SPROKIE

So kom die dag … daardie een vir wat jy so lank gewag het, maar nie tyd of datum van geken het nie!

Jy staan voor die deur en hy gaan van self oop, sonder geweld, sonder ‘n sleutel. Amper soos die sprokies sin. Of die feë dit met haar towerstaf oop tik.  Voor jou gaan ‘n splinternuwe wêreld oop. Een van soveel skoonheid, asof dit nog nooit oopgemaak gewees het vir die “real world”.  Lyk of alles lewe, of alles juig van blydskap so ver jy loop. Of alles jou verwelkom met soveel liefde, vreugde en vrede. Jy voel op so ‘n “high”.  Met ongeloof loop jy al verder, want dis ‘n wêreld wat jy nie ken.

Dis of Aspoestertjie se verhaal voor jou afspeel.  Altyd tevrede gewees om almal te “please”. Om hard te werk en stelselmatig van jouself te vergeet. Dan jouself te sien in ‘n beeld soos ‘n spieël. Hoe al die seer en sleg van jou afval en vervang word met die mooi. Dat vrede en liefde die plek in neem en vir die eerste keer in ‘n lang tyd sien jy jouself soos ander jou sien wat baie naby saam met jou lewe. Die beeld wat ingekleur is nou, wat warmte en geluk uitstraal.

Agter jou is die GROOT – ongelooflike GROOT deur besig om toe te gaan.

Jy weet met ‘n lied in jou hart dat jou sprokie ‘n werklikheid geword het.