MY BRIEF VIR JOU TROUDAG

Op ‘n bruid se troudag gebeur so baie dinge. Maande se voorbereiding kom tot ‘n end. Almal wag in afwagting vir daardie oomblik wanneer die bruid aan haar pa se sy die kerk binnestap.

Ek dink ons vergeet partykeer van daardie pa langs die bruid. Wat alles deur sy gedagtes gaan daardie dag. Dalk is dit die volgende woorde wat deur ‘n pa se gedagtes loop op daardie dag:

My liewe meisiekind, hier is my gebed vir jou op jou troudag:

Daardie eerste ontmoeting toe ek jou pikswart koppie en kreukel neusie sien en ek jou naelstring knip, het jy onvoorwaardelik diep in my binneste ingekruip. Ek het daardie pienke kleine fyn perfekte lyfie teen my vasgedruk. My hart het onbeheersd geklop en trane het uit my oë geloop, want ek het ‘n stukkie van my vasgehou. Jy is my grootste trots.

Soos die jare gevorder het, het ons twee die beste maats geword. Ons het soveel oomblikke gedeel. Van jou eerste tand trek, tot jou groot oomblik wat jy fiets gery het sonder die klein wieletjies. Jou eerste skooldag wat jy soos ‘n wafferse heldin alleen agter gebly het. My sakdoek wat jou trane moes afvee toe Tinkels haar laaste asem uitgeblaas het. Om jou te kon leer van ons Pappa in die Hemel. Al die lag, grappies, ernstige geselse, daar is so baie om op te noem. As ek my oë toemaak kan ek jou gesiggie sien wanneer jy jou neusie kreukel, en ek weet hier kom nou ‘n groot “talk”.

Die lewe het sy klappe uitgedeel vir jou, maar jy het net elke keer jou nekkie styf gemaak en jou koppie opgetel en weer vorentoe gebeur.

Pappa se raad vir hierdie wonderlike tydvlak wat jy binnestap is die volgende: As jy wil hê dat hierdie liefde vir ewig hou, troetel dit met spesiale sorg, beskerm dit, moenie dit verwaarloos of mishandel nie. Moenie dat dit gewoon of ordinêr word nie. As liefde sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit sprankel soos nuut. Dit groei mooier soos die jare stap. Waar liefde is, is alles magtig.

My blommekind, jy stap al jare die pad wat beplan is deur ons Hemelse Vader vir jou. Vandag is een van daardie groot dae. Geniet elke sekonde van hierdie dag waarvan jy al droom toe jy klein klein was.

Ek is bevoorreg om langs jou sy te stap na jou liefde van jou lewe. Ek sal altyd net ‘n gebed ver wees vir jou.

Lief jou met my hele hart.

Pappa