WARMTE

WARMTE

Daar is so baie soorte warmtes wat ‘n mens beleef in jou lewe.

Om langs ‘n vuur te sit en kuier is romanties.
Die vuur tonge wat met jou praat. Die hout wat rooi warm is en van soorte rooi verander soos dit brand. Dit maak jou rustig.

Die warmte van jou dier wat styf teen jou lê. Sy asemhaling wat jy hoor en sy lyfie sien op en af gaan. Daar is niks soos daardie onvoorwaardelike liefde van hulle nie.

Warmte wat boemelaars kry van koerantpapier waaronder hulle slaap in die aande wat hul beskerm teen die koue.

Warmte wat ‘n maat vir jou gee as jy vanaand styf in sy arms kruip. Daardie warmte wat jou beskerm teen die koue van die wreedheid van die wêreld.

Daardie warmte wat jou hart binne vloei as jy na jou boerdery kyk en die skape met hul mooiste lammers op die groei weiding sien wei. Jou hart wat swel van trots.

Daardie warmte wat jy binne jou voel vir 9 maande en dan jou hele lewe vol maak wanneer daardie bondeltjie die wêreld binnekom.

Die warmte wat wys van jou nek boontoe wanneer jy bloos. Dit bly een van die onbeskryflike mooiheid. Dit is altyd vir my ‘n teken van wat binne ‘n mens aangaan op daardie oomblik. Om te bloos beteken jy is ‘n “fake” nie.

Dan natuurlik daardie diep warmte wat liefde in jou bring. Jou are wat klop vol warm rooi bloed.

Die woord warmte beteken baie meer as wat ek en jy net kan dink.

Waar jy ook al is vandag.
Deel jou warmte uit wat van binne jou kom.
Dat almal jou hart kan voel en sien.
Baie se warmte kom deur hul oë.
Daar kom warmte deur aanraking. Daar kom warmte deur net daar te wees.
Of net te luister.

Ons almal is mense, ons hunker na warmte elke dag van ons lewe. Maak nie saak waar jy bly nie. Op die ewenaar, in die suidpool.

Daar waar jy is, en jy ontvang vandag warmte is jy een gelukkige mensie.

Dit is een van die kosbaarste gevoelings wat jy kan beleef.

WARMTE

Vroegoggend kan jy die knyp van die winter voel. En as die sonnetjie begin sak, trek jy weer jou warm baadjie nader.
Die wind is besig buite tussen die bome en die gekleurde blare val grond toe. En dit lyk soos konfetti wat die mooiste prentjie onder die bome maak.
Die velddiertjies weet hulle moet vroeg middag hulle warm huisies opsoek, want as die donker hul oorval, loop die koue daarmee saam.

Hoe gelukkig is ek en jy om vanaand by ‘n warm huis te kom. Jou styf toe te maak met komberse en te weet moreoggend is jy reg vir nog ‘n dag in die koue. Gepantser teen die koue. Al is jy warm aangetrek kan jou binneste nogsteeds koud wees. Net so kan jou binneste ook warm wees, of deur drank/dwelms of deur daardie wonderlike gevoel van liefde en vreugde wat deur jou are vloei. Dit is soos naakte lywe teen mekaar. Mense hitte kom nie by ‘n kombers of ‘n aircon nie.

Wat wil ek eintlik sê: dat warmte/koudheid deur ‘n mens loop. En dit is wat jy deurgee na mense. ‘n Huis kan sonder ‘n kaggel wees, maar as mense se warmte nie aanvoelbaar en sigbaar is nie, sal jy baie houte moet oppak om die vertrek warm te maak. Soos ‘n glimlag of ‘n druk of ‘n oogknip. Dit alles maak dat jy goed voel en daardie hoendervleis wat jy voel as iemand hard praat of baklei, verdwyn soos mis. Daar kom ander energie deur. Voelbare energie. En nie een keer praat ek hier van warmte wat jy in jou binneste kry deur ‘n warm drankie nie. Nee, ek praat van warmte wat mense aan mense gee.

Of dit ‘n kombers of ‘n bord kos of ‘n kledingstuk is wat jy aan ‘n boemelaar of iemand wat dit benodig gee, daar is ‘n smile op haar/sy gesig en vir ‘n breuk van ‘n sekonde het hy/sy vergeet van die koue waarin hy/sy leef.
Nes ‘n dier, wanneer jy met rustigheid met een praat, waai sy stert want hy/sy kan aanvoel jy gee regtig aandag.

Groot of klein, oud of jonk, mens of dier, ons almal reageer op warmte. Enige manier van warmte. In hierdie wintertyd wat voorlê laat jou warmte uit jou vloei, dit kos jou niks. En maak die winter ‘n ander kleur as grys, wit en swart, verander die kleure na helder rooi, groen en orange kleure.
Soos die blare wat besig is om te verkleur.

KLEUR DIE LEWE IN MET WARMTE. WARMTE WAT JY UITSTRAAL NA BUITE.