LEWE

Sondagoggend het ek opgestaan. ‘n Nuwe dag was hier om dit ten volle aan te gryp. Met die bak wat vir my hoendertjies gevul was vol kos het ek opgeloop na hulle. Hulle was te bly om lekker kossies te kry. Die klein kuikens het erg lawaai dat ek hulle moet oop maak dat hulle net bietjie hulle bene kan rek voordat ek hulle weer moes toe maak as gevolg van die valke wat hulle vang. 

Op pad terug huis toe het ek die honde gesien oor iets staan. My seuntjie hoendertjie wat altyd op my skoot kom kuier het onder hulle gelê, ek het met my diepste stem geskree. My bene kon my nie vinnig genoeg tot by hom dra nie. Ek het hom opgetel. Hy het nog gelewe. Maar hy was nie lekker nie. Ek het hom op my skoot getel. Hom mooi bekyk waar het hy seer gekry. My hart het in my kas geklop. As dit maar net een van die ander was dan was die seer nie so seer wat ek in my hart gevoel het nie. Stadig maar seker het hy sy koppie opgetel. Ek het hom kom neersit by my op die bank op die stoep. Ek het hom toegegooi met ‘n warm serp. So nou en dan het ek vir hom laat water drink.  Die aand toe ek hom terug vat na die hok wat hy nog nie homself nie. Maar ten minste bietjie beter. Die volgende dag het hy beter gelyk, die derde dag was hy aan die gang maar nie die hoendertjie van ouds nie. Hy het skuil meer onder die voertuie en stap nie saam met die ander hoenders nie.

Om ons is alles dood, bo die grond is die gras verbleik, die grasse het hulle dooie kleur, maar onder die grond lewe hulle. Ons kan dit nie sien nie, maar hulle is nog hulle ou self. Die ryp en koue het die gras wat bo is net skade aangedoen, en dit verniel.

Hoeveel keer is dit nie so met die mens ook nie. Ons buite kant lyk opgebruik, lyk of ons paaie geloop het wat vol sinkplaat was. Al die plooie en kreukels op ons gesigte en hande maak dat mense twee keer na ons kyk. Jy kan amper dit in hulle oë en lyftaal beleef. Maar hul weet nie ten spyte van hoe ek lyk wat was my groei in my binne kant nie. Dat al die plooie en kreukels my met ‘n wenpad gelos het nie. Dat sonder dit het ek nie geestelik gegroei in my lewe nie. Sonder dit was ek nie die mens wat ek vandag is nie.

Dan kan ek weer die selfde sê van mense wat met seer en pyn geleef het elke dag van hulle lewe. Nie ‘n pil of behandeling het dit weg gevat nie. Nie ‘n glimlag of ‘n verrassing het dit verminder nie.

Nee dit was daar dag en nag, 24/7. As ons Vader dan besluit om hulle te kom haal is dit ‘n splinter nuwe lewe vir hulle daar waar hulle aan Sy voete is. Hulle is genees van alles. Hulle kan dan weer hulle self wees. Hulle kan loop, hulle kan sien, hulle pyn en lyding is vir altyd verby.

Of dit my hoendertjie is was seer gekry het en ek nie kan sien waar dit is nie, of dit die gras is wat duidelik winter belewe, of dit ek is wat olies moet aansmeer vir al my plooie en kreukels en of dit iemand is wat ten volle kan lewe as ons Vader hulle kom haal het. Almal van ons het daardie deeltjie wat net hy of sy van bewus is. Wat niemand anders van weet nie. Dit is amper soos dag en nag. As jou dag omgeruil is en dit voel soos nag.

Ek weet nie wie en wat jy is nie. Maar iewers is jy ook daar buite. Ek het hierdie laaste paar weke geleer dat ‘n mens nie alleen is met wat jy ook al veg in jou lewe nie. Mense bid vir jou, waarvan jy nie eers bewus is van nie, jy kry ‘n boodskap van iemand wat jy nie ken of per toegeval raak lees of hoor. Ons verloor partykeer ons spore, want ons wil alles self doen.

Gee oor, raak rustig en sien raak wat jy mis. Vat iemand se hand en bid saam. Daardie innerlik krag wat gebed gee kan berge versit. Harte sag maak. Vergifnis bekom. Gee liefde. Maak vrede. Sê ek is lief vir jou.  Voor dat dit te laat is. Vir ewig.

ONDERHOUD

My woord onderhoud kan weereens baie dinge beteken.  Ek as pa van my kinders moet onderhoud betaal elke maand want ek is geskei en dit is my reëling soos ek ooreengekom het.  Die kar se onderhoud kos my maandeliks baie, dink tog ek moet eerder na ‘n nuwer model soek. Ek het my onderhoud gehad vir ‘n pos waarvoor ek aansoek gehou het.

So baie keer in ‘n mens se lewe kom ‘n mens op daardie deel van jou pad waar jy voel in jou huidige werk kort jy  ‘n nuwe uitdaging of jou word verplig om te verhuis of as gevolg van aflegging moet jy weer die soektog begin na ‘n werksgeleentheid. 

In vandag se eeu is dit seker een van die moeilikste goed om te doen.  As jy dadelik uit jou huidige werk na ‘n volgende een kan skuif is daar geen foute nie.  Maar om van nuut af te begin is heeltemal ‘n ander storie.  Dit is amper of jy jouself moet bewys. Die ergste is dat jy in jouself begin twyfel.

Jy moet soort van jouself verkoop aan die mense met wie jy ‘n onderhoud het. Ek verstaan dat in vandag se tyd mense hul besighede beskerm met alles wat hulle het.  Dit is nie soos in die verlede wat jy sommer net iewers kon instap en ‘n werk kry nie. Nou is dit ‘n kwessie van wat jy kan bied vir jou nuwe pos. Is jy in staat om saam met die groep te groei na hul doelwitte. Sien jy die geleentheid om maar net nog ‘n werk te hê. Waar wil jy wees in 5 jaar. Hoe hanteer jy stres. Speel jou persoonlike lewe ‘n belangrike rol in die werk. Kan jy die twee skei van mekaar. Wat kan ek as persoon die besigheid bied, hoekom moet hulle my ‘n geleentheid gee.

My siening nog al die jare is, dit wat jy  insit in ‘n besigheid bring nie net vir die besigheid meer kliënte nie, maar dit bevoordeel jou ook. Kliënte diens is een van die belangrikste dele van ‘n besigheid. Sonder kliënte het jy nie ‘n inkomste nie. Die besigheid gaan agteruit.

Waar jy ook al in die besigheid lyn is, jy is deel van ‘n ketting waarom alles draai. Net een skakel wat nie werk nie en alles kom tot stilstand. Moenie mense aan ‘n lyntjie hou as jy werklik nie deel van hulle span wil wees nie. As jy maar net nog ‘n salaris wil verdien nie. Jy staan in die pad van iemand anders wat met hul hart werk wil aanvaar en met trots oor ‘n paar maande wil sê, wow “I made it”.

Ek het hard gewerk, ek het alles gegee wat van my verwag was, ek het vordering gemaak omdat ek in myself geglo het. As jou kop reg is, is dit moeilik om te misluk. Jou dryfkrag is net te baie. Kennis wat jy opdoen kan niemand by jou steel nie. Kennis is mag. Wees eerlik, mense moet jou vertrou, nie kan vertrou nie, daar is ‘n verskil. Behandel almal om jou soos jy behandel wil word. Sonder ‘n span is daar nie ‘n besigheid nie.

Laat die lig oor elkeen skyn, in ‘n span het elkeen sy/haar eie uniekheid of talent of geleerdheid. Moenie in daardie persoon se pad staan om sy lig te laat verdof nie. Dit is hoekom jy deel is van die span want elkeen moet sy/haar eie plek volstaan en as gevolg van dit val die wiele nie af nie. In teendeel die besigheid floreer uit sy nate uit.

So my raad aan elkeen in die lewe, pas jou kennis op, deel jou kennis, ons is een groot span op aarde ten spyte van ons verskille en ras. Wat het jy om te verloor, span saam met waar jy ook al is, lewe vorentoe, verlede is agter ons. Mag elkeen ‘n werk kry wat opsoek is na daardie een pos, en mag elkeen wat in ‘n pos is sy/hare, die beste na hulle vermoeë doen met ‘n glimlag in hul harte.

KONFYT

“Vreugde is soos konfyt: jy kan dit nie versprei sonder om ‘n bietjie op jouself te kry nie.”

                                                         Barbara Johnson

Is hierdie sin nie waar nie. Die brood wat uitgehaal uit die oond. Dit is warm, die geure trek die hele huis deur. Die broodmes word uitgehaal en die snye word gesny. Lekker dik, die botter word opgesmeer. Dit trek so vinnig en diep in die brood. In die spens staan jy rond en bekyk al die konfyte van groot bottels na die kleintjies. Al die soorte. Vye, perske, aarbei, druiwe en appelkoos. Op die ou einde word die sny brood in dele gesny met ‘n lepeltjie van elkeen op. Want in werklikheid weet jy nie watter een is die lekkerste nie. Met hierdie proses loop jy die risiko dat iewers van die konfyt op jou vingers sou beland het. Lekker taai, maar so lekker om dit af te lek. Koningskos.

Terwyl jy sit en die lekkerte op jou tong laat rol, is daar ‘n glimlag op jou gesig. In jou gedagtes sien jy al die harde werk wat hiermee gepaard gaan. Vrugte word gepluk in die boord, al die potte word nader geskuif, resepteboeke word gelees, dan begin die skil van die vrugte, suiker, water, sout en al die bestanddele word gemeng. Mengsel word oornag laat staan met die groot kokery die volgende dag.   

Die dag van groot dinge breek aan, al wat ‘n potjie is word nader getrek. Na baie ure en harde werk staan jy agteruit en bewonder jou daad van die dag. Diep binne jou weet jy dat die winkel se konfyt nie naby jou konfyt kom nie. Dit is so ‘n lekker gevoel om te weet dat daar waar elke botteltjie oop gemaak gaan word, ‘n stukkie van jou sal daar wees. Hoe anders kan ‘n mens se hart nie as om warm te klop nie. 

Ek het nog nooit konfyt geëet wat daar nie ‘n lekseltjie op my hand agter gebly het nie. Taai is nie die woord nie, maar die lekkerte wat jy proe as jy dit aflek is wonders. Dit is presies dieselfde met ‘n mens. As jou binneste uit sy nate bars van liefde en vreugde sal almal om jou deel wees van dit. Dit versprei saam met die wind na almal om jou. Die geure wat die konfyt gee maak ander mense honger daarna. Jy kan die hunkering in hulle oë sien. Hulle oë is leeg, geen glimlagte om hulle monde nie, net die harde lyne van plooie. Dan besef ‘n mens ‘n lewe sonder vreugde maak sy afdruk op jou gestel en jou liggaam. Daar is geen lewe nie, die persoon haal net asem.

Waar jy vandag dalk sit en konfyt op ‘n broodjie smeer, dink aan hoe maklik konfyt aan jou vinger kan kom en met daardie selfde gedagte sal jy weet hoe om jou vreugde met ander te deel.

Konfyt is taai, so jou vreugde wat jy gaan uitdeel sal klou soos konfyt, dalk nie ‘n mooi prentjie nie, maar beslis iets om te onthou.

TYD

Wanneer laas het jy iets gehad om te vier waar jy moes gaan sit en papier vat om alles neer te skryf wat jy gaan benodig vir die viering, wie jy gaan nooi, wat jou spyskaart gaan wees of waar jy dit gaan hou.

Dit is nogal ‘n taak en ‘n half. Veral as jy dit self gaan doen of beplan. Vandag is daar so baie “party-planners” dat mense eerder hul tyd op iets ander spandeer. Hulle haal geld uit en betaal eerder ‘n persoon om dit vir hulle te doen. Jy het die opdragte of instruksies gegee, so nou staan jy agteruit en wag vir die eindresultaat. 

So kom die dag al nader wat die viering gaan gebeur. Jy konsulteer weer met die beplanner en alles is op datum soos dit moet gebeur. Jy is rustig want wat kan verkeerd gaan met die dag. 

So verskil ons van mekaar, ek sal die dag self wil beplan en tot uitvoer wil bring. Ek sal my stempel wil afdruk dat die persoon vir ek die dag beplan moet weet hy/sy is kosbaar vir my. Om net die tyd te vat en iemand se dag spesiaal te maak, is wat baie tel in die lewe. Tyd stap so vinnig dat dit is dalk jou laaste kans is om so ‘n dag te reël. Ander sal weer die teenoorgestelde sê. 

In vandag se lewe is alles so maklik. Jy klim op die rekenaar en “Google” na wat jy soek of beplan. Jy stuur ‘n epos en jy ontvang ‘n antwoord. Jy “Skype”. Tegnologie maak alles so maklik. Jy hoef nie eers op te staan of iewers heen te ry nie. Kuier saam met familie of vriende word so deur die tegnologie gedoen. Weereens verloor ons daardie spesiale tye wat ons kort in die lewe. Om deel van iets of iemand te wees. Om saam in ‘n voertuig te klim en dit ‘n uitstappie te maak wat jy wou bestel deur ‘n epos. Of om te gaan kuier eerder as om te “Skype”. Ons verloor mekaar in hierdie tye. Die antwoord is ons sal more en wanneer gebeur hierdie more,  antwoord daarop is glad nie. Nooit nie.

As jy nie regtig moeite doen met daardie spesiale mense in jou lewe nie, waar is jou tyd saam met jou Hemelse Vader. Lê jou Bybel net langs jou bed as iemand per ongeluk in jou kamer kom sien hulle die Bybel darem raak.Tyd bestaan nie uit sekondes of minute of dae of maande nie. Tyd is nou. Hierdie oomblik.

Gebruik tyd reg, moenie iemand betaal om jou tyd te vat nie. Jy kry ook nie tyd terug nie. As dit verby is, is dit verby.

Geniet jou tyd saam met al jou spesiale mense en met die belangrikste persoon, ons Hemelse Vader.

DIE LANG PAD

Vandag nooi ek jou uit om saam met my te kuier al waar ons gaan ry. Ek het ‘n piekniek mandjie gepak en die lang pad is ons sin. Waar die wiele ons ook al vat. Bosveld toe om tussen die groot vyf te kuier. Om ‘n warm fles koffie/tee of “ hot chocolate”  te drink. Ons te verkyk aan hoe statig hulle is.

Ons laat die Bosveld agter en ry al kuier met die lang pad na die Noord-Kaap.

Van bosse en gras groen bome tot hier waar daar net kaal vlaktes lê. Rooi sand wat kilometers ver strek. Jy ruik die droogte. Die kaalheid van die veld laat jou dink aan ‘n riller storie. Nie ‘n plek waar jy wil gevang word in die donkerte nie. Eensaamheid en koudheid loop daarmee saam.

Al verder op sekere tye van die jaar lyk dit soos lente. Een blom op ‘n ander blom. Weereens besef jy hoe magtig is God. Orals waar ons nou al gery het is Sy Hand daar. Van die gras groen Bosveld, verby die naakte aarde tot hier waar alles in die mooiste kleure is sonder enige mense hulp.

Al met die kus langs beleef jy die ou wrakke in die see langs die strande. As jy langs so ‘n wrak sit kan jy die gille en benoudheid hoor van die matrose hoe angsbevange hul jare gelede was. Want die dood was op hulle.

Ons mooiste baken, Tafelberg lê en wag vir jou met sy mistigheid om sy kop. As hy die dag pen en papier vat en sy storie skryf sal daar baie soorte wees. Hartseer, romanse, oorlog, verdeeldheid, slawerny, siektes en so kan die lys aangaan.

Al langs die kus op, is ons boomryke aarde so mooi. Knysna se olifante, die mooiste tuin roete.

Skulpies in Jeffreysbaai. Dan kom ons by Port Elizabeth. Ons land se stad wat saam met ander sukkel met water. Baie plekke het reën al geval. Baie plekke het in maande of jare nie ‘n druppel gesien nie.

Net soos ek ons aarde en sy plekke beskryf is dit in ons mense lewens ook. Ons leef in styl en oorvloed. Ons het die kragtigste voertuie. Ons “gym” dat ons spiere bult. Ander lewe fisies van broodkrummels. Elke aand gaan slaap hul met dalk iets in hul maag. Daar kan baie redes voor wees. Baie kan as gevolg van siekte nie self eet nie. Buis voeding is al wat oorbly. Dan kry jy die wat vry leef van die wêreld. Hulle is op hul branderplanke en ry elke golf soos hy hom kry. 

Teen die einde van ons lang pad het ons dalk ‘n bietjie geleer van die lewe en ons self. Dat alles nie net maanskyn en rose orals is nie. Party plekke het deursettingsvermoë gevat om daardie deel te stap. Ander het die mooiste bekoring ingehou. Ander plekke het ‘n mens aan die dink gesit. Ander plekke het jou siel vasgehou.

Dankie dat jy saam met my die lang pad gery het.  Watter pad jy ry, maak die beste van hom.

Die Here gee uitkoms, as jy grond pad ry.  Hy gee seëninge wanneer jy dit nie verwag nie.  Hy laat drome waarheid word.  Hy bring genesing aan siekte en brose harte. Hy maak jou toe met Sy Hande vir hitte en beskerming. Persoonlik dink ek dit is een van die lekkerste paaie  om saam met Hom te stap elke dag van jou lewe.

STEUNPILAAR

‘n Steunpilaar, ‘n woord met baie betekenisse. Daar is baie woorde wat ons min gebruik in die lewe of wat oor ons lippe kon. Sit vir ‘n oomblik stil en dink, en daar sal baie by jou opkom. Ons lewe in ‘n lewe wat ons geleer het om in afkortings te praat en nie net te skryf nie. Dit is nie van ons besige lewe nie, nee dit is omdat ons in ‘n groef verval het want almal doen dit, as ek dit nie ook doen nie, dan beteken dit ek is agter in die lewe.

‘n Steunpilaar, is ‘n woord wat baie betekenisse het. Die gebou kan nie reg op staan as daar nie ‘n steunpilaar gebou is wat dit gaan ondersteun nie. Jan of Hermien was vir my ‘n steunpilaar toe my moeder baie siek geword het en hulle kon help om haar te versorg in my afwesigheid. Met God as jou steunpilaar.

Dan kom daardie dag wat iemand uit die bloute jou hulp nodig het, juis die dag wat jy voel jy is in die donkerste gat en jy wag vir die klonte om van bo op jou kop te val om jou te begrawe. Die Here se plan was dalk daardie spesifieke dag om jou te leer dat daar ander is wat jou moet gebruik vir ‘n steunpilaar. Jy moet die leer vat en uit jou gat klim om iemand by te staan, jy moet vergeet van jou probleme. Jou fokus word verskuif en onmiddellik swaai jou gedagtes na ‘n ander kant. ‘n Positiewe kant.

Vir ‘n uur of langer is daar iemand wat belangriker as jy is. Iemand wat dalk sy lewe sou verloor as jy nie gehelp het nie. Iemand het dalk net jou gebed nodig gehad want dit het gevoel of sy gebede net tot teen die dak gaan en nie hoër nie. Dit hoef nie net ‘n mens te gewees het wat jou hulp benodig nie, dit kan ‘n dier ook wees. Jou eie bloed familie het jou dalk meer nodig as wat jy besef. Partykeer besef ‘n mens nie self watter steunpilaar jy vir mense om jou is nie. Want jy is donker in die binne kant van jou.

Na hierdie daad dink ek kan daar beslis nie ‘n moontlikheid wees dat jy nog steeds in jou selfde gat as vanoggend is nie. Om te besef dat ander se situasies dalk groter as myne is. Dat hulle omstandighede so erg is dat ek my kop in ‘n gat kan druk van skaamte. Klop jou hart nie vinniger nie. Voel jy goed binne in jou dat jy op die regte plek was. Is dit nie vir jou ‘n goeie bewys dat jou lewe hier op aarde baie belangrik is om in ‘n gat te wees nie.

Dink weer oor die woord steunpilaar. Vir hoeveel mense is jy ‘n oor, ‘n druk, ‘n afpak, ‘n vriend, stilte wat party nodig het. Hoeveel mense is daar vir jou, alles in die lewe werk beide kante toe. Dit is ‘n gee en neem.

“If you want to lift yourself up. LIft up someone else.”

Booker T Washington

Mag jou diep gat waarin jy jouself bevind, vinnig ‘n leer kry want daar is regtig ander wat jou nodig het in die lewe.