Son

Die dag sluip so stilletjies weg.

Die son is besig om sy laaste strale oor die aarde te gooi. Sy tyd om te skyn is nou eers verby.

Hy het genoeg ure vir ons mensdom gegee om hul take te vermag vir die dag.

Partykeer is dit nie genoeg nie. Jy bid letterlik nog vir een uur langer dag lig. Want as jy nou moet oppak omdat die son jou vertel dit is tyd is dit more nog steeds op jou “to-do-list”.

My hoendertjies is my horlosie. Hulle wys vir my mooi, genoeg was nou genoeg. Slaap tyd is oor ‘n paar ure. Ek weet met winter is daar newe-effekte van die daglig. Mense wat aan depressie lei moet fisies meer sonskyn kry. Omdat dit so laat lig word en so vinnig donker word kom daar nie genoeg sonskyn by hul uit nie. As jy nie in jou middagete iewers ‘n stukkie son gaan soek nie sink jy tussen die mure in.

Sonder die son is dit soos om in ‘n tronksel te sit en te wag vir jou laaste sekonde onder die guillotine.  Son bring nuwe lewe vir natuur en mens. Dit gee daardie energie wat ‘n mens kort vir inspirasie. Dit gee jou hoop.

Net soos die son sy strale orals gooi, kan jy jou energie ook deur gee na ander. Moenie dat wolke jou energie blok nie.

Wees warm soos die son. Dit maak mense gelukkig. Dit maak hulle glimlag.

Net soos die son weet ek dat daar mense is wat wens jy is ‘n bietjie langer saam met hulle. Dat hulle net nog ‘n uur saam met jou kan spandeer.

Die son is ons more en jy is my lewe.

STEUNPILAAR

‘n Steunpilaar, ‘n woord met baie betekenisse. Daar is baie woorde wat ons min gebruik in die lewe of wat oor ons lippe kon. Sit vir ‘n oomblik stil en dink, en daar sal baie by jou opkom. Ons lewe in ‘n lewe wat ons geleer het om in afkortings te praat en nie net te skryf nie. Dit is nie van ons besige lewe nie, nee dit is omdat ons in ‘n groef verval het want almal doen dit, as ek dit nie ook doen nie, dan beteken dit ek is agter in die lewe.

‘n Steunpilaar, is ‘n woord wat baie betekenisse het. Die gebou kan nie reg op staan as daar nie ‘n steunpilaar gebou is wat dit gaan ondersteun nie. Jan of Hermien was vir my ‘n steunpilaar toe my moeder baie siek geword het en hulle kon help om haar te versorg in my afwesigheid. Met God as jou steunpilaar.

Dan kom daardie dag wat iemand uit die bloute jou hulp nodig het, juis die dag wat jy voel jy is in die donkerste gat en jy wag vir die klonte om van bo op jou kop te val om jou te begrawe. Die Here se plan was dalk daardie spesifieke dag om jou te leer dat daar ander is wat jou moet gebruik vir ‘n steunpilaar. Jy moet die leer vat en uit jou gat klim om iemand by te staan, jy moet vergeet van jou probleme. Jou fokus word verskuif en onmiddellik swaai jou gedagtes na ‘n ander kant. ‘n Positiewe kant.

Vir ‘n uur of langer is daar iemand wat belangriker as jy is. Iemand wat dalk sy lewe sou verloor as jy nie gehelp het nie. Iemand het dalk net jou gebed nodig gehad want dit het gevoel of sy gebede net tot teen die dak gaan en nie hoër nie. Dit hoef nie net ‘n mens te gewees het wat jou hulp benodig nie, dit kan ‘n dier ook wees. Jou eie bloed familie het jou dalk meer nodig as wat jy besef. Partykeer besef ‘n mens nie self watter steunpilaar jy vir mense om jou is nie. Want jy is donker in die binne kant van jou.

Na hierdie daad dink ek kan daar beslis nie ‘n moontlikheid wees dat jy nog steeds in jou selfde gat as vanoggend is nie. Om te besef dat ander se situasies dalk groter as myne is. Dat hulle omstandighede so erg is dat ek my kop in ‘n gat kan druk van skaamte. Klop jou hart nie vinniger nie. Voel jy goed binne in jou dat jy op die regte plek was. Is dit nie vir jou ‘n goeie bewys dat jou lewe hier op aarde baie belangrik is om in ‘n gat te wees nie.

Dink weer oor die woord steunpilaar. Vir hoeveel mense is jy ‘n oor, ‘n druk, ‘n afpak, ‘n vriend, stilte wat party nodig het. Hoeveel mense is daar vir jou, alles in die lewe werk beide kante toe. Dit is ‘n gee en neem.

“If you want to lift yourself up. LIft up someone else.”

Booker T Washington

Mag jou diep gat waarin jy jouself bevind, vinnig ‘n leer kry want daar is regtig ander wat jou nodig het in die lewe.

TALENTE

Ons is omring met juwele. Aardse juwele. Berge wat al vir eeu oue jare daar staan. Bome wat aangeplant word of wat daar is om koelte gee.

Die grasse in die veld en heel voor is ons mense hand se plante in die grond.

As ek dink hoeveel vat dit van ‘n mens om ‘n plantjie te koop. Hom te vertroetel. Water te gee en dan besluit hy jy het hom dalk versuip met te veel liefde en aandag of hy het ‘n siekte gekry en gaan dood. Dan is hy net nie meer daar nie

Ons Vader het alles gemaak. Sy Hand was goed want waar Hy geraak het was alles reg. Die groen lande. Die blou see. Elke rivier het sy plek gehad waar hy moes wees. Elke plant en dier was daar en dit het nie dood gegaan soos in ons geval nie.

So het Hy vir elkeen van ons talente gegee. Dalk het jy nog nie joune ontdek nie want jy soek dit in mense om jou. So bly joune verskuil. Hy het met Sy Hande jou gevorm en geweef na Sy uniekheid.

Hy het jou aangeraak so word groot soos ‘n boom of blom soos net veldblomme kan daar waar jy is, waar jy werk en waar jy jou stempel kan nalaat vir mense.

Die aarde wys ons dat ons op ons eie kan aan gaan. Dit lê in elkeen van ons. Ons deursettingsvermoë en ons geloof in onsself.

Vat daardie talent van jou. Ja. Ek weet jy wonder dalk nogsteeds gaan jy genoeg wees om te doen wat jy waar geskape is. Elke mens het daardie goed binne hom. Jy moet dit net vind.

Vergeet van mense wat jou plat trap, as jy regtig reg op sit na so n plat trap en mooi dink sal jy weet dat hulle ook nog op soek is na hul talent.

Hulle bou ook hulle sin nog op iemand anders.

Doen jou ding.

As jy wonder soek jou antwoord in die natuur.

Kyk hoe groei ‘n veldblom van niks en hoe blom hy op sy eie.

Kry jou talent en geniet dit.

‘n NUWE DAG

Sonsopkoms,  dit is ‘n splinternuwe dag wat besig is om te breek oor die horison. ‘n Hele volle 24 ure wat joune is om te maak met dit net wat jy wil. Elke sonsopkoms lyk anders as gister sin. Dit beteken dus ook dat elke dag anders gaan wees as gister.

Het jy dalk gisteraand voor jy gaan slaap jou klere al vir more uitgehaal. Dalk het jy gedink dit gaan ‘n beeldskone mooie dag wees en dan wanneer jy wakker word, is dit ‘n vaal mistroostige dag wat buite op jou wag en jou klerekas moet weer oop gemaak word.

Vandag by ons dink ek is hier meer as opgewondenheid in die lug. ‘n Uitdagende dag vir party.‘n Droom vir ander en vir my is dit ‘n dag wat ek weereens besef hoe “great” dit is dat ons van mekaar verskil. 

Ek het soveel respek vir elkeen wat vandag hier deur die hek twee keer ry.  Hulle gaan skryf hulle in vir die RECCE RACE 2021,  mans en vrouens, as hulle terug kom sien jy hoe die spanning en opgewondenheid deur hulle are bruis. Hulle lyk so anders. Amper soos ‘n bruidegom op sy troudag as die bruid laat is, en sy gedagtes begin te loop. 

Hier is baie groepe inskrywings, van Mountain Bikers wat 420km, oor al hierdie mooi berge en dale van Mpumalanga, binne 56 uur moet voltooi. “Runners” wat van 160km tot 100km hardloop ook oor al hierdie mooi dele van ons. Almal eindig by Dullstroom.

Wat my die meeste beïndruk is dat dit almal se eerste keer is. Almal weet daar wag ‘n groot-groot uitdaging vir hulle.  Van hulle is stok siel alleen, sonder enige ondersteuning. Hulle is so vol adrenalien. 

So is dit met ons ook, almal staan op met hierdie gedagtes in hulle kop van hierdie dag gaan ek dit en dit vermag. My dagboek is vol geskryf met afsprake. Jy kan jou dag al gister beplan het, of twee weke terug. As God se plan anders is as joune, gaan jou dagboek weer oor beplan moet word.

Niemand is in Sy Skoene nie, net Hy en Hy alleen weet hoe jou dag gaan uitdraai. Baie gaan voel hulle het meer as hul doelwitte bereik, ander gaan in sak en as terug gaan huis toe en hulle dag op ander uit haal of oorgee aan die onheil.

Vir baie is dit dalk hulle laaste sonsopkoms wat hulle het, vir ander is dit hul daaglikse stukkie brood waarmee hul die dag begin. Om na die skepping te kyk wat jare gelede geskep is om dag en nag te skei. Hulle voedsel vir die gees. Vir ander beteken dit hulle nagrus het so pas begin veral na ‘n harde nagskof.

Wanneer jy my stuk lees sit die son al ver bo kant jou kop. Stel jou wekker more oggend. Maak vir jou koffie. Gaan soek ‘n plekkie buite waar jy die sonsopkoms kan beleef. Kyk na hoe die lug begin kleur kry. Die natuur om jou begin ontwaak. Wanneer laas het jy met rustigheid die dag ingegaan.

Mag more oggend met die sonsopkoms ons weer laat besef dat ons het so baie om voor dankie te sê.

Dat ons oë alles kan waarneem.  Dat ons ore die natuur kan hoor, en dat ons met ons mond alles kan oorvertel. Dit is naweek.  Wat ook al in hierdie week gebeur het, dit is verby, geniet hierdie laaste ure van die dag. 

Onthou jou wekker, jou koffie en die sonsopkoms more oggend. Kry kos vir jou siel.

Die Recce Race se “crew” het weer terug gekom. So al die manne en vroue is op hulle fietse om hierdie groot doelwit van hulle in 56ure te maak. 

Jy het 24ure, gryp dit aan, jy het twee sonsopkomste om jou binnekant te verryk. 

Geniet elke straal wat op die horison verskyn en maak daardie straal deel van jou dag dat jy ander ook kan warm maak van binne.

Liefde

Ek

MOEDERLIEFDE

Gisteraand gaan tel ek gou my hoendertjies in die hok, want toe dit donker word was ek nie daar om hulle te bêre nie. Donkerte het klaar gekom so ek gaan nie een kry as daar kort nie, want hy het gaan wegkruip. Ek gaan die hok binne, my groottes sit almal op die stokke mooi langs mekaar.

My kuikens sit warm onder mekaar se vlerke ingekruip. My moeder hen wat vier babas het sit op die grond, met al vier haar kroos diep binne haar vlerke, snoesig warm en beskermend.  Moederliefde in hoofletters.

Dit is moederliefde in ons diere lewe. Daardie mamma se trots om haar kroos veilig te hou en te beskerm is baie sterk. Sy sal haar lewe opoffer vir haar kinders.

Moederliefde is ‘n woord met baie betekenisse. Dit is ‘n rol wat God ons gekies het om te speel.

Kinders is ‘n gawe van God, hulle is ons geskenke van Hom.

Ek as moeder moet hulle versorg, omgee, ek moet hulle help in hulle behoeftes, elke dag van elke maand en jaar. Ek moet betrokke by hulle wees. Ek moet help met hulle onderrig, hulle opleiding, ek as mamma moet kan dissipline toe pas. Ek moet hulle aanvaar en onvoorwaardelik lief hê. Ek moet vir hulle deur my gedrag wys hoe om te lewe. Soos kinders groter word verander hulle, maar ek as moeder, se liefde en omgee moet altyd dieselfde bly.

Of daardie lyfies klein is en of hulle al begin plooie kry het, hulle is myne en myne alleen. Daar moet altyd ‘n plek op my skoot wees vir hulle. Ek moet hul “safe haven” wees. Vrees, angs of bangheid moet nie tussen ons staan nie.

Ek as mamma is daar om hulle op te help. Hulle by te staan met die lewenslesse van die lewe.

Dink om jou moeder te verloor as jy jonk is, is erg, want jou steunpilaar, jou mentor, jou liefde is een oomblik nog daar en dan is sy weg. Ook om nie ‘n moeder te kon hê nie, moet jou as mens ‘n ander siening gee oor moederskap. Om misbruik en gebruik te word deur ‘n moeder verander ook jou siening. Of om ‘n moeder te hê maar sy is afwesig.

Daar buite is baie moeders wie se kinders hulle in ouetehuise gesit het. Daar buite is baie kinders wie se ouers hulle afgeskryf het. Beide kante toe is daar seer, vreugdeloosheid, alleenheid, jou hart wat voel of hy uit mekaar geruk word van pyn, woorde wat geslinger was toe elkeen seer gekry het. Baie keer is trots ‘n lelike ding wat rondloop, wat keer dat ‘n mens oor die verlede praat en alles uit sorteer. ‘n Mens dink daar is nog ‘n more om dit reg te maak tot daar nie meer daardie oggend is nie. Wanneer nie eers ‘n blom dit kan reg maak op die kis nie.

Dalk is dit die “memory” van ‘n vorige keer se seer wat keer dat jy vashou om nie te woord te uiter wat binne jou afspeel as jy daaraan dink nie. Wat keer dat woorde soos jammer oor die verlede, kan ons dit vergewe en vergeet en aangaan met hierdie kosbare geleende tyd wat vir ons gegee is. Liefde tussen ‘n moeder en haar kind is kosbaar. Ek as moeder is so feilbaar, elke dag van my lewe. Die feit dat ek ouer is maak my nie slimmer nie. Ek bly ‘n mamma wat ook liefde benodig, wat ook drukke kort, wat ook wil voel sjoe ek beteken iets vir my nageslag.

So die woord moederliefde beteken baie dinge. Iewers tussen hierdie sinne het jy jou dalk raak gelees. Of jou moeder afwesig was in jou jare en of sy te aanwesig was, dat jy voel jy kon in ‘n gat klim as jy net haar stem hoor. ‘n Moeder is ‘n moeder. ‘n Mens kan hul nie verander nie. Hulle is gebore met eienskappe wat hulle maak wie hulle is.

Maak vandag ‘n tyd om jou moeder ‘n boodskap te stuur of as jy kan ‘n koppie koffie saam met haar te gaan drink. Stuur ‘n foto, leer haar om te “video-call”. Maak tyd vir iemand wat eintlik naby hou hart lê.

Gee liefde al word jy verstoot, moenie ophou probeer nie.

Liefde gaan nie ongesiens verby nie.

FEETJIE

Van kleuterjare word stories vertel van feetjies.  In my geestesoog sien ek die skoonheid van een. Sy het die mooiste rok aan. Soos die son haar vang verander die kleure van die rok. Dit is amper of dit deurskynend is. Haar hare is koperrooi met die groenste pare oë. Met net ‘n kuiltjie in haar linker wang.

Die sagtheid wat deur haar oë straal, dring jou binnekant binne. Haar treetjies is amper of haar voetjies net-net die grond raak.

Haar hande is uitgestrek langs haar lyfie. Daar waar sy aan die plante en bome raak lyk dit kompleet of hulle lewe kry. Hulle blare blink in die lig. Al die plante se blommetjies lyk so vars en hulle koppies draai in haar rigting.

Agter haar is daar troepe van bytjies en vlinders wat haar volg. Al wat jy hoor is die gefladder van hulle vlerkies. Almal volg haar want waar sy tot stilstand kom, gaan sy sit op ‘n groot boomstomp met sy mos kombers tussen die varings om haar storie te vertel. ‘n Storie wat almal op die punte van hulle padda stoeltjies laat sit en met ogies wat blink luister hulle na haar storie.

Met alles in haar vertel sy haar storie. Haar groen oë lewe saam met haar lyfie soos sy al die stemme naboots met haar vertelling daarvan. Net soos in storieboeke eindig haar stories elke keer met die mooiste einde.

Daarna gaan almal huis toe met ‘n opgewondenheid wat borrel binne hulle. Hulle kan nie wag om by hulle huisies te kom om die storie oor te vertel nie, net soos sy dit gedoen het.

So is dit in ‘n mens se lewe ook.  Wanneer jy iets belewe wat jou sonder woorde los, kan jy nie wag om dit oor te vertel nie.

Met groot oë vertel jy die storie oor! Jou lyftaal praat saam met jou.

Die storie moes ‘n groot indruk op jou gemaak het. Of dit ‘n boek, of ‘n fliek of ‘n ware gebeurtenis gewees het, jou hele wese skree daarna om uiting te gee oor dit.

Net soos die feetjie se skare gesiggies, sit jou mede-luisternaars ook reg vir hulle storie.

Almal se oë is op jou gerig,  almal word meegesleur soos jy vertel,  geen vrae nie, almal luister net.

Dit is so ‘n lekker gevoel om jou storie oor te vertel.  In die ou ou jare was dit al waarna mense geluister het. Stories wat vertel is van een persoon na die volgende persoon. Ja daar is nou wel stertjies by gelas maar, op die ou einde het die storie die hele wye wêreld ingegaan.

Daar was geen storieboeke,  geen selfone wat boodskappe kon stuur nie,  geen televisie om stories te kon oor dra tot in jou binne huis nie. Nee almal het om ‘n tafel of voor ‘n kaggel gesit en stories is uitgeruil. 

Wat ek wil sê met hierdie stuk wat ek skryf, ons het klein en groot meer tyd gemaak vir mekaar. Want daar was niks anders wat ons aandag vasgehou in die dag of nag nie. Ons kon nie wag vir daardie storietyd in die aande nie. Dit was so deel van ons. Nou kry niemand meer tyd om eers ‘n slaap storie vir hulle kinders te lees as hulle gaan slaap nie,  eerder met hul selfoon in die hand word kinders aan die slaap.

Wat is lekkerder om na ‘n lekker storie te luister of dit gelees word uit ‘n boek, of die vertel word met jou mond en lyftaal. Is dit nie ons werk om weer tyd te maak soos in donkie jare gelede om meer stories te vertel as om meer tyd te spandeer op ons selfone of rekenaars nie.

Dink jy dit is hoekom ons verleer het om te lag, dat die wêreld om ons kan vergaan,  ons sal dit nie eers opmerk as ons more oggend opstaan nie. Ons neuse is in ons tenologie vasgebind.

Gaan haal uit daardie storieboeke wat so diep in jou kas gebêre is, vat vanaand tyd en gaan sit langs jou kind of daardie spesiale mens en lees hard op uit die boek. Geniet die stuk wat gelees word, more aand sal jy sien, daardie spesiale tyd het ‘n fees geword.

Laat die feetjie in jou uitkom.  Gebruik jou lyftaal, jou oë, jou stem, vertel daardie storie met baie passie. 

SOORTE MENSE

Ons is almal uniek geskape deur Hom.  Geen mens op aarde het die reg om af te kyk op iemand anders nie.  Dan praat ek nie eers van hoe jy met mense praat of hoe jy hulle hanteer nie.

Daar word gesê dat vormings jare begin as jou kind klein is.  Soos hulle ouer word,  word dit minder. Tot daar nie meer ‘n verandering in jou kind se persoonlikheid of gedrag kan plaas vind nie, tensy ons almal die hulp van ‘n sielkundige inroep nie.  Jy is die mamma of die pappa,  leiding kom van jou af.

Soos die jare van jou lewe aanstap en jy al ouer word en jy in baie sirkels beweeg, vra jouself af,  is jy daardie persoon oor wie mense mal is oor,  hulle is dankbaar jy is deel van hulle kring, of jy is daardie persoon van wie mense eerder wegdeins. 

Daar is so baie verskillende soorte mense  op aarde. Die beskermer, die dronkaard, die narsis, die versorger, die begaafde, die sportster, die professioneel, die bouer en die bakleier, die bakker, die skelm, die gevangene van jou eie lewe, die weldoener en die geliefde. Die lys kan nog aangaan.

Iewers tussen die mense is jy. Iewers beskryf die naam jou. As jy die woord oplees, wat sal jy kry. Kom ons vat die onbekende soos ‘n narsis.

As ek die woord narsis moet beskryf, sou ek sê dit klink vir my na ‘n vetplantjie. Dalk het die blare dorings, die kleur van die blommetjie sou geel wees. Die beskrywing van ‘n narsis op die webtuiste het my hoendervleis gegee.

My eerste gedagte was wie het hierdie woord geskep.  Wat het gebeur dat dit so beskryf word. Watter impak het dit op ‘n persoon gehad.

‘n Narsis ‘n persoon wat ‘n obsessie met homself het.  Wat geen empatie kan betoon nie en ander se lewe hel maak.  Die emosionele, verbale en fisiese mishandeling wat hulle uitdeel  aan ander raak net meer. Die eie ek floreer, met ‘n groot behoefte aan erkenning en bewondering.  Om ander af te kraak en te verkleineer laat hulle beter oor hulself voel.

Ek wonder of hulle ander mense kan liefhê, want waar die eie ek tel, is dit onmoontlik. Jy is te lief vir jouself. Gewone mense word gemanipuleer en misbruik om hulle doelwitte te bereik. Daardie groot groot magsbeheptheid. Narsiste is altyd reg, hulle woede bars uit hulle nate en hulle toon min of geen berou daarna. So word baie mense om die bos gelei want hulle voel goed, iemand sien hulle raak, maar min besef hulle hulle word net gebruik totdat die taak voldoen is wat hulle moes verrig.

Om so verslaan te word op ‘n daaglikse manier is uitmergelend.

Bly jy stil is dit verkeerd.  Staan jy jou man is jy verkeerd.

Wanneer is ver, ver genoeg?

Wanneer trek jy die streep?

Wanneer verlos jy jouself van so ‘n persoon?

Soos ek hier sit en skryf dink ek aan al die soorte mense wat ek al raak geloop het in my lewe. Hoeveel van hulle my geleer het van ja en nee. Moets en moenies. Hoe ek mense moet hanteer, hoe ek met hulle moet praat, hoe ek hulle oor hulle self moet laat voel.

By almal was daar ‘n les om te leer. ‘n Ware lewensles. Iets wat niemand kan steel by jou nie.

Baie aande as ek in my bed klim en ek die Here dank vir my dag en my genadegawes wonder ek hoe ‘n narsis dit reg kry om met dankbaarheid aan die slaap te raak, want alles en almal is in hulle oë niks werd nie.  Hulle gaan slaap stoksielalleen en staan op stoksielalleen met ‘n koue hart.  Dit voel vir my of dit altyd winter om hulle is. Die mure van hulle harte aanmekaar gegom is van valsheid.

Dan vra ek die Here, hoe kan ‘n mens so liefdeloos en koud leef. Hoekom jaag hulle die eie ek so na. Dink die meeste wat so ‘n persoon aan sy medemens kan gee op ‘n dag is om afwesig te wees. Die stilte word dan waardeer.

Waar jy ook al sit en dit lees wat ek skryf, gaan my hart uit na jou as jy die een is wat deur so ‘n marteling moet gaan en met ‘n narsis moet saam lewe.

Met watter soort mens jy ook al te doen het in jou lewe, iemand wat jy nie verstaan of wat jou menswees ruk, gaan op jou knieë en dra hulle op aan die Here.

Pille vir genesing is daar nie hier op aarde vir mense wat vreugde steel by ander nie.

Net gebed bly oor.

Web-huisie

Wonderlike sonskyn dae na die reën van Bo.  Orals waar jy stap lyk dit of alles lewe gekry het.

Gisteraand het ons ‘n krappie in die pad gekry ver van die rivier.  Kan jy nog onthou wat die oumense vertel het daaroor.  Water is op pad. Riviere vol.

Die naweek het ek ‘n spinnekop gekry wat besig was om sy web-huisie te bou.  Dit was ‘n groot een. Hy het seker gemaak dat sy magie nie sal honger ly nie. As ‘n mens daar sit en kyk, kan ek my verwonder aan hoe hy dit spin. Baie langer ure se werk. Die goggatjies wat vas gevlieg het sit en spartel in sy web. Hy gaan net dood gewoon aan met bou.

So is dit in ons lewe ook. Sonder dat ons eers weet of besef bou ons ook ons web-huisie. Onwetend dat die ons gom waarmee ons dit doen aan ons maat of kinders of familie vasklou.

Wat ek eintlik sê is jou eie huisie is net soos die web-huisie. Die spinnekop sit gom aan dat sy ”kos” moet vas sit en op die ou einde moet opgee om gered te word dat hulle dood gaan.

Hoe bou jy jou huisie,  met liefde.  Met omgee. Gee jy die boodskap aan dat ‘n huisie gevul moet wees van liefde en vertroue en veiligheid. Dat almal welkom is wie ‘n plekkie soek.  Vir elkeen wat gevul moet word met dankbaarheid of geluk of pyn. Daar is vir elkeen ‘n plek.

‘n Ander huisie is soos Hansie en Grietjie sin. So pragtig van buite. Jy kan jou oë nie daarvan af hou nie. Dit trek jou soos ‘n stokkielekker. Jy lek jou lippe af. Maar binne daardie huisie wag ‘n nagmerrie.

Weereens is dit jou keuse om jou huisie te bou dat almal moet weet hulle is welkom 24ure van die dag. Dat hulle nie moet wag op ‘n uitnodiging nie. Dat hulle kan veilig voel in hulle bedjie elke aand. Dat hulle weet hier waar ek nou is tussen die vier mure is my “Safe Haven”. Hier is die mense wat omgee en vir my lief is. Met wie ek alles kan deel.

Dus vat die spinnekop se web, span dit styf om jou. Dat jy die warmte kan voel, maar weet dat daar waar jy styf binne die web sit is jy veilig want jy is ‘n web van liefde, omgee, vrede en geluk. Geen nagmerrie kan jou daar vind nie.

Bou huisies van liefde, nie huisies van verwerping, verskrikking of geweld nie.

KERSVADER/HEMELSE VADER

Nog amper net 40 dae en Kersvader moet weer sy sakke kom aflaai vol bestellings.

Al die aardse bestellings, van klein na groot. Almal begin nou al in opwinding die lyste maak of om dit te begin uitvoer.

Ons raak al so besig met die aardse goed,  dat ons vergeet van ons Koning, Wie se geboortedag amper hier is.

‘n Babatjie, gebore in ‘n stal. Om weer te sterf in my plek.

Met hoeveel dankbaarheid lewe ek? Sien ek al die dinge raak waaroor ek moet jubel en juig? Of kyk ek vas teen die sukkel bestaan van die lewe, teen verraad,  teen haat, teen moord, teen ‘n liefdelose lewe, ek kan aanhou, daar is nog baie.

Al hoe ek deur die trauma van die lewensdae kan gaan,  is om op my knieë te bly.

Om elke dag wakker te word met ‘n lied in my hart. Die mooi van die dag raak te sien en te weet HY is in beheer.

Dat niks wat deur die dag moeilik sal wees nie, want HY is daar om my hand vas te hou of om my te dra, wanneer my voete vassteek. Wanneer my geloof in myself verdwyn.

Om vanaand in die bed aan die slaap te raak met ‘n glimlag op my gesig, want ek het in die dag my fokus verplaas van negatief na positief.  Met ‘n rustigheid om te weet HY was daar, al kan ek HOM nie sien nie. HY is deel van my lewe.

En geen aardse bestelling vir Kersvader kan by HOM kom nie!!

Aardse goed vergaan mettertyd,  maar my KONING bly leef.

LEEF DIE SEISOENE

Lente, lente, lente,  ek dink ons het ‘n seisoen gemis.

Want ewe skielik is dit somer.

Die swaeltjies is hier…..hulle is besig om weer hul huisies reg te begin maak.

Hulle gaan weg, en kom weer terug as die tyd reg is.

Kan ons dit van onsself ook sê?  Elkeen van ons het een of ander al in ons lewens ‘n besluit gemaak om te verander of van werk of van huis of (dalk)  moet ek dit nie noem nie, maar van familie ook.

Jy het genoeg van jou man/vrou gehad en ander weivelde gaan soek of jou maat verloor aan die dood.

As jy die verandering gedoen het, keer jy nie terug na die ou pad nie. 

Nee jy bly net op die nuwe een, of jy sukkel in die begin en eers na ‘n lang ruk dink jy het jouself in die voet geskiet met jou besluit, maar tog hou jy nog steeds aan met stap vorentoe.

Baie keer nadat ‘n mens in ‘n situasie was, dink jy eers daarna, moes jy dit nie anders hanteer het nie.

Mense wat ek voor respek het, en ‘n plek in my lewe het, sal my verskoning dan aanhoor, of hulle dit aanvaar of nie, dit is hulle besluit. Tog loop ons nie dieselfde pad as die swaeltjies nie.  Hulle lyk so opgewonde om weer alles wat bekend is, weer om hulle te voel en te ervaar.

Ons kyk eerder ander pad, en ons harte het op ‘n manier daardie huppel verloor. 

Iemand het Vrydag oor die radio gepraat oor kommunikasie, ons weet nie wat in ‘n ander persoon se kop aan gaan nie.

Ons moet ons ophou verbeel wat hulle dink. Sonder ‘n gesprek weet ek nie hoekom tree jy op soos jy optree nie. Doen jy dit uit wanhoop, of woede, of bitterheid, of alleenheid, of verwerping, of voel jy net jy hoef dit met niemand te bespreek nie of het jy net besluit ek is nie meer lus om te wees wie almal dink ek is nie. Dit is jou besigheid en geen mens het ‘n antwoord daarop nie, want hy/sy loop nie in jou spore nie.

Maar as gevolg van jou onttrekking en jou stilte, voel die mense na aan jou dat hulle jou seer gemaak het, want hoekom bespreek jy dit nie. 

Hierdie jaar het mense op my pad gekom, sonder dat ek eers gedink het hulle sou uitreik na my.

Hulle het elkeen op hulle manier verstaan waardeur ek gaan. Ek hoef nie eers my hart uit te gepraat het nie. Dit was of hulle dwarsdeur my kop en hart kon kyk, en net met ‘n druk of oogkontak of ‘n glimlag woorde kon wissel.

Partykeer kan ‘n mens in stilte ook daar wees, en partykeer is dit baie meer werd as woorde.

Ek dink dit is hoekom ‘n persoon se empatie wat blind of doof is anders is.

Want net met gebare of gevoel kan jy jou uitdruk. 

Dieselfde kan ek sê van iemand se  “body language”. Dit is iets wat jou laat vou soos nou.

Geen woord kan gespreek word nie, maar net die houding kan jou laat uitmekaar val. Jou minderwaardig laat voel en jou selfbeeld ‘n knou gee.

Soos watter een van almal hierbo is jy, om jouself te onttrek, of laat jy toe dat jou “body language” mense vou of laat jou besluite en keuse die mens word wie jy is.  Daarmee mis ons elkeen ook vir lente, ons gaan sommer dadelik na somer toe.

Want die antwoord is: om oop te maak en jou binneste te deel met iemand wat jou binneste ken of met ons Vader wat jou geskep het.  By elkeen van bogenoemde gaan jy ‘n ander antwoord kry of jy gaan moet wag om op Sy tyd jou antwoord te kry.

Ek weet hoe dit voel om jare te wag vir ‘n antwoord. Dit dryf jou teen die dak uit. Die mense wat weet gee soveel antwoorde maar al die blokkies van die legkaart sukkel om in te pas. Die hoekies bly uit pas, krom en skewe kante wil nie pas nie. Die wat weet swyg soos die graf. Dit vat aan my hart.

Dan wens ek ek is soos ‘n swaeltjie. Jy bly hier vir ‘n ruk, pak nie eers jou goed op een oggend nie. Nee, jy vat jou vlerke en vlieg net weg. Al wat jy agter laat is grond op iemand se voorstoep met jou leë nes as bewys dat jy wel daar was die somer. Hoe verder jy vlieg hoe ligter word jou gemoed.

Volgende jaar kom jy weer terug na jou ou bestemming waar daar mense is wat bly is om jou weer te sien of ander wat jou nes stukkend geslaan het in jou afwesigheid. Ten minste weet jy waar jy staan met hulle. 

Partykeer sluit jy jouself so erg toe dat jy nie eers die somer sien nie, jy leef dwarsdeur die ander seisoene, voor jy jou kon kry is dit weer lente. Antwoorde is nog steeds ‘n blanko lyn. Daar staan net vraagtekens met hartseer gesiggies.

Die slim mense sê deel met dit,  sit die agter jou en gaan aan. Immigreer bietjie na ‘n ander land toe.

Daar is ook water en kos en ‘n plek om ‘n tuiste weer te vind. Maar die hoofsaak van alles is, jou verlede stap ‘n pad saam met jou. Daardie legkaart wat se stukke nie wil pas nie, se antwoord is nie omdat jy dom is nie, of daar stukkies kort nie,  dit is net nog nie die regte tyd dat die legkaart inmekaar moet skuif nie.

Geniet jou rit as ‘n swaeltjie, vlieg, sien die wye wêreld, deur jou oë en deur ander se oë. Behou die goeie, gooi die sleg weg. Maklik gesê nè. Na ‘n ruk sal jy weer oppad terug wees na alles wat bekend vir jou is.  Tyd heel alles. Leef Lente, Leef Somer, Leef Herfs en Leef Winter, Leef die volle jy uit elke minuut van die dag. Sprei jou vlerke swaeltjiekind.