel jy is tog iets werd.  Dat jou plekkie helder in die sonlig is. 

So het Hy vir elkeen ‘n maat gemaak.  Daardie een mens wat een is met jou al staan jy tussen honderde mense.  Om sonder woorde jou hartklop te kan voel en te weet dat jou binnekant juig of benoud is.  Daardie stil tye is party keer wanneer jy weet jou maat ken jou deur en deur.

Elkeen van ons is anders.  Ons reageer anders in situasies.  So maak daardie spesiale mens in jou lewe spesiaal deur net jy te wees.  Min goed tel in die lewe as om net  “genuine”  te wees.

Gryp elke dag

Wanneer laas het jy wakker geword sonder dat jy gevoel het, die dag wat voorlê en wag is nie soos ‘n berg wat jy moet uitklim nie.

Dat jy met ander oë na die dag kan kyk. Wat ‘n great gevoel is dit nie. Ek weet julle sal dink ek is besig om te gorrel want in vandag se lewe bestaan dit nie meer nie. Van jy jou oë oopmaak tot jy gaan slaap is dit net ‘n dolle gejaag na wind, en almal tap jou om die laaste bietjie uit jou te kry. Jy kan nie wag om net jou skoene uit te trek as jy by die huis kom en 5 minute lank net te sit en te ontspan nie.

Maar tog bestaan daardie dae nog, dit is hoe ‘n mens wakker word wat jou denkwyse bepaal, om te weet dat jy ‘n splinternuwe dag ontvang het, ‘n dag wat lê en wag dat jy dit vat en al die potensiaal daaruit te kan put. Te vergeet as ander loop met hulle dik gesigte.

Wanneer jy so op ‘n “high” is die dag, dink ek kyk mense met ander oë na jou. Dit wat jy sien sal hulle ook later sien. Want jy leef dit uit. Al jou positiewe energie vloei deur na hulle toe. So vlieg ‘n dag vinnger verby.

Ek dink ons skuld ons elkeen sulke dae. Die lewe is net te kort dat ons net die negatiewe van dinge en mense elke dag moet beleef. Hulle steel eintlik ons vrede. Maar tog is gebeure nie in ons hande nie, al staan jy so op, is dit nie te sê dat jy al die slegte invloed van die dag van jou weggehou gaan kry nie, nee ongelukkig stap jy net die pad.

Ek en jy is geskape om te leef of vandag die laaste dag is. Om elke sekonde vrede, vreugde en liefde in te drink, om te glo in jouself. Die wat jou lief het en omgee vir jou, te geniet.

Hulle te waardeer, want hulle is deel van jou lewe, van jou lag, van jou trane en van jou geluk. Sonder sulke mense is ons verlore, ons is nie gebou om alleen te lewe nie. Om geluk alleen te ervaar nie.

So moreoggend as jy wakker word, wag eers voor jy uit die bed klim, dink hoe gelukkig is jy om wakker te geword het, en as jy tande borsel, kyk vir jouself in die spieël, want daardie persoon wat jy sien is UNIEK. Dit is jy, wees lief vir jouself, vir die mens wie jy is. Want dit is hoekom mense saam met jou ‘n pad wil loop!

GRONDPAD

Partykeer kort ‘n mens so grondpad in jou lewe. Of jy dit loop, of jy dit ry te perd of met ‘n voertuig. Enige een gaan werk. Dit is die idee wat tel.

Dit maak jou kop skoon. Hoe verder jy met die grondpad ry, ry jy eintlik in die toekoms in en die verlede bly stukkie vir stukkie of meter vir meter agter.

‘n Grondpad is soveel beter want jy moet hele tyd fokus om mooi te ry deur al die gate en die slegte deel van die grondpad. Dit help met die rowwe pad wat jy agter los soos jy vorentoe ry. Sulke gevalle skyn die son dalk in jou oë dat jy nie nodig het om in jou truspieëltjie te sien wat jy agter laat nie, want jy is net gefokus op die pad voor jou.

Ver voor baie ver voor sien jy die kronkel en jy weet om daardie draaie daar iewers voor is alles dalk anders. Jy is nog net te ver om regtig te sien wat op jou wag. Dit is ‘n nuwe omgewing. Dalk een wat jy nog nie jou lewenspad beleef het nie. Dit lê soos ‘n uitdaging vir jou en wag. Die grondpad was maar net die begin om jou leiding te gee om jou voete plat op die aarde te hou. Teerpad het nie soveel uitdagings soos ‘n grondpad nie.

Hoop jou grondpad bring jou na die mooiste oase wat jy nie eers in jou wildste drome kon droom het nie. Dat wat jou ook al daardie grondpad laat ry het dit die moeite werd was. Dalk was daar baie swets en vloek of pap wiele wat jy mee moes deel tot daar,

Grondpaaie ruk en skud jou lewe al ry jy die beste voertuig in die lewe. Alles is nie gewaarborg om seep glad te loop nie. Partykeer is daar ‘n produksiefout.

Nou kan jy ontspan en die mooi beleef en indrink want jy het jouself opgetel en gemotiveer en aanvaar dat ‘n grondpad sleg was op daardie tyd van jou lewe.

Die sukses is net om die Instruksieboek te vat en in die indeks te soek waar om daardie fout op te spoor.

Enjoy jou grondpad. Onthou dat jou passassiers partykeer baie gatvol gaan word vir al die stof op daardie grondpad. Min kere sal hulle wys dat hulle net bietjie die stof sal wil afwas want dan gaan jy op jou eie die pad aan durf.

Grondpaaie word nie sommer gery soos ‘n N1 nie. So jy gaan regtig alleen langs die pad staan in tye van nood. Wees dus geduldig met jou passassiers.

Mooi ry en mag daar die wonderlikste reën wag om een van daardie draaie dat dit al die stof van jou voertuig sal afwas.

GELOOF, HOOP EN LIEFDE

Stories soos Klaas Vakie,  Tandemuis,  Paashase en Kabouters met paddastoelhuisies,  word so lekker vertel as kinders klein is,  en dit word geglo,  want hulle raak wakker met sand in hulle oë,  die tand is weg en ‘n geldjie is in die skoen,  tot hulle hulle kinderskoene ontgroei.

Drome word gedroom.  Verwagtings word verwag.  Word geluk van bome gepluk?

Daar word so baie gepraat oor geluk.  Dit is ‘n mens se eie keuse.  Jy kies dit.  Niks of niemand kan daardie besluit maak behalwe jy jouself nie.

Gister het iemand my gesê,  voel of als wat mens doen geen doel het nie,  of party dae geen rigting het nie.  Geen antwoorde kry nie,  als is soos dit is.  Dit klink bekend.  ‘n Mens staan elke oggend op, dis ‘n nuwe dag,  splinternuwe 24ure wat wag.  Vandag gaan ek  “rock”.   As jy ‘n 10/10 dag het, is jy op ‘n “HIGH”.  As jy ‘n 0/10 dag het,  dan DUIK jy….

Les van die lewe:  bly glo soos ‘n kind.   Sien jou 0/10 dag soos ‘n uitdaging in plaas van ‘n mislukking.  Foute is daar om gemaak te word.  Dit maak ‘n mens ryper.

Die paashaas is verby.  Die kabouters het klaar die bome se blare geverf.  Nou begin die briewe vir Kersvader.

Daar bly nog een groot oomblik oor vir die jaar.  Die rede wat ons lewens ryker maak op aarde:  Die Geboorte van ‘n Klein Seuntjie wat ons leer van Geloof en Hoop en Liefde.

DRIE goed wat ‘n mens nie sonder kan leef nie. Dis nie ‘n storie wat ontgroei word nie, dis 1 waarin jy kan groei.

WARMTE

Vroegoggend kan jy die knyp van die winter voel. En as die sonnetjie begin sak, trek jy weer jou warm baadjie nader.
Die wind is besig buite tussen die bome en die gekleurde blare val grond toe. En dit lyk soos konfetti wat die mooiste prentjie onder die bome maak.
Die velddiertjies weet hulle moet vroeg middag hulle warm huisies opsoek, want as die donker hul oorval, loop die koue daarmee saam.

Hoe gelukkig is ek en jy om vanaand by ‘n warm huis te kom. Jou styf toe te maak met komberse en te weet moreoggend is jy reg vir nog ‘n dag in die koue. Gepantser teen die koue. Al is jy warm aangetrek kan jou binneste nogsteeds koud wees. Net so kan jou binneste ook warm wees, of deur drank/dwelms of deur daardie wonderlike gevoel van liefde en vreugde wat deur jou are vloei. Dit is soos naakte lywe teen mekaar. Mense hitte kom nie by ‘n kombers of ‘n aircon nie.

Wat wil ek eintlik sê: dat warmte/koudheid deur ‘n mens loop. En dit is wat jy deurgee na mense. ‘n Huis kan sonder ‘n kaggel wees, maar as mense se warmte nie aanvoelbaar en sigbaar is nie, sal jy baie houte moet oppak om die vertrek warm te maak. Soos ‘n glimlag of ‘n druk of ‘n oogknip. Dit alles maak dat jy goed voel en daardie hoendervleis wat jy voel as iemand hard praat of baklei, verdwyn soos mis. Daar kom ander energie deur. Voelbare energie. En nie een keer praat ek hier van warmte wat jy in jou binneste kry deur ‘n warm drankie nie. Nee, ek praat van warmte wat mense aan mense gee.

Of dit ‘n kombers of ‘n bord kos of ‘n kledingstuk is wat jy aan ‘n boemelaar of iemand wat dit benodig gee, daar is ‘n smile op haar/sy gesig en vir ‘n breuk van ‘n sekonde het hy/sy vergeet van die koue waarin hy/sy leef.
Nes ‘n dier, wanneer jy met rustigheid met een praat, waai sy stert want hy/sy kan aanvoel jy gee regtig aandag.

Groot of klein, oud of jonk, mens of dier, ons almal reageer op warmte. Enige manier van warmte. In hierdie wintertyd wat voorlê laat jou warmte uit jou vloei, dit kos jou niks. En maak die winter ‘n ander kleur as grys, wit en swart, verander die kleure na helder rooi, groen en orange kleure.
Soos die blare wat besig is om te verkleur.

KLEUR DIE LEWE IN MET WARMTE. WARMTE WAT JY UITSTRAAL NA BUITE.

VANDAG

Desember 2015

In die begin van die maand was daar ‘n tydjie wat ek op my eie was. Ek het in daardie tyd ‘n tannie ontmoet wat kanker het en wat elke drie maande hospitaal toe moet gaan vir behandeling. Sy was nog op en wakker op haar ouderdom. Hulle moes hulle plasie opgee want die oom het Parkinson’s. En hulle moes in ‘n Rusoord in trek.

Alles opgee, sy vertel my, “Hartjie, dit is moeilik op ons ouderdom. Jy vergeet van jouself in sulke tyd, en gee net aandag aan hom. En voor ek my oë kan uitvee loop die tyd by my verby.”

Dit laat my baie dink, in ons daaglikse lewe is dit ook so, daar is so baie dinge wat ons tyd inbeslag neem. Dink mooi oor wat is so belangrik wat die meeste van jou tyd in beslag neem, sonder dat ons dit agterkom het iets ons vasgegryp.

Daar waar jy nou is, waaraan dink jy? In die verlede kon ons dalk sê iemand is verslaaf aan dobbel, of perde of casino’s, of drank /dwelms / geld, maar vandag is dit baie meer… kan jy sonder jou selfoon (hom net gebruik as dit moet)? Kan jy sonder twitter of facebook of whatsup.
In ‘n gesprek vanoggend is gesê, so baie van ons gebruik die nuwe tegnologie nie net om almal se aandag te kry nie, maar ook simpatie. In die ou tyd het baie eers van alles geweet na ‘n week of tien.


Partykeer gebeur dit ook dat jy eers hier iets raak lees wat almal al van weet van jouself behalwe jy. Dit is ‘n media waar enigiemand die reg het om hulle kommentaar te gee of “nuus” aan te dra. In die laaste maand het ons berigte gelees oor so baie mense wat hulle hande uitgesteek en nog steeds uitsteek om ander te help.
Het julle gedink daar is sulke mense in die lewe. Net in nood leer ons wie is wie. Wie is bereid om terug te staan, van jouself vir ‘n slag te vergeet en uittereik na ander wat dit mee tien keer slegter gaan as jouself.


En wat is lekkerder, daardie gevoel van ek kon iemand help, iemand wat regtig in nood is. Dink daar is min mense wat nadat hulle hulle skenkings gegee het, daarvan vergeet het die oomblik toe hulle omdraai en huis toe gaan, want daardie gevoel is wat van jou ‘n mense mens maak. Wat kan uitreik na ander sonder om terug te ontvang.

Orals vandag herdenk ons ons GELOFTE wat ons jare gelede gemaak het. Jare gelede het ons Vader ons gehelp om te oorwin wat ons nie gedink moontlik was nie. As jy jou oë toe maak kan jy jou indink in daardie dag. Toe duisende met ‘n helse lawaai op jou afgestorm het, en jy gedink het dat jy nie weer die son sal sien skyn nie, Net soos nou, die vorm is net anders, maar die uiteinde is ook die dood of dit die droogte is, of alleenheid, of siekte, iewers is daar iemand wat hulp nodig het en partykeer kos dit nie ‘n sent uit jou sak nie.


Ons het so baie om voor dankbaar te wees. Veral in Desember is daar so baie mense wat die maand om wens. Wat alleen deur al hierdie tye gaan. Wat niks of niemand het om hulle hand vas te hou of om die mooi van Kersfees te deel nie. Het jy al jou kop laat sak in skaamte, as jy stil sit en dink hoeveel familie of vriende jy het en met wie jy nie regtig ‘n pad stap nie. Dit is ons wêreld wat vir ons gegee is, om te geniet en mooi te maak. Is dit nie maar ons eie skuld as alles gaan soos dit nou gaan nie.
O nee, dink party van ons, glad nie Alta, jy raak nou kens,
maar vanaand as alles stil geword het en jy in jou bed lê, dink bietjie oor vandag, of die laaste week.

Wanneer laas het jy uit jou hart vir iemand ‘n druk gegee, of ‘n dankie gesê, of iemand geseën in pleks van hom/haar uit te skel of ons Vader gedank vir wat jy het en onthou dit is maklik, jy kan dit net soos ‘n tafelgebed af rammel, ek praat van regtig gaan sit en alles voor Sy voete gelê.
Voor ek en jy nie ons gesindheid teenoor almal om ons verander nie, sal die wonderlike aarde wat vir ons gegee is, net agter uitgaan, en op die ou einde net ons eie skuld wees.

NET VIR VANDAG: glimlag vir iemand wat jy nie ken nie; Luister regtig wanneer iemand met jou praat; Laat val ‘n muntstuk waar ‘n kind dit kan optel; Vertel iemand dat jy aan hulle dink; Gee ‘n geliefde ‘n drukkie; Moenie ‘n wrok koester nie; Moenie bang wees om te sê Ek is JAMMER nie; Kyk ‘n kind in die oë en vertel hulle hoe fantasies hulle is; Maak ‘n belofte en kom dit na; Staan by jou beginsels; Kyk verby iemand se gesig na sy hart; Gebruik al jou sintuie tot hul volle potensiaal; waardeer en geniet VANDAG!
Want onthou elke dag is ‘n nuwe begin, ons Vader gee ons so baie kere om voor te begin, en die verlede agter te laat. Met ons hand in Syne kan niemand jou te na kom nie.